Ore toedruk

As klein kindertjies het ons dit baie gedoen: Ons ore toegedruk en mense gekoggel. Ons wil dus ons sê sê, maar nie hoor wat die ander persoon sê nie. Dis gedrag wat pas by klein kindertjies, maar nie van volwassenes verwag word nie.

Tog doen ons as volwassenes dit steeds, maar op ‘n meer subtiele manier, of dalk ook nie so subtiel nie. Ons doen dit ook met God.

Ek is geleer dat as ons Bybel lees, praat God met ons, en as ons bid, praat ons met God. Ja, gebed is ‘n tweerigtinggesprek en jou gebed kan ook ‘n ‘kuier’ met God wees waar jy met Hom praat en jy luister en Hy jou antwoord. As jy egter altyd net bid, en nooit Bybel lees nie, is dit soos daardie kindjie wat sy ore toedruk en praat en praat en praat. Jy wil jóú sê sê, maar wil nie luister wat God vir jou wil sê nie. (Ek praat nou nie van deur die dag kommunikeer met God, of ‘n skietgebedjie hier en daar nie.)

Tipiese voorbeelde waaraan ek nou kan dink, is dat jy in ‘n sleg gesprek met iemand is. Jy wil jou steke steek, jou mond uitspoel, die ander persoon beledig, maar nadat jy jou prate gepraat het, glip jy weg en gee nie die ander persoon die geleentheid om ook te praat nie.

Of jy blok die persoon op jou whattsapp. Jou bytende boodskappe gaan deur, maar die ander persoon kan nie goeie, of slegte boodskappe deurstuur nie. Jy besluit eintlik by voorbaat dat die ander persoon jou gaan terugkap, terwyl hy dalk nie eers van plan is om dit te doen nie! Terwyl die ander persoon hom alreeds onttrek het van die gesprek!

Kommunikasie is ‘n kuns en dit werk nie altyd soos die slim mense sê nie. Tog kan dit aangeleer word en kan dit verbeter en verdiep soos ons ouer raak. Ons kan meer volwasse raak in ons kommunikasiemaniere. Dis te sê, as ons wil.

Of ons kan besluit om klein te bly wat kommunikasie aanbetref, ons skerp tonge te gebruik en ons ore toe te druk, nes klein kindertjies. Pê wê, wê wê wê.

Groetnis

Toortsie

10 thoughts on “Ore toedruk

  1. Kommunikasie is regtig nie my ding nie. Daar is geen wag wat wil bly staan voor my mond nie. Daarom verkies ek oor die algemeen om net te luister. Ek is te geneig om die verkeerde ding te se.

    Like

Gesels saam, asseblief!