Kan ‘n mens eierdoppe eet?

Hier volg weer ‘n paar Google navrae:

Ma van die bruid se betrokkenheid‘. Smaak verskil en dinge verander. Baie bruide en hulle ma’s verkies deesdae dat die bruid die troue reël en die ma nie baie betrokke is nie. Al wat ek weet, is dat ek baie dankbaar is dat my dogter my toegelaat het om nog ‘n outydse ma te wees en op die outydse manier betrokke te wees. Saam het ons trourok aangepas, materiaal uitgesoek, vlaggies gemaak, die spyseniers gesien, ons twee het selfs die stoor se vloer gewas toe die tyd begin uitloop en die nood hoog was. Dit was vir my verskriklik lekker.

Kan ek eierdoppe fynmaak en eet vir kalsiumaanvulling?’ O gits! Ek weet nie! Ek kan darem nie dink dat ‘n mens dit kan doen nie, wat dink julle? Suiwel is natuurlik ‘n ideale kalsiumbron, lekker kaas, en joghurt, room, en ook melk, maar eierdoppe? Ons het altyd skulpgruis vir ons hoenders gegee dat hulle eierdoppe sterker is, anders kan dit baie sag raak. My skoonma het eierdoppe in die oond gedruk of iets, en weer vir die hoenders gegooi. Ek kan nou nog die gebrande reuk van die doppe onthou. ‘n Mens moenie die rou doppe vir die hoenders gooi nie, dan begin hulle pik aan die eiers wat hulle pas gelê het. En dan gooi ek natuurlik die eierdoppe saam met al die ander skille onder die bome met kompos in gedagte. My dogter sê dit lyk nie so mooi nie, en ja, ek stem saam, maar intussen verbeter die grond daardeur en hopelik hou dit die slakke weg, maar ek twyfel! Dalk moet ek eierdoppe onder die spinasieplante gooi vir die slakke! En net dalkies neem een van die plante dalk ‘n biejie van die kalsium op en kry ek dit weer in saam met een of ander ding, soos broccoli, maar ek dink eintlik ek vat nou ‘n VET kans. Maar eierdoppe eet? Ek dink nie so nie!

Skryf die dag se gebeure en gevoelens neer.’ Sou dit ‘n opstelonderwerp wees? Hoekom sal iemand dít google? ‘n Mens kan mos net jou eie gevoelens en gebeure neerskryf, nie ‘n ander een s’n nie, of het ek ou weer die kat aan die stert beet?

Nuutste verslankingsmiddele.’ Nee, ek weet nie wat die nuutstes op die mark is nie, ek weet maar net van Banting.

Waar kan mens Bantingboeke koop? 😂 By my, natuurlik! Bestel dit sommer by Bidorbuy en ek stuur dit vir jou. Maklik!

Mooi loop!

Toortsie

9 thoughts on “Kan ‘n mens eierdoppe eet?

  1. Hel, kan ek nie liewer ‘n paar kalsiumpille sluk nie? Ek is darem nou nie ‘n hoender nie. Haha. Ek moet jou hierdie soekterm wys wat ek deesdae aanmekaar kry, maar ek sal dit liewer w/a. Niks snaaks of vulgers nie, net vreemd.

    Liked by 1 person

  2. Ek verheerlik my in my enigste mooiste meisiekind se troureëlings. Dis pure opgewondenheid! Ek meng nie in nie; het nog nooit, maar ek word betrek en gevra en mag in als deel en dis só ‘n groot voorreg. Het darem die koekies klaar gebak en versier, die koerantjie gedruk en gestaple (kan jy onthou hóé seer ‘n staple kan steek? 😀 …en behalwe dat als eintlik klaar gereël is en ek heel rustig is, is mejuffrou nou besig om op hol te gaan oor als. Ping met met elke klein gedagte wat haar tref en whatsapp my laatnag oor die een daai. En ag, ek gee gladnie om nie. Ek sou tog nie wou hê dat sy enigiemand anders moet pla nie.
    Ons het vanmiddag vir oulaas ons koffietyd saam gehad. Volgende Sondag is sy Mev. ‘n Amperse leeftyd se mamma/meisiekind verhouding is verby. Dit maak my nogal nostalgies huilerig…

    Liked by 1 person

  3. Terloops, ek het op ‘n stadium bordkryt geëet. Hoekom weet ek nie… iemand het destyds vir my ma gesé dis ‘n tekort aan iets. Ek reken dit was dalk eers vir die pure snaaksigheid wat ‘n simpel gewoonte geraak het. (Ek eet dit lankal nie meer nie, maar het die vir die beste deel van my laerskoolloopbaan gedoen).

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!