Facebook is ook nie meer Facebook nie

Kinders was nog kinders toe ons nog kinders was

Ja, alles verander voortdurend. Ook Facebook. Die nuutjie is oor. Daar is nog net ‘n paar lawwes, soos ek, wat gereeld goed op Facebook publiseer.

Iewers in die verlede was FB ‘n lewendige platvorm wat my van totale vereensaming gered het. Dit was ‘n plek waar ek met ander regte, lewendige mense gekommunikeer het. Dit was lekker. Ons was laf. Ons het grappe gemaak. Soms selfs moeilikheid opgetel.

Maar dinge het verander.

Die deelnemers het totaal verminder. Daar is min wat iets oorspronkliks opsit, die meeste is goed wat ge’share’ word.

Op ‘n stadium het dit begin gebeur dat ‘n mens nie meer almal se goed sien wat publiseer nie, net ‘n paar mense se goed word gewys.

Vir my beteken Facebook geweldig baie vir my boek en ook vir my blog. Facebook het baie mense na my blog gebring en ek is seker hy doen dit steeds, alhoewel ek vermoed dat Google nou die hoofbron van klieke raak op my blog. My boeke sou nie die sukses wees wat dit was as dit nie vir Facebook was nie. Daarom is dit vir my ‘n bekommernis as daar iets met FB gebeur!

Waar FB veral baie vir my boek beteken het, was dat ek ‘n page kon maak net daarvoor. Mense wat my fb vriende is, maar nie belangstel in Banting nie, hoef nie die goed te sien wat ek opsit nie. En ek het my ook getroos daaraan dat die mense wat die page volg, dit WIL volg, niemand is gedwing nie.

Wat ook lekker was, was dat ek tot soveel as drie maande vooruit goed kon skeduleer. Ek sou een aand amper deurnag werk en sommer die volgende drie maande se posts doen. Of, terwyl ek kosmaak en raak geïnspireerd, kon ek sommer 5 of 6 posts vooruit doen. Die woorde vir ‘n advertensie kom vinnig en gou en dan moet ek dit neerskryf, of dis verby! Dit help nie ek wag tot môre nie! (En toe het Sonell my iets geleer: Die skeduleerfunksie is steeds daar, dit het net geskuif! Dankie, dankie, dankie!)

Skielik kan ek nie meer skeduleer met my foon nie, en dit lyk vir my of dit ook nie meer op my rekenaar gedoen kan word nie.

Nou wonder ek: Hoekom? Hoekom verander FB voortdurend aan die goed en maak dit minder gebruikersvriendelik? Wil hulle dalk hê dat ons moet aanbeweeg?

So, Toortsie, dit lyk vir my dis tyd dat jy jou vlerke wyer sprei. Dalk Instagram? Ek sal nog lank by FB bly en my blaaie aan die gang hou, maar dis tyd om iets nuuts te probeer.

Maar wat? Waar is die nuutste en beste bemarkingsplekke?

Ek raak te oud!

Uitnodiging: Soek toortsiebooks by Instagram as jy wil.

Toortsie

18 thoughts on “Facebook is ook nie meer Facebook nie

  1. Ek vind ook FB het deesdae baie gemors op, veral hierdie politiekopruiende boodskappe waar almal mekaar uitskel. Ek gebruik dit net om te sien hoe dit met my vriende gaan en ek link my blog, sodat hulle dit kan volg.

    Liked by 3 people

  2. Ja sjoe, nou voel ek ook oud…
    Mens kan steeds op WordPress posts vooruit publiseer, kan datum en tyd daarvoor kies. Vanuit WordPress dan op FB blad Post…
    Google is verseker nou my blog se grootste bron van klieke, slegs 1% FB en 3% ander browsers.

    Like

  3. Facebook is so “stale” soos gister se witbrood. Ek kom baie min daar. Instagram is te veel werk, want dis baie visueel ungestel; jy moet voortdurend nuwe inligting opsit om raakgesien te word en die posts word nie gedeel soos op Twitter nie – ek sou Twitter verkies vir bemarkingsdoeleindes, maar daar is ook ‘n oormag inligting wat verbyrol.

    Like

  4. Facebook maak my moeg en moedeloos. Hulle het sogenaamd veranderinge aangebring om dit meer persoonlik te maak, maar eintlik is dit om dat hul wil he dat ons moet betaal om ons goed sigbaar te maak. Dis ‘n frustrasie!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!