Vir wie bring Google hier aan?

Dit bly vir my interessant wat mense by soekenjins intik en dan by Toortsie se blog uitkom.

Kyk hierdie een: ‘Paddaboudjies‘. Nou hoe op aarde het Google besluit hierdie persoon moet by Toortsie kom aanklop? Ek dink nogals by my 21e verjaarsdagpartytjie was daar paddaboudjies, maar ek het nie daaroor geskryf nie. O! wag! Nou onthou ek! Ek het vertel van die paddaboudjies en slakke in Parys, en weet julle wat? Ek het dit verkeerd gespel!

Om ‘n hondesalon te begin‘. Hellooooo? Hoe bedoel meneer dan nou? Toortsie? ‘n Hondesalon?

Rassehaat bybel‘. Genade tog! Ek sal alles in my vermoë doen om rassehaat weg te kry in ons land. Interessant genoeg het ek nogals rassehaat al in drie bloginskrywings genoem, maar vir die ou wat ‘n rassehaat bybel soek, sou dit teleurstellend wees, glad nie wat hy soek nie! Sorrie, hoor! Nee man, kry vir jou ‘n ander bril.

Ons gesels het opgeraak.’ Ai, jai, jai, dit gebeur in huwelike. Dit gebeur dat daar tye is wat daar nie meer gesels is nie, en vir iemand wat lief is vir gesels, kan dit baie moeilik wees. Dis sulke tye wat ‘n mens dalk sommer ‘n boek moet lees oor die liefdestale en jou huweliksmaat se liefdestaal soek, innoverend begin dink, intimiteit soek, dinge doen wat jy lankal vergeet het, net om weer nuwe asem in jou huwelik te blaas. Dalk moet julle sommer by kerslig bad, of in die maanlig gaan stap. Ek is seker jy sal weet wat om te doen om nuwe vuur in jou huwelik te blaas. Lees ‘n Romanse boek.

Die opstelbrigade is natuurlik besig om toe te neem. Dis nogal interessant, my vriendin wat ‘n onderwyseres is, sê die benadering het heeltemal verander. Dis nie meer soos in ons tyd dat ‘n onderwerp gegee word en die kinders gaan skryf by die huis nie. Nee, die onderwerp word in die klas bespreek, die kinders gee idees, skryf die opstel in die klas en merk mekaar s’n sodat die vrees vir die rooipen minder raak. Tog soek die mense steeds opstelle. Sal dit die kinders wees? Of dalk die juffrouens wat idees soek?

Here help asseblief.’ Ai, die nood bly hoog. Ek wens so ek kan help!

Aansoekbrief‘ en ‘Tweede inkomste‘ en ‘Werk van die huis af.’ Dit gaan swaar met ons mense.

Daar is ‘n ander klompie wat altyd maatjies soek saam met wie hulle naaldwerk wil doen. Flukse lotjie, moet ek sê. Maar ongelukkig brei en hekel ek net en kry nou glad nie meer tyd vir knope aanwerk en some insit nie.

Groetnis

Toortsie

47 thoughts on “Vir wie bring Google hier aan?

  1. Jip seegogga ek sien ook niks… Toorts, dis oulik geskryf en soooo waar. Dis terselfdertyd opwindend en scary om te sien wie lees mens se goed en wat vang hulle oge. So asof die Vader van ons goed gebruik om iemand hoop te gee of selfs vir ons bietjie te slyp…
    Goeie Vader wat ons het. Xx

    Like

    1. As jy op jou selfoon app kyk, by MY SITES; Stats; Days. Dan kan jy by elke dag kliek (ongelukkig net die afgelope week) en dan gaan jy af tot by Search Terms. Daar sien jy wat die mense ingetik het en vir wie Google dan na jou verwys het.
      Ja, God gebruik ons. Ek sien my blog as ‘n manier om Hom te verheerlik. Soms kom hier ook maar stoutighede deur soos die tiramisu geval, maar my doel is om van Hom te getuig. ‘n Mens weet nooit wie jy dalk bereik nie.

      Like

  2. My über gewilde search terms – dassiepis, valstande, kokkerot, vakansie en nou onlangs vra iemand vir “hengse snaakse z”. Wanneer jy na jou stats kyk onder “My Sites”, scroll af tot by Search Terms en kliek op die right angle bracket (>) langsaan. Dit gee jou die geleentheid om te kyk na al jou search terms vir verskillende periodes. Desktop – ek weet nie of dit werk op selfoon / tablet nie.

    Liked by 1 person

          1. Dis ‘n sosiale ding wat nogal baie bedrywig is hier aan ons kant van die wêreld. Groepies vroue sit en doen hulle naald/brei/hekelwerk of hulle leer mekaar om te borduur en te verf – enigiets waarin jy belangstel. Dis meesal huisvroue en afgetredenes wat daarvan hou om te gesels en saam tee te drink of ‘n gedeelde belangstelling gaande te hou.

            Liked by 1 person

    1. Perdebytjie, statistiek is mos vir my interessant, maar dit stimuleer ook my denke as ek sien wat die mense soek. Dit gee vir my baie keer ‘n idee waaroor om te skryf. Soos al hierdie opstelonderwerpe kom uit daardie lys, dis nie my eie idees nie. Dan dink ek: Iemand soek iets hieroor, dalk kan ek help. 🙂

      Liked by 1 person

    1. Jong, ek wonder darem oor alle vrae! 😱 Ek was vandag in gesprek met iemand, bietjie ‘navorsing’ gedoen vir my hoofstuk in die Nellie-sage en het besef, daar’s dinge waarvan ek NIKS weet nie.

      Like

Gesels saam, asseblief!