Skryf ‘n opstel oor tegnologie

Hier is ‘n lekker nuwerwetse onderwerp, dankie aan die onderwyser wat dit uitgedink het. In my kinderdae moes ons oor die voor- en nadele van televisie skryf. Tye het verander. En dit laat my net besef dat jy, die tiener kan die béste hieroor skryf, baie beter as wat ek of jou ma dit kan doen, want jy is met tegnologie gebore.

Natuurlik kan jy skryf oor watter tegnologie vir jou lekker is, hoe jy dit gebruik, wat die nuutste ontwikkelings is in tegnologie is. Wat is jou gunsteling tegnologie? Watter tegnologie gebruik julle jongmense baie, en watter gebruik julle glad nie meer nie?

Ek dink wel jy moet eerder tegnologie bedink. Julle word groot met tegnologie rondom julle en orals.

Wat beteken tegnologie vir jou? Kan jy jou enigsins voorstel om sonder tegnologie te wees? Wat sal gebeur as jy vir ‘n week sonder tegnologie moet wees? Gestel tegnologie word totaal van jou af weggeneem, hoe sal dit jou raak?

Wat is die voordele van tegnologie? Hoe maak dit jou lewe makliker? Watter toerusting gebruik jy, watter apps? Hoeveel tyd van die dag spandeer jy met tegnologie? Hoe benut jy dit? Is dit net ‘n bron van plesier waarop jy speletjies speel en op sosiale media rondbeweeg, of is dit vir jou ‘n bron van inligting? Maak dit jou skoolwerk en ander werk makliker?

Wat is die nadele van tegnologie, of dink jy nie daar is eintlik nadele nie? Hoe duur is dit? Kan jy dit bekostig? Kan jou ouers dit bekostig om dit vir jou te verskaf?

Wat is die effek van tegnologie op jou verhoudings. Kuier jy en jou maats nog saam, of sit elkeen met sy slimfoon in die hand? Kan jy nog ‘n lekker gesprek voer, of dink jy dat tegnologie gesprekvoering en interaksie met ander mense beïnvloed?

Is jy verslaaf aan tegnologie? Wanneer is ‘n persoon verslaaf daaraan? Is dit enigsins moontlik om verslaaf te kan raak daaraan? Wat kan ‘n mens doen om dit te verhoed? Hoe kan ‘n mens van tegnologieverslawing bevry word? Sal jy dit erken as jy verslaaf is aan tegnologie?

Skryf ‘n bietjie oor sosiale media. Hoe gebruik julle dit? Wat is die gevare daaraan verbonde? Hoe kan ‘n mens jou beskerm teen kuberboelies en trolle en ander gevare?

Wat, dink jy, is die toekoms van tegnologie? In watter rigting sal dit inslaan? Watter ontwikkelings, dink jy, sal binnekort die lig sien?

Wat, dink jy, gaan verdwyn as gevolg van tegnologie (dinge in die gewone lewe, asook tegnologie wat verouderd sal raak?

Lekker skryf.

Vir nog opstelonderwerpe, kliek HIER.

Groetnis

Toortsie

15 thoughts on “Skryf ‘n opstel oor tegnologie

    1. Sosiale Media vs Die Bybel
      Die god in ons sakke. Mense is verslaaf aan hulle selfone, sommige uit vrees, ander wagtend op nuus oor die Wegraping, aldus ‘n ondersoek.
      Selfone maak dat mense nie meer mekaar in die oë kan kyk en kommunikeer nie. Midde in geselskap, al stappend straataf, in hulle voertuie, in die klaskamer, in die werkplek is hulle oë en verstand is aan selfone vasgenael.
      Sommige sit in die kerke onder die val van die Goeie Nuus en verwag slegte nuus op hul selfone.
      Selfone word soms op “stil” gestel, maar word nooit afgeskakel nie, selfs nie in die nag terwyl dit laai nie, want daar is dalk nuus oor dood of ander slegte nuus en dan moet die foon op die lug wees. Vrees en nogmaals vrees is een van die hoofoorsake.
      Mense het so afhanklik van selfone geword dat hulle haas daar sonder kan leef.
      Eeue gelede het mense goue standbeeld aanbid. Nou aanbid mense selfone. Pal is mense op hulle selfone besig. Hulle mag tog niks mis nie. Sommige glo alle mense sal via hul selfone weet (kan sien) wanneer die Wederkoms plaasvind. Vraag is of hulle gereed is?
      So wil meeste vooraf kennis kry van trauma wat op pad is. Sommige het al rumatiek in hulle vingers. Al hoe meer mense kla van hoofpyne, ander van nekpyn en nek spasmas.
      Self die dringende waarskuwings dat selfone kanker kan veroorsaak skrik niemand af nie, solank hulle net die foongod kan aanbid.
      Die skinder afgod loop ook by die een oor in en die ander mond uit… “Het jy gehoor.” Die een kan nie gou genoeg ‘n storie oordra nie en die anders vrees hulle mis iets. Van almal weet almal, maar van die Bybel feitlik niks.
      Mense spandeer meer tyd op hul selfone as op hulle knieë.
      Skakel daai selfoon af en luister wat sê die HERE:
      “Hy sal jou dek met Sy vlerke, en onder Sy vleuels sal jy skuil; Sy trou is ‘n skild en pantser.
      Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!
      Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand- na jou sal dit nie aankom nie.
      Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.
      Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.
      Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie; want Hy sal sy Engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.
      Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.
      Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.
      Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.
      Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.
      Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.” Ps 91
      En dan is daar die HERE se wonderlike belofte van Godheid en Guns in Ps 23.
      “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Hebr 12:12-13 – Sjibbolet

      Like

    1. As die tegnologie te vinnig verander, sit ek net terug in my stoel en lig my voete op. Dan moet dit maar spin soos dit wil op die grond. Wanneer ek weer daarna voel, sit ek my voete neer en pas maar weer aan by die nuwe tegnologie.

      Like

  1. Sal dink – en sê. Die tegnologie monster steek kort kort sy lelike kop in my huis uit as dit by manlief kom. Hy is skaak bedinges en tegnologie maak dit so maklik om regoor die wereld in die gemak van jou huis te sit en skaak… en vd res te vergeet of selfs die res onrespekvol stil te maak.

    Like

Gesels saam, asseblief!