Plastiekvry?

Country Living in SA het my geïnspireer om te poog om minder plastiek te gebruik. In haar nuutste bloginskrywing gee sy haar verslag hoe dit met haar in Julie gegaan het. Ek wil haar gelukwens! Ek dink sy het uitstekend gedoen, maar meer nog het sy ook ander mense, soos ek, geïnspireer om na hulle plastiekverbruik te kyk.

Deur te fokus op my plastiekverbruik, het ek besef dat ek dalk nooit heeltemal plastiekvry sal leef nie en ek weet nie of ek my kop daaroor sal breek nie. Hier is ‘n paar veranderinge wat ek wel aangebring het:

Ek probeer om glad nie meer strooitjies te gebruik nie.

Ek het al die lapsakke wat ek oor jare versamel het, bymekaar gemaak en gebruik nou lapsakke as ek gaan inkopies doen. Sou ek my sakke by die huis vergeet, koop ek dan maar papiersakke wat ek ook opvou en by my lapversameling sit vir verdere gebruik.

Baie van die groente wat ek koop, is voorafverpak in plastiek. Maar as ek my vier avo’s koop, sit ek dit nie meer in ‘n sakkie nie, maar los in die trollie. Die groenpeper en patat word ook nie meer in ‘n sakkie gesit nie, die prys word sommer op die item geplak. Sou die dame mik vir ‘n sakkie, keer ek (ek dink ek het een keer vergeet), en verduidelik dan dat ek graag minder plastiek wil gebruik.

Ek het in hierdie maand beddegoed gekoop en ook gevra dat hulle dit nie in ‘n sak moet sit nie, ek het sommer met dit in my hand uitgeloop. Ook klere. Een keer het ek ook daarvan vergeet, maar die ander keer het ek van my eie sakke gebruik.

Ek het nee dankie gesê vir ‘n sakkie vir my velsorgproduk en ook die dame aangemoedig om te vra dat hulle die onnodige verpakking, soos die boksie, minder moet maak.

Waterbotteltjies was ‘n probleem op die langpad, maar ek probeer onthou om my eie glasbotteltjie vol water te tap en met my saam te neem. Ons het ook heelwat 5L (plastiek) kanne wat ons gebruik om drinkwater saam te neem, waar ons ookal gaan, in plaas daarvan om elke keer nuwes te koop.

Ek konsentreer daarop om minder ‘glad wrap’ en enige ander sakkies in my huis te gebruik.

Ag, dis dalk ‘n druppel in die emmer, maar elke druppel help. Met tyd, glo ek, dat deur daarop te konsentreer, jy minder plastiek sal gebruik.

Groete

Toortsie

29 thoughts on “Plastiekvry?

  1. Ek pes plastiek en vermy dit waar ek kan.
    Ek lees onlangs in ‘n Duitse tydskrif dat daar gemiddeld per persoon per jaar 150kg plastiek !! vir verpakking en algemene plastiekgebruik gebruik word.
    Die probleem is egter nie net meer dit wat ons as plastiek kan eien nie. Selfs koeldrank blikkies het deesdae en dun laag (film) plastiek oor om roes te voorkom.
    Materiale word al lankal vermeng – tot ’tissues’ verfrummel en vergaan nie meer soos in die ou dae nie, omdat selfs hier lankal nie meer net papier gebruik word nie. Party papier inkopiesakkies is só met plastiek versterk dat hulle ook nie meer papier genoem behoort te word nie. Hulle kan nie as papier óf plastiek ge-recycle word nie, omdat hulle nie die een of die ander een is nie.
    Blykbaar sê die omgewingsbewaarders dat plastiek juis té goedkoop is… en dit die grootste probleem is. As belasting op plastiek produksie en aankope ook die opruiming van (o.a.) strande, en ander besoedelde areas sou insluit sou dit dalk eerder impak hê, omdat geld ongelukkig die pasaangeër is by die meeste industrië én die mensdom oor die algemeen.
    Craig Leeson, die regisseur van A Plastic Ocean het die volgende vasgestel: in 2017 alleen is daar oor die 300 miljoen ton geproduseer. Die helfte daarvan vir ‘eenmalige’ gebruik.
    Ek weet ek en jy en die volgende persoon kan dalk net ‘n klein deel bydra tot die uitroeiïng van dié groot euwel van die 21 ste eeu, maar ek glo ook dat dit soms net één vat om ‘n ander een te inspireer en te oortuig en daai een sal wel nog een motiveer. Ons gaan dalk nie in ons lewe ‘n groot verskil sien nie, maar wie weet… dalk sal my en jou klein- en agterkleinkinders deur my en jou oortuiging, vasberadenheid en belangriker nog, deur ons voorbeeld wel die ou wêreld vir mens en dier ‘n beter plek kan maak.

    Like

    1. Jong, ek gebruik maar te veel plastiek. Elke keer as ek by die skaal kom met my patat of wat en ek vir die dametjie sê dat hul wil hê ons moet minder plastiek gebruik, sê ek, maar kyk hier, en wys na al die plastiek wat reeds in my trollie lê, alles eenmalige gebruik plastiek, want ek gooi dit weg as ek by die huis kom.

      Liked by 1 person

  2. Gelukkig het ons ‘n herwinningsmaatskappy wat weekliks die plastiek kom oplaai. Ek het spesiale trollieblikke in my agterplaas vir glas, papier, plastiek en blikkies. My weeklikse nat vuilgoed is ‘n halwe swartsak vol.As ek spasie gehad het vir ‘n komposhoop, sou ek omtrent geen afval hê nie. Dis regtig ‘n kopskuif wat almal moet maak.

    Like

    1. Ons het nie ‘n regte komposhoop nie. Ek gooi die komposgoed sommer onder ‘n boom. Dit lyk nie mooi nie, en ons probeer om dit weekliks net om te dop dat daar geond bo-op lê. Ongelooflik hoe ons grond verbeter het en hoeveel erdwurms daar nou is. Toe ons daar ingetrek het, het die vorige eienaar gesê niks wil daar groei nie. Ek moet darem bysê dat ons goeie kompos ingery het ook vir ‘n begin.

      Liked by 1 person

  3. Ek is ‘n greenie in murg en been. Ek gebruik al vir langer as ‘n dekade net my eie inkopiesakke en, en… ek herwin vir die vale, voor dit ‘n mode woord was… maar ai, die strooitjies is ‘n ander saak ek gril my dood vir papierstrooitjies, ook die nuwe soort pasta strooitjies en ook die houtstokkie in ‘n stokkie roomys. Soos in erg gril dat ek hoendervleis.
    Dus, al wat ek nou doen is ek dra ‘n strooitjie saam vir die slag waar ek dit nodig gaan kry en spoel dit af vir ‘n vlg slag se gebruik…. maar deur of met hout, papier of pasta kry ek nie geëet of gedrink nie!

    Like

    1. Ek onthou die papierstrooitjies van my kinderdae. Die ding is dat die kelners die glase aan die bokant vat, daar waar jy wil drink, en dan gril ek ook.
      Jy sal ons moet leer wat en hoe. Ek dink tog ons plaasmense doen baie van die goed wat die mense nou noem, ook ons lewe lank. Maar ek het nog baie om te leer en te verander.
      Ek weet byvoorbeeld nie wat om te maak as ons ‘n hele skaap opsaag nie, plastieksakkies is mos maar waarin dit gepak word. Wel, my ma en skoonma het die vleissakkies gewas en weer gebruik, waarvoor ek natuurlik gril. En deesdae verwerk die slaghuis my vleis en verpak dit in bakkies en gladwrap. Ek het altyd die grootste ziplock sakke gebruik en die vleis plat verpak en net soveel tjops uitgehaal soos ek wou gebruik. Nou is dit sulke hompe vleis. Ek sal nog hieroor miet dink.

      Liked by 1 person

            1. Voor vleis in plastieksakkies verpak was, het die slagding in die vleiskamer gehang en het jy met die saag gegaan en ‘n stuk loop afsaag wat jy vandag wil gaarmaak. Ek weet nie of ek kans sien daarvoor nie.

              Like

Gesels saam, asseblief!