As jou vakansie ‘n oefenlopie vir jou aftrede is …

Volgens Johanna van Binnekanttoe, is die manier wat jy jou verlof aanwend, ‘n voorsmakie van hoe jy jou aftrede gaan benader. Sou jy jou hele vakansie voor die TV sit, is dit waarskynlik wat jy gaan doen as jy afgetree het. En toe maak sy my só opgewonde, dat ek besluit om eerder in ‘n bloginskrywing te antwoord, as in ‘n kommentaar, want ek wil net te veel sê.

Vir dié wat nog nie weet nie: Ek werk om vakansie te kan hou. 🙂 Ek geniet my werk en ek het nog altyd dit wat ek doen, na die beste van my vermoë gedoen, maar vakansie hou, ai dis lekker. Maar ek wil regtig nou aftree ook, ek dink dit sal my pendelry makliker maak.

So, as my vakansies ‘n voorsmakie is van my uiteindelike aftrede, klink dit goed.

Vakansies by die see is dalk die beste aanduiding van hoe dit sal wees. Daar slaap ek tot ek wakker word, staan rustig op, doen dinge rustig. Ek gaan stap graag langs die see met my honde en bring daagliks baie tyd met my Here deur. Vakansietye is gewoonlik ‘n tyd van geloofsgroei vir my. Ek lees graag, of sal sommer brei of hekel, so ek dink ek sal weer my naaimasjien ook nadertrek as ek afgetree het. (Ek sal beslis nie heeldag kan sit en hekel en lees nie, ek sal mal word!)

Kuier saam met vriende is natuurlik ‘n baie groot aspek van ons seevakansies en ons braai elke aand, met of sonder vriende. (Tydens aftrede sal ek seker ook maar moet kos maak tussenin!) Ek sal graag baie wil kuier en tee drink saam met vriendinne, vir mense wil help, ook op geestelike gebied.

Ek is ook baie lief vir toer, die wêreld vol, en sal baie dankbaar wees as my finansies en gesondheid dit nog sal toelaat dat ek kan reis, selfs dalk nie so ver meer nie, maar wel reis. Ander plekke besoek. Ons hou natuurlik van die stiller plekke in die natuur.

Ek dink, met my liefde vir stap, sal ek graag by ons stapklub wil aansluit en gereeld saam met hulle staproetes te doen, en ook by die leeskring, om blootstelling aan goeie boeke en ook interessante besprekings daaroor te kry.

Jong, eintlik is ons so besig gedurende ons vakansietye, ons kom net nie uit waar ons orals wil nie, daar is nog middagslapies ook wat ingepas moet word. Klink my ek gaan ‘n vol aftreetyd hê. (Dis te sê as die Here so wil.)

Nog net dit: In een van die Duitse kore by die Wêreld Kore Olimpiese Spele was twee omies wat duidelik afgetree is en nou dinge doen wat vir hulle lekker is, soos om koor te sing. Ek sal graag nog baie goed wil doen wat vir my lekker is, nie net op die stoep sit nie.

Groetnis

Toortsie

Dankbaar vir goeie dokters en goeie medikasie en dat dit nog beskikbaar is in ons land.

Advertisements

17 thoughts on “As jou vakansie ‘n oefenlopie vir jou aftrede is …

  1. Hoe lekker klink dit om af te tree! Ek sal dit seker nooit kan doen nie, maar vat alles nou stadiger. Raamwerk? Dit moet wag tot ek tyd het. Huise skoonmaak? Huishulpe. Verhurings? O daar moet ek my kop bymekaar hou! ( en dit raak al ingewikkelder!)

    Liked by 1 person

  2. Ek kom altyd twee dae voor my vakansie oor is terug om te kan uitrus. Ek weet nog nie hoe ek daardie rustyd ná my aftrede gaan inwerk nie 😀
    Terloops Toortsie, gepraat van koor. Ek het ‘n koorliedjie geskryf. Wat maak ek daarmee?

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s