Augustus is vrouemaand

Augustus is glo vrouemaand, so lees ek hier en daar. Ek is nie so op datum met sulke dinge nie. ‘n Vriendin van my, Preline, moedig ons aan om in hierdie maand na formidabele vroue te kyk.

Terwyl die vroue in die Bybel een van die temas is wat ek deurgaans volg, het ek sommer gedink om oor vroue in die Bybel, en spesifiek, ‘n paar van die vroue in Jesus se lewe, te skryf. Alhoewel vroue in die Bybelse tyd geen regte of aansien gehad het nie, eintlik niks was nie, word hulle soveel keer genoem en selfs vereer, en ek weet dat God baie lief is vir vroue.

Sekere van die mees besonderse goed wat iemand kon oorkom, het vroue te beurt geval.

Om sommer mee te begin, word daar vrouename in Jesus se geslagsregister genoem.

‘n Vrou, Maria, het die voorreg gehad om die moeder van Jesus te wees. (Ja, ek weet mans kan nie kinders kry nie, maar God het gedink om die nederige vrou só te vereer.)

Anna, ‘n profetes wat al vier-en-tagtig jaar oud was, het God geprys toe sy die Jesusbaba sien. (Lukas 2:38)

‘n Onbekende vrou het Hom met nardusolie gesalf, Sy dissipels het gedink dis vermorsing, maar Jesus het haar vereer. Soveel so, dat ons vandag nog van haar lees.

Daar was ‘n groep vroue wat uit eie middele vir Jesus en die twaalf dissippels gesorg het op hulle reise deur die land. (Luk 8)

Ná Jesus se dood, het Hy ook heel eerste aan vroue verskyn. Wat ‘n eer! En die wonder daarvan is dat dit erken is en in die Bybel opgeteken is, selfs in daardie tyd al.

Jesus het vroue in sy intieme vriendekring gehad, soos Maria en Martha.

Waar vroue Jesus se hulp nodig gehad het, het Hy nie Sy rug op hulle gekeer nie, selfs nie-Joodse vroue.

Dit was ook nie vir Hom benede Homself om met vroue te praat nie. Een voorbeeld wat uitstaan, is die Samaritaanse vrou by die put by Sigar. En die Siro-Venisiese vrou met die storie van die hondjies. Sy was ‘n onrein vrou wat Jesus genader het om haar dogter te genees.

Jesus het ook Sy tyd afgestaan om vroue te genees, soos die dogtertjie van Jaïrus en ook Petrus se skoonma (Matt 8:14).

Selfs al het ‘n vrou Hom ongesiens probeer nader om gesond te word, het Hy daarvan geweet en haar nie verwerp nie. (Matt 9: 20-22).

‘n Arm weduwee wat net ‘n aalmoes in die kerkbordjie ingooi, is nie te eenvoudig vir Jesus nie. (Mark 12:41-44). Hy gee aan haar besondere erkenning.

Daar was nog baie ander formidabele vroue met wie Jesus te doen gehad het, maar hierdie is vir eers genoeg.

Groetnis

Toortsie

Dankbaar dat ek betyds dokter toe is en nie nóg sieker geword het nie. Ek sidder as ek dink wat kon gebeur het.

13 thoughts on “Augustus is vrouemaand

  1. … want vroue is belangrik! Dit laat my altyd wonder hoekom daar een maand in die jaar uitgesonder moet word vir vroue – is dit omdat daar nog steeds ‘n miskonsepsie is dat vroue net ‘n aanlapsel is in die wêreld van mans? Dan moet ek myself antwoord – Ja, dis presies wat die probleem is. En net hier gaan ek my mond hou, anders gaan ek jou blog hijack.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!