Sabbatsreis – Annelie Botes

In April 2008 het My kop op ‘n blok alreeds oor Sabbatsreis van Annelie Botes geskryf, maar tipies Toortsie, doen sy dit tien jaar later! Want Toortsie het nou eers die boek gelees, en wat ‘n boek is dit nie! Dis die derde Annelie Botes boek wat ek lees, ek het ook baie jare gelede Raaiselkind gelees, en ‘n paar jaar gelede, Swart op Wit, elkeen van hulle verskriklik baie geniet. Ek weet nie of dit reg is om te sê ek het Raaiselkind ‘geniet’ nie, want dit gaan oor die mamma en die kind met outisme. Wel, dis ‘n uitstekende boek om te lees.

Annelie het Bredasdorp kom besoek met die wys van die fliek, Raaiselkind, wat so ‘n rukkie terug vrygestel is. En dis waar ek toe vir Sabbatsreis koop. Ek kon die boek nie neersit nie.

Ja, die boek is dus al ouer as tien jaar, as My kop op ‘n blok reeds tien jaar gelede daaroor geskryf het, maar dis vandag nog net so relevant en ‘n uitstekende boek om te lees. Dis outobiografies van aard en sy beskryf die jaar wat sy in Londen ‘n ou dame versorg het.

Alhoewel die boek oor die jaar in Londen gaan en alles wat sy beleef het daar, skryf sy tussenin baie ander stories uit haar lewe en bly die boek geweldig lewendig en mooi. Sy vertel van haar kinderdae by Uniondale, sy noem name wat vir my bekend is en sy skryf ook van die tyd wat sy op Bedford gewoon en gewerk het.

Annelie is ‘n mense-mens met menslike probleme en dinge wat haar pla, en dit word weerspieël in haar boeke, maar sy het ook ‘n fyn sin vir humor, wat ook duidelik wys. Ek bewonder haar deernis met mense en wat sy alles vir daardie tannie gedoen en opgeoffer het. Sy is baie eerlik en skryf openlik oor die dinge waarmee sy worstel.

Ek sal graag nog van haar boeke wil lees.

Groetnis

Toortsie

15 thoughts on “Sabbatsreis – Annelie Botes

  1. Ek moet kyk. Ek het nooit voorheen juis kontemporêre Afrikaanse boeke gelees nie (sjuut, moenie oorvertel nie), maar toe Helkom my onlangs gedwng het om by die biblioteek aan te sluit, het ek Afrikaanse boeke begin uitneem. Maar ek staan ‘n uur of langer daar en staar vir die boeke, want gewoonlik ken ek nie die skrywers nie. Dan gryp ek maar ‘n ou bekende.

    Like

  2. Almal wat Sabbatsreis gelees het … In Februarie vanjaar (2018) het Hartlam en Clare in ons eenvoudige huisie in die Baai vir drie dae by ons gekuier. Hulle het SA toe gekom vir ‘n troue naby die Kaap. In pleks van JHB > Kaapstad, het hulle JHB > PE gevlieg. En by ons oorgestaan. Hiervandaan is hulle met ‘n gehuurde motor kusroete langs Kaap toe. Dit was magies om hulle hier te hê. Clare was maar moeilikerig, soos altyd. Maar Hartlam het opnuut onder my vel ingekruip. Hy is ‘n baie ryk man. Sy eiendom in Engeland is gewaardeer op tienmiljoen pond. D.w.s. R170 00 miljoen rand. Daarmee kan hy 3 van die meenshuiskomplekse koop waarin ons woon. Ek bedoel 3 X 68 huise. En tog het hy met deurmekaar hare en in sy pajamas op die stoep gesit en hom verwonder aan die tuinvoëls. Hy het oor en oor gesê: You live a priviledged life, Meid. Quiet. Simplistic. Artistic. And I love your warm little cottage. You seem so happy … Toe ons die Vrydag groet, het ek en hy albei gehuil. Ja, so is die lewe maar. Blessings. Annelie ♦♦♦♦♦♦

    Liked by 3 people

  3. Ek het Berg der verlorenen Träume, so 15 jaar gelede by my pa as verjaarsdag persent gekry (sjoe! 15 jaar!? kan dit wees!? 😀 ) – net daarna het ek Riddle Child by iemand gekry, waarna ek heelwat later eers Annelie se Afrikaanse boeke begin lees het. Ek is ‘n groot fên 😉

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!