Wat ‘n deurmekaar week!

Hierdie week was loneweek. Al die jare nog is loneweek by my moordweek. Dat almal nog lewe ná al hierdie jare en hier nog nooit ‘n moord gepleeg is nie, is net ‘n wonderwerk en dit gee my die hoop dat dit darem end-uit goed sal gaan. (Hierdie week was selfs deurmekaarder as Nellie se storie!)

Partykeer werk dinge net goed uit en verloop alles glad, ander kere is dit of elke moontlike en onmoontlike hekkie wat daar mag wees, opgestel word.

Natuurlik durf ons weer die pendelpad aan, en toe ek my rekenaar aansit, toe sê hy: ‘Aikona’. Daar wys elke keer ‘n fout en dan begin hy van voor af. Op ‘n stadium het die beginskerm darem gewys, maar die muis wou geen hond haaraf maak nie. Stukkend. Mxxx toe.

Gelukkig is die meeste van my goed in óf Dropbox, of Google Drive. Dis meestal my foto’s wat ‘onbeskermd’ op die rekenaar lê. En die lone-inligting is op ‘n program van sy eie, waarvan ek elke keer die inligting instuur as ek groot gewerk het. Helaas het ek wel verlede week aan ‘n werker of twee se inligting gewerk, waarvan ek nie ‘n ‘back-up’ gemaak het nie.

Gelukkig lê daar ‘n stadige, maar heel bruikbare rekenaar in die kantoor, wat ek dadelik kon inspan. Ek dink nie hy is al baie gebruik nie.

Woensdagaand kry ek ‘n sms van die munisipaliteit of Eskom of wie ook al, Donderdag sal die krag heeldag af wees in daardie gebied. Ek stuur ewe die sms vir my seun aan sodat hy voorbereid kan wees, maar dit registreer nooit by my dat dit ook op my van toepassing is nie. Dis lone! Ek het krag nodig.

Voor ek egter dit besef dat die krag af is en in ‘n angstoestand gaan, roep hy my om te sê hy het my kom haal, ek moet in die melkstal gaan sit en werk, daar is ‘n kragopwekker.

So, saam met die lone, het ek sit en kyk hoe die koeie gemelk word en melkmonsters getoets word vir antibiotikateenwoordigheid. Wie het gesê ‘n mens is nie ‘n aanpasbare wese nie, of hoe?

Die een oomblik druk ek na die regte drukker, die volgende oomblik kies ek verkeerde drukker. So gaan ek aan.

En dan net soms roep die natuur en die geriewe is min en die beweging op die werf baie en nuuskierige ogies waar jy kyk, en min bossies. 🙂 Soos Awethentiq sê ons plaasmense doen, loer ek die hele tyd of ek enige verandering in die omgewing sien. 🙂 Ek is juis so bang ek kom oor wat Seegogga oorgekom het!

Alles wat moontlik verkeerd kon loop, hét verkeerd geloop. Ek moes die program op slegte tye onderbreek, sommige loonstate was gedruk, ander nie. Baie keer dubbele werk gedoen.

Nou gaan ek naweek hou.

Groetnis

Toortsie

24 thoughts on “Wat ‘n deurmekaar week!

      1. Ek WEET dis hoekom ek so lekker lag…. dis fantasties om mens te sien in ons elke dag struggle en hoe ons deur geloof en humor op n beter plek kom…en deur blogmaaikies wat maak dat mens tyd om jou vergeet en laat kom vir iets net oor jy nog gou weeeeeer wil lees… mal oor julle hele spul

        Liked by 1 person

  1. Ek is van deurmekaar aanmekaar gesit. Deurmekaar is my ‘normaal’. Ek moet myself gereeld daaraan herinner om te fokus. Een ding op ‘n slag.
    Dié week was vir my netso erg – dalk het die aanloop na die maan verduistering tóg ‘n invloed daarop gehad (nie dat ek ‘met die maan gepla’ is nie), maar uit alle oorde het dieselfde gewaarwordinge geklink.

    Liked by 1 person

  2. Drink ‘n koppie (of tien) boeretroos… en, soos ons grootouers gesê het… alles sal regkom!
    Net een ding… pasop vir die melkmonsters… of moet dit melk mosters wees?? 😉

    Like

  3. Terug pieng: Lone – toortsie.com

Gesels saam, asseblief!