Onperfekte huweliksmaats

Huwelike kry swaar. Wêreldwyd. Ek sien dit op die blogs en in die normale wêreld. Dis mos darem eintlik nie nuwe nuus nie.

Ek is ‘n voorstander vir die huwelik, ‘n vegter vir die huwelik en sou iemand my hulp of raad of oor inroep, sal ek altyd eers kyk of daar nie tóg ‘n manier is waarop die huwelik gered kan word nie. Dit word nie altyd positief ontvang nie, om verskillende redes, maar mý werk is altyd eerstens om oplossings te soek, om perspektief te probeer bring.

Iewers op ‘n blog het ek die volgende kommentaar gelewer: Ek het nie ‘n antwoord vir jou nie. Soms raak ons moedeloos. Soms voel dit of alles op ons intuimel. Soms voel dit of ons wêreld uitmekaar skeur. Soms is dit seker beter om aan te beweeg, maar ek is mos ‘n vegter vir die huwelik. Soms help dit om net ‘n bietjie terug te sit en te dink, waarmee is ons besig? Wat kan ek dalk anders doen (omdat ek gewoonlik nie die ander persoon kan verander nie), wat is hier in my cluttered lewe wat ek dalk eerder moet los? Waaraan gee ek nie meer aandag nie, wat my aandag verdien? En soms, net soms skyn daar weer ‘n sonstraal deur die donker wolke. Ek bid dat die sonstraal ook vir jou sal deurskyn en dat jy weer ‘n manier vind om voort te gaan. Sterkte.

Ek is jammer om te moet sê dat ons almal onperfekte huweliksmaats het, want ons is getroud met gewone mense, mense met foute.

En nou kom nóg skokkender nuus: Ons huweliksmaats is óók getroud met onperfekte mense! Ja! Ook óns is gewone mense met foute, nes hulle.

Die een man is hardwerkend en sorg goed vir sy gesin, maar is dalk onbetrokke by die kinders. Die ander een help weer geweldig baie in die huis, speel heeldag met die kinders, maar frustreer sy vrou omdat hy nie vir haar ruimte gee om haar eie ding te doen nie. Die vrou is dalk ‘n uitstekende kok, maar alles is deurmekaar en in chaos rondom haar. Of sy bestuur haar huishouding uitstekend, maar in die proses raak die ‘leef’ruimte minder vir almal in die huis. Miskien is die persoon die goedheid en vriendelikheid vanself, maar haar woord is onbetroubaar.

Die punt wat ek wil maak, is dat ons almal ons goeie punte het, maar ook ons swak punte en in die meeste van die gevalle is dit die goeie punte wat ons dalk na die ander persoon getrek het, wat gemaak het dat die ander persoon in ons begin belangstel. Dalk het julle sommer net gekliek. Sommer net verlief geraak met die eerste oogopslag.

Een of ander tyd het julle besluit om te trou, en soos baie mense dink hulle kan regkry, gehoop om die persoon oor tyd te verander. Miskien het jy, in jou verliefdheid, selfs die persoon se slegte punte geïgnoreer.

Klein dingetjies wat ek en jy doen, kan ‘n groot verskil in ons huwelik maak. Soos Pam jare gelede vir my gesê het: ‘Hou op om jou te bekommer oor wat jou man doen, doen jý die regte ding.’ Ek wil graag hierdie facebookblad aanbeveel: My huwelik in praktyk. Ons kan regtig ‘n verskil maak!

Groetnis

Toortsie

38 thoughts on “Onperfekte huweliksmaats

  1. Amen en amen hierop, Toortsie. Ek moes ook leer, eers na ñ egskeiding, dat om weg te stap nie help nie. Jou persoonlike probleme stap saam met jou. So, soos jy sê, ek moes daarop fokus om myself te verander, en God genoeg met my man te vertrou om hom te verander as hy moet. Nie ek nie, want ek doen soos ek graag iemand wil hê; God verander ñ mens soos Hy hom wil hê.

    Liked by 1 person

  2. Om vir ‘n huwelik te veg is nie kinderspeletjies nie. Dit sou baie, baie makliker gewees het om uit te stap en ‘n nuwe lewe te begin het. ‘n Mens wil darem terugkyk op ‘n gelukkige huwelik…. nie op jare van stryd in jouself nie. Ek is ook ‘n voorstander vir die huwelik…maar daar is perke.

    Liked by 1 person

  3. ‘n Huwelik is harde werk en beslis nie maklik om aanmekaar te hou nie. Ons is al amper 43 jaar getroud en ek wou ook baie dae my goed vat. Baiekeer is dit oor ek egosentries en ‘n martelaar was. Gelukkig het ons vasgebyt, gepraat oor ons griewe en vandag het ek en manlief die heerlikste verhouding en geniet ons die lewe.
    Hierdie is baie goed geskryf, dankie Toortsie.

    Liked by 1 person

                    1. Solank dit nog groen en in die peul is, kan jy dit eet, soos groenboontjies en ook jongertjies in die peul soos ‘n mens dit in slaai eet. Sodra dit egter uitgedop is, ongelukkig nie geskik vir Banting. Ek dink die styselinhoud is dan te hoog. Ek dink in die peul kry ‘n mens nie so baie van die sade in nie. Nie boontjies of ertjies of kekerertjies of grondboontjies nie. ‘n Mens moet ook versigtig wees met cashuneute, maar jy mag wel daarvan ‘n bietjie eet.

                      Like

                    2. Jy doen dit soos binne jou vermoë. Daar is geen swaard wat oor jou kop hang nie, niemand wat oor jou skouer loer nie. Niemand wat jou gaan pak gee as jy dit wel eet nie.
                      Ek sê altyd ek mag alles eet, ek verkies net om nie alles te eet nie. Daar is nie ‘n Wet van Mede en Perse nie. Soms is dit net fisies nie moontlik om dit 100% te volg nie en dis heeltemal okay. Solank dit met jou okay is. 🙂

                      Like

                    3. Ah, okay, hier in die Moederstad is heelwat fanatici. Soos jy kan sien, kon ek nog nie jou boek lees na die trek nie. Dit is nog iewers binne iets anders weggepak. Sal dit moet uitkry. Hier naby is ‘n Banting-winkel maar als is peperduur. ‘n Piepklein tweeduim-melktertjie kos R35, klein stukkie sjokoladekoek, regtig een duim by een duim, R45!

                      Like

                    4. Moenie ‘Banting’kos koop nie. Hul laai die pryse en dit is nie altyd regtig Banting nie. Net ‘regte’ kosse eet en stysel en suiker uitlos, niks laevet. En moenie jou steur aan die Bantingpolisie nie!

                      Like

                    5. Kos in Kaapstad smaak en lyk in elk geval anders as dertig jaar gelede. Moenie hier kom soek na tradisionele kos nie, dit bestaan net nie meer nie. Vir my is dit tragies want besoekers proe dit nooit meer nie. Alles nuwerwetse, volksvreemde giere. Ek het nou net op Twitter gekla oor kos uit die Bo-Kaap wat alles dieselfde lyk en smaak.

                      Die klein toetsblokkie Banting-sjokoladekoek was vteemd en het ook my maag aan die gang gesit. Ek het ook nie R125 vir 200ml sonneblomolie nie. Die goed is duur! Ek dink ook nie hulle gaan lank ‘n bestaan kan maak nie.

                      Like

                    6. Jy mag in elk geval nie sonneblomolie gebruik as jy ernstig bant nie. Nie daai geld werd nie. Ek was besig om ‘n sjokoladekoek te bak en te bak. Maar ek vas al jare sjokolade om ‘n baie spesifieke rede en het dit nou strenger gemaak na alle kakao. So daai koek sal nou vir ‘n hele ruk nie die lig sien nie, tensy ‘n wonderwerk gebeur. En daai een gaan gebeur, ek weet net nie wanneer nie.

                      Like

                    7. Dan is dit kastig spesiale Banting-sonneblomolie.

                      Ekself gebruik graag Willow Creek daar by Nuy, Worcester, se olyfolie. Hulle is mos wêreldkampioene en wenners van soveel internasionale toekennings. Director’s Reserve. Dis ook duur maar ons gebruik twee bottels per jaar….

                      Like

                    8. Dis net so spesiaal soos lae koolhidraat aartappels en sulke goed wat hulle aan mense verkwansel en die mense storm en KOOP dit. ‘n Vrou bel my een dag en sê sy moes ‘n paar duisend rand se olies gaan koop toe sy met Banting begin. Ek weet nou nog nie wat sy gekoop het nie. Ek het wel ‘n bottel olyfolie in my kas wat my man vir iets gebruik en verder koop ek af en toe ‘n blok botter. 😁

                      Like

                    9. Hehehe Dit, net soos aanlyn-valutaverhandeling, sien minder as 1% sukses. Dis voltydse, langtermyn harde werk. Met reuse risiko’s.

                      Liked by 1 person

                    10. Ek wou weet hoe dit werk, maar besef dit is nie vir my nie. Ek het van die begin af besluit dat as ek die geld verloor, dit skoolgeld sou wees. Of soos jy ‘n kaartjie koop vir ‘n rugbywedstryd.

                      Like

                    11. Onthou, ek het nogals ‘n bietjie ekonomie studeer. Dit was die raad wat die ekonome daai tyd gegee het: Vat ‘n paar rand, koop bitcoin en leer hoe dit werk. Nie vir beleggingsdoeleinde nie, maar om te weet hoe die stelsel werk. Ek is nie ‘n goeie spekulant nie en so na ‘n maand besluit om te los.

                      Like

Gesels saam, asseblief!