Koorsblare

Koorsblare! Wat ‘n nare onderwerp en beslis nie een om oor te skryf op jou blog nie. Grossss!

Ongelukkig is koorsblare ‘n nare realiteit vir verskriklik baie van ons. Al praat ons nie daaroor nie, word ons geteister daarmee en vir dié van ons wat dit kry, is dit geen grap nie.

Almal weet dat koorsblare kom as gevolg van een of ander Herpes virus, gelukkig darem nie dié Herpes virus wat almal vrees nie, maar net sy naam maak dit al klaar vreesaanjaend. Sover ek weet, is koorsblare en waterpokkies en gordelroos almal verwant aan mekaar en ja, ek het baie goeie ervaring van élkeen van hulle.

Sedert hoërskooljare reeds word ek geteister met koorsblare. Elke ding wat my liggaam tref, elke verkoue, elke siekte, elke nies, hoes of proes, daardie m-woord wat vroue so pla, as iemand net skeef na my kyk, noem maar op, dan sit die koorsblaar maar daar. Duidelik en liederlik.

Op ‘n stadium het my dokter my ingespuit met een of ander iets, wat my koorsblare vir vier jaar weggehou het. Nouja, wat is 4 jaar as jy 55 jaar oud is?

Toe ontdek ek L-Lysine. Ek drink dit toe ek ‘n koorsblaar het, 2 pille, 3x per dag. Dit werk wonderlik. Toe die botteltjie leeg is, is koorsblaar weg.

‘n Maand later herhaal ons maar weer die proses! 😩

Ek volg die aanwysings vir voorkomende behandeling en begin om dit daagliks te drink, 2 per dag. Soms kom daar nog ‘n uitbraak, maar met tyd gebeur dit ook nie meer nie.

Later verminder ek die dosis na een per dag en vir jare hou ek die ou simpel Herrie op sy plek.

Een dag, seker so 2 maande gelede, dink ek: Ek is deesdae so gesond, ek kry nie meer koorsblare nie, ek dink ek kan maar die pilletjies los.

Toevallig kry ek sommer twee keer ná mekaar verkoue en ek het in die tyd ook erge stres ervaar.

Skielik, sonder waarskuwing, sit die meneer daar op sy ou plek. Massief! Met mag en mening. Twee botteltjies L-Lysine later klou meneer steeds verbete vas. Ek het hom darem nou gewen.

Die les? As iets werk, moenie daaraan foeter nie!

Praat net eers met jou dokter voor jy L-Lysine probeer, onthou jou gesondheid is jou eie verantwoordelikheid en ek neem nie verantwoordelikheid daarvoor nie. Ek is nie ‘n dokter nie en weet regtig niks van mediese goed af nie.

Groetnis

Toortsie

13 thoughts on “Koorsblare

  1. Ai ek voel saam met jou. Gelukkig is my koorsblare altyd in my mond en kan mens dit nie sien nie. Ek het jare laas een gehad en wil liewer nie daaraan dink nie. My ma het my altyd gedokter met gentian violet en dan was my tande so pers. Dit het nogal gehelp teen die pyn, maar daardie glimlag was nie skitterwit nie!

    Like

    1. Dit was juis poliodruppels! Ek het daarna vir ander dokters ook gevra en dan wou hul dit nie gee nie. My dr het gesê 4 jaar en dit was oresies 4 jaar wat dit weggebly het. Ek moet maar weer daarvoor vra. Ek was baie bang om dit op die naam te noem, vir iemand wat dit dalk sommer navolg.

      Like

  2. Hoe goor! My seuntjie was 7maande oud toe ‘n familie lid met ‘n koorsblaar hom soen en hy jare later elke jaar koorsblare kry. Sy mondjie was reg rondom ‘n kors koorsblare gewees. Nou moet ons elke keer spesiale stroop kry daarvoor, want dit steek kop uit op sy een vinger. 🤦🏼‍♀️ Nou gebruik ek net die Fenivir salf sodra hy van ‘n seer vinger begin kla en dan is dit nie eens nodig vir R800 se stroop nie. Sterkte Toortsie!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!