Kinders se take

Dalk is die ware rede dat ek eenvoudig te lui was, daarom het ek nie my kinders se take gedoen nie! Nou, as ek terugdink, dink ek ek was skandelik wat my kinders se huiswerk aanbetref.

Die Here het mooi geweet toe Hy my kinders uitgesoek het, hulle kon mooi op hulle eie regkom. Die probleem was regtig dat hulle in die koshuis was en maar in die week op hulle uit-middag by die biblioteek moes loop draai waar daar dierbare tannies was wat hulle help soek het vir die nodige inligting. Dit was vóór internet!

Gewoonlik, so by graad twee of drie rond, kom hul met ‘n werksopdrag huis toe. Ek maak ‘n voorstel wat hulle gewoonlik afkeur, en dan sê ek, tog te bly, dat hulle met liefde hulle eie taak mag doen.

Ek het so een of twee dik boeke gehad, en as die onderwerp kom, het ek daarin geblaai en vir hulle gewys, wat hul dan gewoonlik gebruik het.

Ek sou ook help vertaal uit ‘n Engelse bron, maar daar was gewoonlik nie veel meer as een bron gebruik nie.

Maar een aand bel my dogter: Sy het vergeet van ‘n taak! Ek vermoed dat sy gehoop het om gou huis toe te kom, maar die mamma hou haar dom. Die taak gaan oor tennis, van alle dinge. Slaan my om met ‘n plank. Waar gaan ek sulke inligting kry en môre-oggend moet taak ingehandig wees! Ek dink sy het die middag al gebel en ek het vergeet!

Dit was ‘n paar vrae wat beantwoord moes word oor die beroemde tennisspelers, die toernooie, ens.

Ek klim net daar op die foon en bel my broer en ma en ander mense wat van tennis weet en sms vir haar die inligting, wat sy weer moet omsit in ‘n taak. Ek wonder hoeveel smsse dit was! 😱

Dit was tydens studietyd wat ek dit stuur, sodat sy ná studie die nodige inligting het. Sy bel my en vra wat gaan aan, want haar foon het die hele tyd vibreer in haar sak!

Wel, ONS het ‘n baie goeie punt gekry vir ons taak, sy het nooit weer vergeet van ‘n taak nie en my vriendin, wat al haar kinders se take gedoen het, het my altyd vertel van iemand wat ‘n taak gesms het as ek sou dink daaraan om te knor omdat sy haar kinders se take doen.

Skuldig, U Edele, selfs al was dit net een keer!

Het ek dalk al hierdie storie vertel? Onthou, my onthougoed werk nie meer so lekker nie!

Toortsie

22 thoughts on “Kinders se take

  1. Ek was ook ń vrot huiswerk ma. Nie een van die drie dogters gehelp nie. Dalk was hulle maar net slim gebore…🙈🙈 Eerlik, ek sou skool vandag gedop het, as ma. Die ouers werk net so hard soos die arme kinders.

    Liked by 1 person

      1. Ek het 2 jaar terug vir een van die seuns sy onderwys taak gedoen, heeltemal. Kry toe 97%, en was ek nou die vieste in dat dit nie volpunte was nie! Man, wat weet die dosent nou beter as ek!🤔😉😁 Ou vrouens moenie so iets aanvang nie, dis sleg vir die bloeddruk.

        Liked by 1 person

        1. Verstaan jy!? Ek is weer so bang ek maak regtig my naam krater. Maar 97%! Sjoe! Ek dink hy mag nie 100 gee nie, dis hoekom dit net 97 was. 😁
          Jy moes eintlik die dosent ingeroep het.

          Like

    1. Dis regtig hoe ek ook voel. Die taak is veronderstel om op ‘n vlak te wees wat dit kind dit moet kan doen, volgens die vlak waarop hy tans is. Ek dink ouers wil die kinders druk tot ‘n hoër vlak deur dan self dit taak te doen, en dan leer die kind net mooi niks, en wanneer daar volgende jaar meer van hom verwag word, kan hy dit nie doen nie, want die vorige vlak se werk is nie onder die knie nie.
      Ek sal nooit vergeet hoe my vriendin se seun vir haar woedend was toe hy ‘n vak op kollege moes herhaal omdat hy vergeet het om vir haar van die taak te sê en sy dit toe nie gedoen het nie. Wel, wel, wel …

      Liked by 1 person

  2. Dit staan elkeen seker vry om sy kinders na goeddunke groot te maak, maar my (baie sterk) gevoel daaroor, en dit is hoe my ouers ons ook groot gemaak het, is dat my kind NIKS van die nodige vaardighede gaan leer as ek sy taak vir hom doen of sy toespraak vir hom skryf nie.
    Help en leiding gee, ja. Maar doen – NEE!
    Party van ons vriende het hul al liederlik vir my daaroor vervies, want Dries is maar nie n ou wat sy mond kan toehou nie.
    Kry eerder n 70% vir jou eie werk, en leer daaruit sodat jy eendag in die grootmenswereld weet jy kan, as om met Pa en Ma se 90% op jou rapport te spog.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!