Ek het ‘n vragie

Ek het ‘n vragie om vir jou te vra en jy hoef dit nie hier te antwoord nie, jy hoef dit glad nie te antwoord nie, ook nie vir jouself as jy nie wil nie, maar, ek moet dit ongelukkig vra en vergewe my as dit jou ongemaklik maak.

As jy môre doodgaan, waarheen gaan jy? Wat word van jou die oomblik as jy doodgaan? Weet jy?

As jy wil, dink ‘n bietjie hieroor en as jy wil, antwoord dit vir jouself. Waarheen gaan jy as jy doodgaan? Wat word van jou siel?

Ek is jammer as ek jou ontstel, ek wil ook glad nie ‘n bakleiery of ‘n spul redenasies aan die gang sit nie, maar dit ís dinge waaroor ons soms moet dink, want die dood is onafwendbaar.

Jesus sê in Johannes 3:16 dat God die wêreld en sy mense só lief gehad dat Hy Sy Seun gegee het, sodat almal wat in Hom glo die ewige lewe kan hê. Die ewige lewe wat begin op aarde, maar voortgesit word in die hemel, wat ons verkry die oomblik as ons Hom aanneem. Dis wat Hy in Sy Woord belowe.

Dis wat ek glo.

En ja, ook ek klou vas aan die lewe hier en nou, is bang vir die manier wat die dood dalk kan kom, maar ek voel rustig oor wat daarná met my siel gaan gebeur.

Ek respekteer dit as jy anders glo.

Groete

Toortsie

35 thoughts on “Ek het ‘n vragie

    1. Is jy straks ‘n ekstra?
      Aangenome kinders wat nie hul biologiese ouers kan opspoor nie, of ouers wat nie hul biologiese aangenome kinders wil erken nie, is ‘n goeie voorbeeld van ‘n ekstra.
      “Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie.” Luk 12:4-7
      Om te verstaan wat hierdie strofe bedoel, moet mens na die getuienis van ‘n klein Spaanse seuntjie luister.
      In die King’s Business word vertel van ‘n Spaanse seuntjie in Vigo, wat ‘n toegewyde volgeling van die Here Jesus geword het.
      ‘n Christen Engelsman vra hom eendag, wat tot sy bekering gelei het?
      Die seuntjie antwoord: “Dis die ekstra mossie wat dit bewerk het.”
      “Die ekstra mossie?” vra die man verwonderd.
      “Sien, Senór, dit het so gewerk. ‘n Man het eendag vir my ‘n Bybel gegee. Ek lees toe op een plek dat Nuestro Senór Jesus (ons Here Jesus) gesê het, twee mossies word vir een chico verkoop. Op ‘n ander plek lees ek Hy sê, vyf mossies word vir twee chicos verkoop.
      Toe dink ek, Nuestro Senór Jesus ken darem ons tradisie van voëls verkoop baie goed. Senór weet mos, ons vang voëls en verkoop dit: twee vir een chico en vier vir twee chicos, maar dan gooi ons sommer ‘n ekstra voëltjie, die vyfde een, by.
      Hy tel nie eintlik nie. Hy word sommer net gegee.
      Toe dink ek by myself: ek is so arm en nikswerd en klein, niemand tel my ooit by nie. Ek is sommer net niks. Ek is soos daardie ekstra mossie. En tog, is dit nie wonderlik nie, Nuestro Senór Jesus sê: ‘nie een van hulle word deur God vergeet nie.’ Ook nie die ekstra, verniet, een nie.
      Ek het nog nooit so iets gehoor nie, Senór. Niemand as net Nuestro Senór Jesus sou aan so iets kon dink nie! Toe weet ek, ek tel ook by Hom en toe bid ek en ek sê: ‘Nuestro Senór Jesus, vat my ook asseblief.’ Toe weet ek Hy het my gevat. En nou lewe ek vir Hom.”
      Al voel jy soos ‘n ekstra mossie, kom, daar is plek vir jou ook.
      En al lyk iemand anders vir jou soos ‘n ekstra mossie, Jesus wag vir hom en vir haar, sorg dat jy hulle bereik. Jesus het die ekstra mossies baie lief.

      Liked by 1 person

  1. Die wete dat ek veilig by God gaan wees is die wonderlikste vertroosting. Voor my wedergeboorte het ek nagte in angsweet wakkergeskrik so bang was ek vir die dood.
    Oh death where is your victory?
    Oh death where is your stimg?

    Liked by 3 people

  2. Dis vir my ‘n baie maklike vraag met ‘n eenvoudige antwoord. Ek sterf soos enige ander organisme in die natuur en word weer deel van die aarde. Geen siel wat iewers heengaan nie, bloot ‘n organisme wat sy tyd deurleef het.

    Liked by 1 person

    1. 1Ti 2:1-6 : In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir ALLE mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat ALLE mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd, | …Perdebytjie, ek bid en smeek dat onse HERE Homself aan jou sal openbaar omdat jy kosbaar is vir Hom en ‘n beter hoop sal gee in die lewe as om bloot terug te keer na die stof waaruit HY ons gevorm het. Dankie dat jy bereid is om jou siening ook te deel en nie met aggresie en woede te antwoord nie…

      Liked by 2 people

      1. Baie dankie vir jou besorgdheid. Ek het as Christen grootgeword,maar dit het nog nooit vir my sin gemaak dat daar ‘n persoonlike god is wat na ons omsien nie. Ek het baie navorsing gedoen. Die enkele kere wat mense dankbaar is omdat God ingegryp het, word heeltemal oorskadu deur triljoene kere wat dit nie gebeur nie. Elke dag wemel van sulke voorbeelde. Ek wil egter nie hier op Toortsie se blog ‘n debat begin nie, want ek respekteer haar te veel. Ek het net my eie opinie gegee.

        Liked by 2 people

        1. Ek kom baie goed met Dina oor die weg en ek is seker ons sal heerlik kuier as ons sou ontmoet oor dinge soos fotografie, diere, en ja ook die lewe (en dit deurspek met humor). Die realiteit is dat ek heel moontlik beter oor die weg sal kom met jou as met ‘n verskeidenheid van christene. Ek is seker jy sal ook ruimte laat vir my om met jou te verskil en omgekeerd. Een van die dinge wat ek moet oor verskil is ons denke en belewenis oor God en onsself. Maar dis juis my denke oor God wat my laat besef, Christus is ewe lief vir ons albei – geen witbroodjies nie, behalwe wanneer ons sterf (dit is bloot ‘n opmerking in die konteks van Toortsie se vraag – ook fit gaan nie oor witbroodjies nie). Maar dit bly ‘n geloofswete nie, ‘n wetenskaplike bewyste wete nie. Bloggersliefde vir die jou Dina.

          Liked by 3 people

          1. Dit sal heerlik wees om met jou te gesels oor hierdie dinge, Abrie. Ook om jou te vertel van die pad wat ek gestap het om by my gevolgtrekking te kom. Dit was nie ligtelik gedoen nie, maar ek is in myself oortuig dat ek tot die regte gevolgtrekking gekom het.Ek het reeds geleer dat ‘n mens nie oor hierdie dinge kan redeneer nie, want mense glo wat hulle wil glo. Ek probeer altyd om respekvol te verskil, maar kry dikwels nie dieselfde respek terug nie. Dus kies ek met wie ek my ateïsme deel. Toortsie is een van die mense wat my respekteer, vandaar my antwoord hier op haar blog.l

            Liked by 5 people

  3. Tydens Diensjaar vir Christus het ek ‘n tong in die kies weergawe van hierdie vraag vir die kinders gevra waarmee ons in groepe gewerk het by die skole:
    Veronderstel die dak stort op ons koppe ineen een ons sterf (julle kan dit dalk nog oorleef maar ek het nie enige skok-absorberende materiaal op my kop nie, so dis vir my baie belangrik om die antwoord te he op) wat word van jou? Kan ‘n mens weet wat word van jou?

    Hierdie vraag was altyd baie moeiliker of te antwoord as:
    Is jy ‘n christen?
    net soos:
    Hoekom is jy ‘n christen ook moeiliker was as om te antwoord as is jy ‘n Christen, want dikwels sou so ‘n antwoord aandui dat hulle op grond van werke ‘n Chrsten is en nie in die verlossing op grond van Christus se kruisdood en opstanding (genade) nie.

    Maar daar was kinders wat wel die Here geken het en nie geweet het mens kan seker wees nie, vir hulle was 1 Johannes 5:13 ‘n groot troos:

    Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

    Liked by 2 people

  4. Ek troos my daaraan dat niemand op aarde die antwoord het nie, al dink hulle hulle het. Dit maak my bly en rustig, want dalk wil ons nie regtig weet nie. Ons is geskape met keuses oor wat ons wil glo en wat ek (kies om te) glo is dat die mens stoflik is, maar die siel/gees die saad van God dra en dus ewig is. Dit is net ons stoflike liggame en aardse gedagtes wat aan die aarde en die sonde gekoppel is. Die oomblik wanneer ons sterf, sterf ons stoflike liggame en word deel van die sondige aarde. Dan beweeg ons siel oor die drumpel waar slegs God heers en nie enige boosheid nie. Daar bly ons in vredige stilte en rus tot wanneer die oordeelsdag aanbreek en die skape van die bokke geskei word op grond van wat hulle (tydens hulle leeftyd op die sondige aarde) gedoen het. En daardie plek waar God heers, wat nie deel is van die sondige aarde nie, is net ‘n hartklop ver. Maak nie saak hoe jy dood is nie, die oomblik wanneer jou hart stop, is jy daar. Een hartklop ver.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!