Bolle wol

My broer se driejarige seuntjie stel vreeslik belang in my breiery en so brei ‘ons’ ‘n trui vir my seun en ek belowe hom dat ‘ons’ vir hom ook ‘n trui sal brei as die ander een klaar is. Die trui was presies volgens die mates soos aangedui op die patroon, maar helaas, die eindproduk was heeltemal te groot!

Die buurman was tog te in sy skik met die onverwagte geskenk! 😁

Nou is my breiprogram heeltemal omvergegooi, want nefie se truitjie is eerste in die ry en my skoonseun se wol reeds gekoop. Dan is daar nog die gehekelde toppie vir die VLV wat al ver heen gehekel was, tog te mooi, toe ons ontdek die dye lot verskil! So dis weer van vooraf begin en ek het dit juis gedoen toe ons in die Vrystaat was en ek tyd gehad het. So boeta, wat gereken het op ‘n warm trui vir die winter, staan nou vir eers met leë hande.

Intussen brei ek en nefie aan sy trui. ‘n Streeptruitjie, dan kan daar sommer ‘n bietjie oorskietwolletjies ook ingewerk word. Ek brei, hy knip die wolletjies af en gee vir my die volgende bolletjie wol aan. Ons werk dat dit klap!

Te gewillig staan hy nader dat ons die pante kan meet aan die lyfie.

Nou, toe rol ek ‘n bol wol wat min begin raak, op in ‘n bolletjie en skielik onthou ek my bolle wol as kind. Ek het op ‘n stadium al my ma se oorskietwolletjies op een groot bol gerol. Ek het ‘n paar sulke groot bolle wol gehad met al die oorskietwolletjies. Wat my doel daarmee was, weet ek nie, maar dit het my dae lank besig gehou. 😁 My pa het my geleer dat jy die wol so oor jou vingers moet oprol, anders is die bolletjie verskriklik hard en styf.

Nou toe! Brei, Toortsie, brei! Daar moet ‘n handsakkie en gilet ook gebrei word vir die VLV.

Dit klnk vir my na dag en nag!

Toortsie

25 thoughts on “Bolle wol

    1. Al probleem van brei op die kar, is dat jy soms ‘n pen laat val en dan is daar geen manier wat jy dit kan kry in die bewegende voertuig nie. Mens moet maar altyd ekstra penne byderhand hou. Ek het nou net al weer ‘n pen laat val.

      Liked by 1 person

        1. Dis gewoonlik regshandiges wat sommer namens linkshandiges besluit hulle sal dit nie regkry nie, maar hulle vergeet dat ons gebore en lewe in ‘n regshandige wêreld en heeltemal gewoond is daaraan om goed om te draai sodat ons dit kan regkry. As jy wil, probeer dit, dis nie moeilik nie. As jy kan hekel, sal jy kan brei ook.

          Like

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord