Salig

Ons kuier net suid van die wildtuin by ‘n wildsplaas wat semi deel is van die Kruger Wildtuin. Die seekoeie swem sommer hier naby en ons sien troppe olifante in die verte, rooibokke, selfs buffels. Ons hoor ‘n mannetjiesleeu.

Maar Toortsie wil wildtuin toe. Mens ry nie 1800 km, drie dae aanmekaar, net om die wildtuin te beskou van oorkant die rivier af nie.

Vroeërjare het ek ‘n tipe angstigheid in my gehad as ons die wildtuin besoek het: Watter diere sien ons? Sien ons genoeg diere?

Tot ek agtergekom het: Eintlik is al wat saakmaak dat ek ‘n paar keer olifante sien. Die res is ‘n bonus.

Ons ry ons eerste dag en God stuur troppe en troppe olifante. En natuurlik rooibokke en kameelperde en sebras. Krokkodille. Apies. Koedoes. Waterbokke. Die mooiste blou voëltjies.

Maar dit gaan oor meer as dit. Die afgelope week of wat se gekrap in my gemoed raak ligter, uitgesorteer in die bosveld. Ek raak rustig in my hart. Dit was gister. Ek vra vir manlief of ons vandag weer kan ry.

Hierdie keer sien ons amper nie diere nie. Dis net ek en my gedagtes in die bos en die vrede sak terug in my hart. Die onstuimigheid verdwyn. Skielik besef ek dat dit regtig nie saakmaak dat ons nie diere sien nie.

Toe stuur God die Swartwitpens. Raar. Ewe statig staan hy daar.

Ons besluit om deur die wildtuin te ry na ‘n ander hek, eerder as buite-om. En daar, in die pad, staan sewe witrenosters. Hulle hardloop tussen die bosse in, net om vir ons te gaan inwag in die volgende oopte!

Skielik is daar net orals diere! Sebras, kameelperde, bokke, ‘n hele trop buffels en weer eens renosters. Wat ‘n seën!

Het ek vertel dat ons elke middag die kar iewers onder ‘n boom intrek en ‘n middagslapie vang? 😱😂 Die beamptes het kom vra wat ons maak en was heel tevrede met ons antwoord dat ons ‘n bietjie slaap. Kan jy dit nou oorvertel! 😱

Groetnis

Toortsie

27 thoughts on “Salig

  1. AL wat ek weet is as jy wil Olifante sien en baieeeeeee naby, dan vat jy my saam. Om die een of ander rede (seker oor ek so bang is), is jy verseker om te sien, baie en naby. Geniet dit, dis die wonderlikste plek ooit

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!