Skuldgevoel en genade

Ek lees tans Sabbatsreis van Annelie Botes wat handel oor die jaar wat sy ‘n ouma opgepas het in Engeland en ek voel skuldig omdat ek nie genoeg doen vir my eie bejaarde ma en skoonma nie. Ek is ‘n swak versorger en hoe verder ek lees, hoe skuldiger voel ek. Ek voel amper net so pateties soos die patetiese vrou wie se ma dit is. Hoor hier dis ‘n fantastiese boek, julle moet dit regtig lees, ek kan dit amper nie neersit nie.

Terselfdertyd voel ek dankbaarder by die sekond vir die uitstekende versorging wat my twee ma’s geniet by ons ouetehuis. Elke oggend kom trek hulle my ma’s aan, maak hulle netjies vir die dag, sorg dat die kamers skoon en netjies is. Hulle sit by my ma om te verseker dat sy haar kos eet en hulle kyk dat sy die nodige water inneem en wat sy ookal nodig het.

Ek is nie een wat piekel om ‘n persoon nie en my ma het ook nooit daarvan gehou as daar die hele tyd om haar getrippel word nie. Skielik het sy ‘n massiewe terugslag en kan ek maar net by haar gaan sit en haar probeer kalmeer.

Maar ons vakansieplanne is reeds bespreek en betaal en met ‘n swaar hart vertrek ons. Toe ons omtrent duisend kilometers van die huis af is, kom die oproep: My ma het nog meer verswak en moet gehospitaliseer word.

Die skuldgevoelens loop hoog: Al is ek nie ‘n oppieper nie, is my plek nou langs my ma se bed, en soos die sekondes aanloop, ry ons net verder van haar af.

Laatmiddag bel ek die hospitaal waar hulle my verseker dat sy rustiger is en begin reageer op die medikasie. Ons gesels tog te lekker op die foon. Van die kleinkinders belowe om daar te gaan inloer en ek het my planne reg om ‘n vriendin te vra om daagliks by haar te gaan inloer sodra sy terug is

Ek kan nie anders nie as om te dink: Dankie vir platteland. Dankie vir wonderlike mense wat raakvat waar jy nie kan nie. Dankie vir ‘n Here wat kyk.

Toortsie

30 thoughts on “Skuldgevoel en genade

  1. My skoonma het verlede jaar weggeval terwyl ons met vakansie was. Ek dink ek het dit reeds vertel, maar op my ouderdom mag ek maar😄Voor ons weg is het sy gesê ons mag nie ons vakansie onderbreek as iets gebeur nie en sy wou ook nie ‘n begrafnis hê nie. Hierdie het my laat besluit, dis wat ek ook eendag vir my kinders gaan sê. Toortsie, jy moet glad nie skuldig voel nie, want ek is seker jou mammie sal bitter sleg voel as sy julle planne omvergooi. Jy het reeds alles gedoen wat jy kon en dis goed genoeg. Sterkte, dis nooit ‘n lekker fase in enige lewe nie.

    Liked by 1 person

  2. Moet nooit skuldig voel nie. Baie maklik gesê, ek weet. Al klink dit hoe afgesaag, gee ny net blomme wanneer mense leef en dit kan waardeer. En jy sê elke keer jy kan vir mense hoe lief jy vir hulle is. 🌻😘

    Liked by 2 people

  3. Sterkte Toorts. Ek is ook nie ‘n oppieper nie en my man en kinders ly soms daaronder… Ek ken die skuldgevoel. Ek glo sy sal sommer gou beter raak. Rus jul nou lekker en ek is seker jou kring mense sal mooi sorg.

    Liked by 3 people

  4. Jy weet Toort, jy doen so baie vir al die ander mense in jou lewe, wat opmaak vir dit wat jy nie nou dadelik vir jou ma kan doen nie. Geniet jou vakansie en los die skuld-gevoel agter jou. Alles werk altyd soos dit moet

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!