‘n Onbenulligheid wat beheer wil neem

‘n Toestel wat einlik my moet dien, het die geneigdheid om my te wil voorskryf, en dit is my wasmasjien. Kan jy nou meer! My klerewasmasjien. Hy wil alewig ‘n sê hê in my lewe.

Kyk, dat ek regtig baie dankbaar is dat ek hom het, is nie altemit nie. Ek weet nie hoe ek sonder hom sou regkom nie. En dat hy baie gewillig is om enige tyd te werk, net wanneer ek dit van hom verwag, is ook baie waar. Eintlik mag ek nie oor hom kla nie. Maar hy wil sy sê sê, sy punt maak, nie ongesiens verbygaan nie.

Met dié wat ons so pendel, is klerewas nogals ‘n Aktiwiteit. Ek dink dit is ook so vir mense wat voldag weg van die huis af werk.

Gewoonlik het ek mos maar gewas as die masjien vol is en die weer reg is en dit buite gehang, of as dit koud en nat is, in my groot opwaskombuis op die plaas. Die veiligheidshek was my ‘tuimeldroër, daar het altyd so ‘n lekker luggie deurgetrek en dan het baie van die klere aan hangers aan die veiligheidshek gehang. Tog te mooi, so tussen die tralies.

Nou pendel ons, en ek moet altyd mooi uitwerk dat die klere betyds gewas, droog en gestryk kom voor ons al weer die pad vat. En hou ons vakansie tussenin, raak dit nog méér ‘n beplanning om die klere betyds weer skoon en reg te kry.

Die snaakste tye van die dag of nag word ‘n bondel wasgoed gewas. Kan ek dit nie buite ophang nie, word dit op die staander gehang in die uiters noue gangetjie wat lei na die piepklein waskamertjie. Mens skuur so by dit verby. Eintlik, as daar wasgoed hang, word daar nie nog verbygeloop ook nie, tensy dit regtig nodig is nie! Gou, net voor ons vertrek, word daar nog gou eers ‘n bondel gewas en in die gangetjie gehang sodat dit droog is as ons terugkom.

Dis vir my tog te vreemd as mense vir my vra of dit vandag my wasdag is. Elke dag is vir my wasdag as daar genoeg wasgoed is om die masjien vol te maak! 🙂

Nou toe, daar roep die masjien, laat ek gou die wasgoed gaan uithang, hier is juis sulke belowende wolke wat hier rondhang. Ai, sal ‘n goeie bui reën nie wonderlik wees nie, wie gee nou om vir nat wasgoed!

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Musiek in die Bybel

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie

12 thoughts on “‘n Onbenulligheid wat beheer wil neem

  1. Dit klink bekend…. dag in dag uit tot deur die nag gewas toe my kinders nog in die huis was. Nou is Dinsdae my was en strykdae. Kan net dink perdebytjie het ook ‘n Speed Queen, hulle is regte werkesels. 😊 Sterkte met jou gependel en wasgoed was. Wanneer treë jy nou af?

    Like

Gesels saam, asseblief!