Die randpersoon

By ‘n leesklubbyeenkoms saam met Annelie Botes vra iemand vir haar hoekom sy juis outisme gekies het as tema vir Raaiselkind. Sy noem dat sy eintlik enige tema kon kies. Die storie gaan oor die randpersoon in die gemeenskap. Die een wat uitgestoot word. Die een wat deur die gemeenskap in die steek gelaat word.

Ons word in gemeenskappe uitgestoot oor baie dinge: Bankrotskap; My man is ‘n alkoholis; My vrou het ‘n dwelmprobleem; My kind is verstandelik gestremd; Vetsug; Ek het verlam geraak na ‘n ongeluk. Ag, noem maar op, ‘n mens kan baie maklik ‘n randfiguur raak.

Die gesin in die Raaiselkindverhaal is ‘n gelukkige gesin, alles gaan goed, totdat die outistiese seuntjie gebore word. Oor tyd verloor sy alles: Haar vriende en vriendinne; haar kerk; alles wat sy gedoen het wat lekker is; haar dogters; haar man. Almal in die gemeenskap weet van haar, maar niemand steek ‘n hand uit nie. Sy staan stokalleen, behalwe vir haar huishulp en een vriend.

Sy hou moed, probeer haar bes om kop bo water te hou, hanteer die aanslae wat na haar toe kom, verdedig en beskerm haar kind, knak soms, maar toe die tragedie kom, staan sy steeds stoksielalleen.

Ons as gemeenskap moet help, sê Annelie. Ons weet ons moet, maar doen ons? In plaas van ons rug op so ‘n persoon draai omdat ons nie die vreemde situasie kan hanteer nie, moet ons eerder onsself afvra: Wat kan ek doen om te help? Watter kleinigheidjie is daar wat ek kan maak om daardie persoon se las net vir ‘n oomblik ligter te maak.

Byvoorbeeld:

Bied aan om na die kind te kyk sodat die ma net vir ‘n rukkie iets kan doen wat sy graag wil doen, selfs al skree die kind daardie hele tyd blou moord. Bied aan om haar ander kind saam te neem as jy vir jou kind se sport ry. Neem ‘n lekker bak gaar kos vir die gesin, en in ‘n weggooibare bak sodat sy nie nodig het om die bak terug te stuur nie. Gaan haal haar emmer strykgoed en doen jy dit vir haar of kry iemand wat dit kan doen. Doen ‘n bietjie herstelwerkies aan die gesin se klere. Betaal vir haar vir ‘n haarsny. Dra finansieël by tot die spesiale skool. Gesels met die gestremde persoon, raak haar aan, moenie haar ignoreer nie.

Hierdie is maar net ‘n paar idees, ek is seker julle kan sommer nog baie idees gee en ek wil graag hê julle moet dit skryf in die kommentare, sodat ons ook kan leer by mekaar.

Is jy ‘n randpersoon? Hoe sal jy wil hê ons moet jou help? Kom ons probeer positiewe bydraes maak oor hoe ons kan help.

Mense in ‘n gemeenskap moet omsien na mekaar.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Musiek in die Bybel

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie

5 thoughts on “Die randpersoon

  1. Mense is so besig met hulle eie goed dat hulle nie altyd die nood by ander raaksien nie.
    Verder weet hulle meestal nie hoe om iets ‘anders’ te hanteer nie, dus hanteer hulle dit glad nie.

    Like

  2. Mens moet so oppas dat jy nie grense oorskry nie. Dis ‘n moeilike situasie as mens te indringerig raak in ander se lewe, met goeie bedoelings. Ongelukkig het ek dit al ervaar. Jou voorstelle is egter uitstekend, Toortsie.

    Like

Gesels saam, asseblief!