In die vorige bloginskrywing noem ek toevallig van onheilighede wat moontlik mag uitgebroei het. Ek skryf ‘n hele blog, maar Seegogga sien net daardie drie woorde raak. Hierdie val in by Sonell se uitdaging vir die week, naamlik, iets in my kinderdae wat vir my lekker was.
Ek het vertel van ons pinksterdienste op Ouplaas. Die ou omies het regs gesit, die ou tannies links. Ons gesin en die ander gesinne het bymekaar gesit. My ma het agter die klavier gesit en my pa was ouderling op daardie tyd, hy het in die voorste bank gesit saam met die diaken.
En ons drie kinders het alleen gesit.
Maar ons was soet. Voorbeeldig. Ons het ons gedra.
Ouboet wou altyd langs die muur sit, en omdat hy die oudste was, het hy eerste keuse gehad.
Middelboet het altyd gewéns hy kan teen die muur sit.
En ek? Nou ja, watter sê het ek nou gehad? Ek het maar gesit waar ek sit. Langs middelboet en stilweg wonder ek nou of dit altyd so ‘n goeie roep was.
Ons het net gesit en begin sing, toe ouboet vir middelboet fluister of hy langs die muur wil sit.
Natuurlik wil hy, en hulle ruil om.
Die res van die aand is daar aanmekaar ‘n geproes.
Want tannie Martha het haar jas oor die sitplek gegooi. (Sy het net agter ons gesit.)
So, toe ouboet gaan sit, besef hy dat hy ongemaklik sit en daarom is hy toe ewe bereid om sitplekke te ruil.
Middelboet sit toe op die jas.
En elke lied sing Ouboet vir Middelboet: ‘Sit jy lekker?’
Die res van die lied sluk hulle lag weg.
Nou, jare later, wonder ek, hoekom het ons nie net ‘n sitplek opgeskuif nie? Daar was tog 5 of 6 stoele in ‘n ry?
Groetnis
Toortsie
Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die
paddatjie:
http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781922
Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
Kostelik!
LikeLiked by 1 person
Lagtyd in die kerk was die lekkerste deel van kerk as kind. Lekker terugdink gedagtes Toorts!!!
LikeLike
En as daai lag eers begin, kry niks en niemand dit mos gestop nie, en mens mag nie gelag het in die kerk nie! So bly dis nou anders en dat die dominee sommer saamlag en dan is dit klaar en ons kan weer mooi luister.
LikeLiked by 1 person
Sjoe ja alles was so styf en formeel…. tye het omtrent verander.
LikeLiked by 1 person
Selfs in die bidure was dit ook maar styf en formeel.
LikeLiked by 1 person
Toortsie, elke so ñ herinnering raak so kosbaar vir ons. Ons eie, eie “memories” wat net ons sn is.
LikeLiked by 1 person
Ja. En kleintyd het ek altyd so na my ouma se stories geluister en gewonder of ek ook eendag stories gaan hê om vir my kleinkinders te vertel.
LikeLiked by 1 person
Ek het ook altyd gedink ek gaan nie stories he vir my kinders nie- en nou het ons! Wonderlike stories! Daai lag in die kerk: as mens eers begin het( wat jy mos nie mag doen nie) dan hou jy hom mos so in, en dan kan jy nie ophou nie! Die hele diens deur proes jy so onderlangs. Ek kan eintlik sien hoe julle daar proes-proes die diens deur!
LikeLike
En almal sien jou raak en is self ook dik van die lag! 😂
LikeLike
Die tweeling was nog klein, toe moes ek by Ouplaas by die pinkster klavier speel. Ek kry maar iemand wat na hulle kyk, maar hulle wil graag saam. Een aand neem ek hulle saam. Hil sit by manlief terwyl ek speel. Tydens die preek en gebed gaan sit ek by hulle. Maar die een is ondeund en kort voor lank het hy ‘n tiekel. En toe ek net effens glimlag, skater hy van die lag. Kliphatd. Dit was’n lang aand.
LikeLike
is jy by die huis?
LikeLike