Skryfsafari: My lekkerste herinnering as kind

Sonell het gesorg vir hierdie lekker uitdaging. Baie dankie daarvoor.

Eintlik is dit ‘n moeilike onderwerp, want wat moet ek kies? Ek het wonderlike kinderjare gehad. Sorgvry. Gelukkig. Die ergste ding wat in my lewe kon gebeur, was as my broers my geterg het, en hoe erg kon dit nou regtig wees?

As koshuiskind was die hoogtepunt van my week natuurlik om naweke huis toe te gaan. Dan moes ek in ‘n naweek alles gedoen kry wat die dorpskinders in ‘n hele week doen. Vir huiswerk was daar nie tyd nie.

Maar wat was vir my die heel lekkerste? Om saam met my pa op die plaas rond te ry? Om by tannies Mags en Willa te gaan kuier? By my ouma op die appelplaas? Of was dit die heel lekkerste as die niggies by ons kom kuier het? Hoe sal ek kan kies?

Een iets wat nou nog by uitstaan, was Pinkstertyd. Ons het op Ouplaas pinksterbidure gehou. Al die boere van daardie ontrek het daar saam pinkster gehou, en as ek dit reg het, word daar steeds pinksterbidure gehou. Daar het tussen 40 en 60 mense gekom.

My ma het die klavier gespeel en vir my was die heel lekkerste die baie liedere wat ons dan gesing het. Hallelujaliedere. Ek het hulle almal geken. Ag, en die mense het getrek as hulle sing, maar dit het nie saak gemaak nie. ‘Bring my die ou-ou tyding’; Strome van seën van bowe’; As Hy weer kom’; Geseënde Jesus, o Heer van my hart’; ‘Daar’s ‘n dierbare kruis’; noem maar op, ek het hulle geken en gesing. En dan was daar baie geleentheid vir gebed en het ons deur ons vingers geloer om te sien wie bid.

Die ou Ouplasers, dis nou hulle wat ouer as my ouers was, het nog die ou gewoonte gehad: Die mans het aan die regterkant van die paadjie gesit en die vroue links. Toe my ouers getroud is, het die gewoonte verval en het die nuwe jonggetroudes almal as mans en vrouens saam gesit.

Oom Johnie (uitgespreek Jônie) was ‘n platjie, ‘n kindervriend, en as ons die keer by hom kon sit, was ons in die sewenee hemel.

As my pa op die kerkraad was, moes hy voor sit en my ma natuurlik agter die klavier, wat ons drie kinders dan alleen in die bank gelaat het. Soms het daar dan ‘n onheiligheudjie of twee uitgebroei, maar darem nie te erg nie.

Groetnis

Toortsie

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die

paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781922

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

26 thoughts on “Skryfsafari: My lekkerste herinnering as kind

  1. Musiek speel al van kindtyd af ‘n groot rol in jou lewe. 😊
    Tot ek wat nie kan sing nie was gaande as kind oor die een maal ‘n maand se bymekaarkom (na die Sondagaanddiens) by ‘n huis waar daar ‘n klavier was om hallelujahliedere te sing. Ons kinders mag gaan speel het maar ek het net daar langs my ma gesit en luister… was so mooi.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!