Kameel – spring diepwater in

Op 16 November 2011 het ek op aanmoediging van Toortsie my eerste blog by haar geplaas. Toorts het opgeskuif en vir my plek gemaak… want sy kon sien op my eie sal ek nooit ‘n blog begin nie. Nou amper sewe jaar later neem ek ‘n sprong en begin my eie blog met die hoop dat ek intussen meer selfstandig geraak het 😊 en kan swem sonder bangwees vir verdrink. Ek sal Toorts altyd dankbaar bly vir haar geloof in my, en haar hulp deur die jare. Dankie ook aan julle almal wat gelees en saamgesels het….. en so deel van my lewe geword het.

My nuwe blogadres is https://kameel179438031.wordpress.com

Ek plaas die blog waarmee ek daardie dag 16 November 2011 mee afgeskop het.

Nou ja, die gordyn lig en daar staan Kameel in Toortsie se lig.  Dit het heelwat aanmoediging van Toortsie geneem – en sy moes ‘n slag of twee die leisels stewig vasvat – om Kameel in die kollig te kry.  Kameel sou jou waarlik nog heerlik agter die skerms gesit en kommentaar lewer het, was dit nie vir Toortsie nie.

Die kollig is nou eenmaal nie vir my nie, en die kere dat ek dit wel gehaal het, was definitief nie te danke aan my ywer nie.  Nee, ek is in die kollig ingestamp, of het per toeval daarin gestruikel, of is aangemoedig, en het met my oë styf toe die sprong gewaag… hopende dat die lig intussen verskuif het.  Wat doen ‘n kameel as die lig op jou val?  Jy “perform,” of jy stap kop onderstebo van die verhoog af… terug woestyn toe.  Tot dusver het ek deur genade, nog altyd vasgebyt en eers pad gevat wanneer die gordyn gesak het.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, Toortsie het my nie hardhandig behandel en buite my wil verhoog toe geboelie nie – dit is daardie lig van haar wat in dieper plekke inskyn, om dit wat in die duister is lig toe te bring.  So het haar lig geval op ‘n behoefte diep binne my om miskien – net miskien, iets vir iemand wat ook woestynpad stap, te beteken.

Toortsie, om Kameel ‘n rolverdeling op jou blog te gee mag sy nadele ook hê; met tye gaan die roepstem van die stilte te sterk word om te weerstaan, en ek gaan vir ‘n tyd lank daardie stilte opsoek waar ek alleen met my God kan wees.

Kameel

34 thoughts on “Kameel – spring diepwater in

              1. Moenie sleg voel nie…. terwyl ek dit getik het dink ek aan mnr Bekker se kaalkop en smile. Blykbaar is dit die haarloses wat meer in my sien as ander.

                Like

    1. Toorts het gesê ek is van tiener nou ‘n jong volwassene (as ek dit al vir jou gesê het sorry) daarom het ek nou weggedoen met my langbeen kameel. 😀😀😀😀

      Liked by 1 person

  1. Het jou voetspore deur blogland gevind. Jy gaan dit geniet om onafhanklik te beweeg. (Op oomblik sit ons met sneeu op berge en ek wil so half voorsien dat dit vanmiddag dalk op seevlak kan sneeu. Brrrrr, koud en verkoue. Sit en uitkyk deur venster terwyl ek hier skryf! Trompie is opgekrul op n stoel. Ongewoon vir hom! Hy kry maklik warm.) lekker slaap!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!