Kameel – Kindwees

Skryf Safari– Jou gelukkigste herinnering as kind.

IMG-20160118-WA0006-1

My kinderlewe het in hierdie laaste paar dae voor my afgespeel, en dit was so ‘n ryk vol lewe, met soveel lekker dat ek nie een gebeurtenis kan uitsonder nie. Ons het in hierdie absolute rustige ouerhuis grootgeword met grootouers wat op ‘n plaas in Botswana gebly het, waar ons as kinders ons vakansies deurgebring het. Om van graad een – saam met jou tien en elfjarige susters op ‘n trein gesit te word – om vir oupa en ouma te gaan kuier was een groot heerlikheid. Die slaap op die trein; ouma se beskuit; kaalvoet saam met Stilo (ons plaasmaatjie met net ‘n velletjie om hom te bedek) veld in te verdwyn om klei-osse te maak; die beeskraal en koppies warm melk… vars uit die koei se spene; grootoog luister na feëverhale by kerslig; saam met ouma die mooiste krale uitsoek om vir die feëtjies – wat in die maanlig op die eetkamertafel dans – neer te sit; die horrelpoot muil plaaspad af te ry; kniediep in die slyk in die plaasdam te swem, en vir die treindrywer en stoker te waai; op dieseldromme resies hardloop “long drop,” toe (dat ons nie ons nekke gebreek het nie was net genade.) In die “broodboom” met sy dik takke rond te klim en klouter, en van die hoogste tak af in die hoop droeë mielieblare te spring… suurlemoensap aan ons skurwe velle smeer na badtyd was nie so lekker nie; hanslammers voer; saam met oupa op die trekker ry mielielande toe…. en so kan ek aangaan.

By die huis het net soveel lekker dinge gewag…. al het ons kinders ons oë dik gehuil nadat ons van die plaas af teruggekom het. My kinderlewe was alles behalwe vervelig. Goeie maatjies; onder straatligte speel…en kattekwaad aanvang; ure in die park; n biblioteek vol boeke; die dominee se moerbeiboom, die Randse Paasskou, die dieretuin, die dieretuinmeer en my pa wat die bootjie roei, stad toe saam met my ma en die “pie, chips en gravy” by die groot OK; Ou kersaand en my pa in sy kersvaderklere, Willem ons loseerder wat gewigte stoot, en saam met my op die grasperk op ons hande loop.

Daar is meer, maar vir nou is dit genoeg. Ek besef net weer hoe dankbaar ek kan wees vir die huis waarin ek grootgeword het. Die ouers, en grootouers wat ek gehad het, en die mense klein en groot wat my lewe so verryk het.

Dankie Sonell vir die uitdaging, maar boweal dankie Vader vir dié rykdom wat ek uit U hand ontvang het.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die

paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781922

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

41 thoughts on “Kameel – Kindwees

    1. Ek het nounet Francine Rivers se boek The Masterpiece klaar gelees. Kort kort wou ek breek van hartseer oor die lewe van die twee karakters se kinderlewens. Tussendeur bedink ek ons uitdaging en die besef van hoe goed God vir my was om my in so ‘n ouerhuis te laat grootword het, het my volbors getref.

      Liked by 3 people

    1. Geen bang vir enige gevaar van buite gewees nie…. net vir die spookstories wat almal so lief was om te vertel 😨 Tot dit was ‘n lekkerte 😀😀😀😀

      Liked by 1 person

    1. So skurf dat die bloed amper deurslaan daar uitgekom… maar spring het ons gespring 😀😀😀😀 Weet jy Frannie, ek het mos my rug op God gedraai en die wêreld ingestap op agtien. Met my lewe in een groot gemors en sterk oppad om my ellende daagliks weg te drink droom ek een nag ek stap op die plaas in die veld met ‘n voetpaadjie langs. My oupa (toe lank reeds oorlede) kom van vêr af aangestap… hy stap verby my maar kyk my direk in die oë en sê “Bekeer jou.” Wakker het die droom my bygebly alhoewel ek nie geweet het wat hy bedoel het nie. Kort daarna het Jesus my self uit die donker kom haal en Lig toe gebring. Ek onthou as kind my oupa se gebede vir ons (na huisgodsdiens) terwyl die trane oor sy wange loop. Ek het dit nie toe verstaan nie… maar hoe absoluut geseënd was ek nie.

      Liked by 3 people

  1. Sjoe dis darem lekker om so terug te dink. Jou jongwees dae was darem vol liefde en samesyn gewees. Baie van die dinge waaroor jy praat het ek ook ondervind. Daardie mielieblare het ek ook beleef gedurende ons eerste plaasvakansie in 1952 net nadat ons in SA geland het. Daardie regte egte plaaslewe was besonders. Ons het selfs een aand n regte boeredans vejaardagpartytjie bygewoon. Daardie laatnag terugry, moeg en uitgekuier onthou ek steeds soos gister(Was to skuins na 6 jaar!)

    Liked by 1 person

    1. Scrapy die plaas was vir my heilige grond. Hier loop die trane….. hoe heilig het ek eers besef ‘n paar jaar gelede toe ek weer na al die jare op die fondasie van die ou plaashuis staan. Daar gebeur toe iets slegs daar…wat my binneste uitmekaar skeur. Ek besef dit was die werk van ‘n bose mag… maar daardie dag het ek diep seergekry op die plek van my kosbaarste herinneringe. Ek moet hierdie seer verwerk maar weet nie hoe nie. My hart is vol… jy kan dit seker hoor.

      Like

      1. Ja, liewe mens. Wens regtig ons kon met mekaar gesels. My “memory healing” kan baie vir jou beteken. Dit het vir my ook werelde oopgemaak waarvan ek nooit werklik bewus was nie. Tog moet jy onthou dat daar regtig n Heilige Leier is wat jou help om elke dag te kan voortleef.
        My plaasondervindings is ook vir my baie kosbaar. Dit was swaarkry tye maar tog baie verrykend as mens so terug dink.

        Liked by 1 person

        1. Sonder Hom sou ek lankal ‘n einde aan alles gemaak het Scrapy. Ek vergewe…. lê dit voor Sy voete… maar die pyn as hierdie insident by my opkom wil nie weggaan nie. Ag jy moet seker gaan slaap… en ek moet my trane afvee en verder gaan.

          Like

          1. Ja, dis nie lekker nie. Het klaar geslaap en oggend werk gedoen. Daardie pyn bly tog maar by al is dit verby en “begrawe”. Ek het bv 2 jaar na my man begrawe is terug gegaan na die graf. Dit was verwaarloos en geen beloofde kopstuk was nog opgesit nadat familie belowe het om dit te doen. Hulle wou begrafnis he terwyl my man gevra het om veras te word. Daardie teruggaan het my met intense pyn en jammerte vervul. Tog kan mens dit nie verander nie. Ai nou gee ek n hele uitleg wat dalk maar kon gebly het. Lekker slaap.

            Liked by 1 person

            1. Dis vir my goed om ander se seerkry issues te hoor scrapy… voel dan nie so alleen in hierdie stryd om seerkry dinge te verwerk nie.

              Like

                1. Het nuwe blog begin… of weet jy dit? Toorts sê ek is nou uit my tienerstadium dus het ek my langbeenkameelprentjie verruil vir ‘n meer waardige kameel 😀😀😀

                  Like

                    1. Ek het nuwe adres maar dis ‘n tweede blog by Toorts. My nuwe adres is in my laaste skrywe by Toorts…. nou kan ek nie eers die naam van blogpost onthou nie. Sal kyk of ek dit vir jou kan aanstuur.

                      Like

    1. Blykbaar moet jy eers gewigte stoot… daardie man kon vir baaaaie lank op sy hande loop, en het my geleer. Ek dink dun lysies loop is gevaarliker… het mos gesien waar klouter jy en iou vriende rond.

      Like

    1. Dit is soos ‘n ou kis vol herhinneringe oop te maak en alles weer te bekyk. Dink net hoe moeilik is dit as daar nie lekker herinneringe daarin is nie maar seerkry dinge uit jou verlede!!!

      Liked by 1 person

        1. Het oor naweek Christine Rivers se nuutste boek The Masterpiece klaargelees. Die twee karakters se kinderlewens het my so omgekrap met die besef dat dit in die werklike lewe wel so gaan. Mooi dag vir jou 😊

          Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!