Skryf ‘n opstel

Hoekom skryf ek keer op keer wenke oor opstelle? Ek weet nie eers of dit enigsins vir iemand help nie!

Lank gelede het ek iets geskryf oor ‘n opstel of ‘n mondeling of iets. Sedertdien stuur Google gereeld mense na my met onderwerpe: Skryf ‘n opstel oor gestremdheid; Skryf ‘n opstel oor my huis die beste plek; Skryf ‘n opstel oor … Ek is nie seker of dit juffrouens is wat onderwerpe soek nie, of mammas wat idees soek nie, of kinders wat besig is met hulle huiswerk nie. Dalk soek iemand net idees om ‘n opstel te skryf, dalk soek iemand ‘n klaarverpakte opstel om net af te skryf, wat hy nie hier sal vind nie.

In my hart wil ek uitroep dat dit asseblief nie mammas is wat hulle kinders se werk doen nie. Asseblief nie! Mammas, moenie dit doen nie. Moenie julle kinders se opstelle skryf nie. Daardeur help jy NIE jou kind nie, al voel dit vir jou so. Daardeur VERSWAK jy jou kind. Die doel is dat jou kind ‘n skryfgeleentheid sal kry, ‘n geleentheid om sy gedagtes te probeer neerpen. Ja, dalk kry hy hierdie keer ‘n swakker punt as hy dit self geskryf het, maar vir hom beteken dit soveel meer om dit self te doen sodat hy dit volgende keer beter kan doen. En wie sê dat syne swakker gaan wees as joune? Hy het dalk ‘n verborge talent wat smeek om uit te kom. Gun hom die kans om dit te doen, asseblief.

Wanneer ek dan oor ‘n opstelonderwerp skryf, is my doel om sommer die persoon se kop aan die dink te sit. As kind was my grootste struikelblok nie om die opstel te skryf nie, maar WAAROOR. WAT skyf ek? Ek kon net nie genoeg woorde bymekaar kry nie. My werk was ‘n gekrap.

Daarom probeer ek sommer gedagtes deel van waaroor om te skryf. Nie skryfstyl nie, want ek weet nie presies hoe die onderwysers die werk wil hê nie. Ek moedig kinders ook aan om oor hulle eie ervarings en gedagtes te skryf. Ons almal het ‘n storie, ons moet net oor die bruggie kom en leer om dit neer te skryf. Ons moet die moed bymekaarskraap om ons storie te verwoord.

Een van die grootste foute wat ek my lewe lank gemaak het, was om te skryf soos ek dink die juffrou wil dit hê. Natuurlik moet ons die riglyne volg, maar skryf dit wat jy wil skryf, dit wat op jou hart is.

As dit vir net een persoon help, dan was dit die moeite werd. Die opstelle is almal HIER te kry.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Verrassend anders

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie

24 thoughts on “Skryf ‘n opstel

    1. Ek dink net ons het geen lewenservaring gehad nie. Hoe moes ons weet WAT om te skryf. Maretta Bellingan het een keer ‘n idee in my kop gesit en daar skryf ek ‘n opstel van my eie wat mnr van Zyl vir die klas voorlees. Die volgende week vra ek weer by haar vir ‘n idee en loop myself in ‘n slaggat in 😂

      Like

    2. Een keer moes ons ‘n afsêbrief skryf in St 6. Ek het nog pop gespeel, nie eers gedink aan kêrels nie! Ek het my eerste kêrel op universiteit gekry. Dit was ‘n fiasko. Die onderwyser het ‘n grap van my gemaak.

      Like

  1. Almal is nie kreatief as dit by gedagtes neerpen, kom nie. Jy is egter reg…dit moet geoefen en ontsluit word en oorywerige mammas doen baie skade met ” hulp” aan kinders. Die beste manier om dit stop te sit, is dat die opstel in die klas geskryf word. Ons het dit nooit tuis gedoen nie.

    Liked by 1 person

    1. As kind was dit vir my ‘n berg en ek wou so graag ‘reg’ skryf. Die eersteding wat my ma elke Vrydag as ek by die huis kom, gevra het, was wat die opstelonderwerp was en ek het dit altyd verkeerd hanteer!

      Liked by 1 person

  2. Ek dink dis waar my skrywery begin het. My onnie se kommentaar op een van my opstelle was ” jy kan in n puik skrywer ontwikkel”. Dit het my motiveer om te probeer en ek kon haar woorde nooit vergeet. Dankie Vader vir sulke mense

    Liked by 1 person

  3. Ek is in standerd 7 of 8 uit die klas uitgejaag na ‘n onnie gesê het my opstel oor my aand saam met Cliff Richards was my ma se werk…. dis te goed geskryf. Natuurlik het ek haar geback- jat…. liewe wat weet my ma van Cliff af… ek was mal oor hom.

    Liked by 2 people

  4. My Afrikaanse onnie het daai dood gedruk by so baie, nie net opstel nie, maar Afrikaans self. My baie lank na skool gevat voor ek besef het ek sal haar nie langer daai ‘power’ oor my of my taal gee nie, sy het genoeg verwoes in haar lewe. En vandag is ek baie bly, sukkel nog met goete skryf, maar geniet dit vreeslik en hier laat julle my dink aan stories en Afrikaans, dankie🌻

    Liked by 1 person

    1. Soveel keer praat mense maklik, maar skryf daardie selfde praat neer, dan kan hulle nie. Ek dink dis ‘n rivier wat jy moet oor, om jou gedagtes neer te pen, en as jy daar oor is, is dit so maklik.

      Like

  5. Opstel skryf het gesorg vir baie hoë punte in my taalvakke en ook maar goed, want aan die taalreëls het ek my minder gesteur. My matriekonderwyser het my ‘n “vrystyl”-skrywer genoem – ‘n mooi manier om te sê ek verwoes die taal so effens 😀 Ek kry ook baie opstel-navrae hier by my, met “opstel my vakansie by die see” natuurlik voor in die koor. Dis darem goed om te sien die kinders soek vir inligting en inspirasie, rammel nie net die taak af nie.

    Liked by 1 person

  6. Ek het kleintyd vir my niggie begin stories skryf. As ons mekaar vakansies gesien het, kon ek dit vir haar voorlees. Op skool het die te veel reëls my ook bietjie lamgelê. My Afrikaanse hoërskool onnie het ook glad nie ñ liefde vir die taal gehad nie, dit was maar net ñ vak. Ai.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!