Kameel – Troeteldiere en trane

08-27 01Skryfsafari – Troeteldiere en trane

In my vorige skrywe het ek vertel van Duncan, die Schnauzer wat uitgesit moes word omrede die skade aan sy tong. Wel Chanté en haar hondeliefhebber vriendin het mekaar se skouers natgehuil… maar daar is nog Chanté se twee dogtertjies wat die dood moet verwerk.

Sewejarige Vilani was hartseer, maar kon van die seer verwerk deur prentjies te teken, en briefies te skryf wat sy en Chanté in Duncan se bedjie gaan neersit het. Vierjarige Zanté is egter ‘n ander storie. Sy vra aanmekaar wanneer kom Duncan huistoe…haar ma moet veearts toe ry en Duncan gaan haal. Ten einde raad sê Chanté Duncan is nou by Liewe Jesus en sy kan hom nie gaan haal nie. Dit troos haar ‘n rukkie en dan wil sy weet hoekom moet hy by Liewe Jesus bly en nie by hulle nie. “Omdat Liewe Jesus met hom wil speel,” antwoord Chanté. Daardie aand bid Zanté en sê vir Jesus hy kan nou vir Duncan terugstuur, hy het lank genoeg met hom gespeel….. en die aand daarna is dit dieselfde gebed. Chanté sê toe vir haar om nie weer te bid dat Duncan moet terugkom nie…. hy bly nou by Jesus. Gisteraand bid sy weer ernstig dat Jesus Duncan moet terugstuur. Meteens onthou sy haar ma se woorde en sê dis reg Liewe Jesus kan maar met Duncan speel…. maar gee dan vir hulle ‘n nuwe hondjie. Nou word daar dringend na ‘n baba Schnauzer gesoek om Duncan se plek in te neem.

Dit is hierdie deel van diere as troeteldiere aanhou wat gemaak het dat ek weier om weer my hart oop te maak vir ‘n troeteldier. Liewe genade, die trane wat ek al oor katte en honde… en die kinders se optel voëltjies gehuil het…. asof daar nie genoeg mense is om oor te huil nie. Die vier honde in my foto is op die erf, maar hulle behoort gelukkig nie aan my nie. Brutus (nog puppy in die foto) is nou ‘n uitgegroeide hond. Elke keer wanneer een van skoonseun se rottweilers doodgaan huil ek ook… maar ek treur nie soos ek voorheen oor my diere getreur het nie. Enough is enough!!!

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

Jou InLinkz skakel is http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=780871

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

16 thoughts on “Kameel – Troeteldiere en trane

  1. Die liewe diere bring so baie liefde en geluk in mens se lewe en dan netsoveel hartseer ook as hul nie meer daar is nie. Ek is nie n huilerige ou nie. Maar dit maak my baie hartseer om hul te groet. My boerboel Boesman was n groot baba. Hy moes uitgesit word omdat hy begin ou hond probleme kry. Toe ek wegry van veearts het ek rerig gehuil. Ek was so lief vir die ou hond gewees. Eintlik vir almal wat ek al gehad het. Op hierdie stadium kan ek nie glo dat ek so lief vir n dier kan wees soos wat ek nou vir Trompie is nie. Ek wil nie eers daaraan dink dat hy iets moet oorkom nie. HY is rerig my liefste brakkekind en hy weet dit. Hy gee alles wat hy in hom het aan my. Hy het selfs nou begin om onderdanig op te tree teenoor my(waarvan ek nie hou nie) Hy bly maar n softie.

    Liked by 1 person

      1. Scrapy hoe is dit dat party mense damme vol trane huil en ander nie? Ek dink al my botteltjies in die hemel is propvol gehuil… en die engel wat my trane moet opvang leen nou bottels by die engele van die nie huilendes. Ek het dan vroeg vroeg in my lewe staan en huil toe ‘n winkeleienaar ‘n boemelaar uit sy winkel uitjaag. Ek is nou moeg gehuil oor die wêreld en my eie pyn. Hoe is dit dat jy nie huil nie… ek soek jou geheim. Mooi dag vir jou.

        Like

  2. Ek voel ook so, genoeg is genoeg. As Kieter en Emma die dag weg is, sal ek nie weer by ñ troeteldier betrokke raak nie. Al het hulle soveel vreugde in my lewe verskaf. Die kinders en kleinkinders plus manlief en Boeta is oorgenoeg.

    Liked by 1 person

    1. My sus het een aand gedroom sy sien my ma pragtig en flink in die hemel loop, met haar geliefde Lollie al drawwend langs haar. Ons kyk voorwaar in ‘n raaisel.

      Liked by 1 person

      1. Het dit al op die blogs vertel – maar dis so mooi, ek vertel weer: Toe my dogtertjie ‘n jong vrouedominee vra of daar katte in die hemel sal wees, het sy geantwoord dat sy glo alles wat mens gelukkig maak, sal daar wees.

        Liked by 1 person

  3. Kinders moet troeteldiere hê, dus hoop ek daar kom weer ‘n hondjie om in Duncan se plek te speel. Nou in verband met die troeteldiere wat dalk hemel toe gaan – hier is ‘n hele paar mense wat baie besige huishoudings gaan hê.

    Liked by 2 people

    1. Laat jy my lag. Kyk daar is een kat en een hondjie wat ek nie sal omgee om weer my lewe mee te deel nie…. maar.hopenlik nie almal nie. Oubaas met sy skewe mond het gesorg vir baie grys hare en ek kan doen sonder sy manewales. Ook die kat wat selfmoord gepleeg het. Laat ek maar hier stop 😊

      Liked by 2 people

  4. Die dag toe ek by die veearts my geliefde Sylke moes laat uitsit het ek damme vol gehuil en agter na as ek ń Weimeraner gesien het, het die trane weer gestroom. Haar seun Jubie het kort voor sy een jaar herdenking gif ingekry op die plaas en ek moes by sy teaterbed, met sy ou oop lyfie van hom afskeid neem. Ek en my man het hom daardie dag in die reën langs die rivier gaan begrawe en ons het geween. Dis so seer om afskeid te moet neem, maar die onvoorwaardelike liefde wat hulle jou in die lewe skenk kan nie eers vergelyk met die seer van die afskeid nie.

    Liked by 1 person

    1. Ek het oor my pedigree Camilla maltesie getreur so erg soos ek oor my ouers getreur het…. en daar het ek besluit dis die laaste.

      Like

Gesels saam, asseblief!