Miriam

Ewe skielik kyk ek met ander oë na Miriam, die suster van Moses en Aäron. Ja, sy speel ‘n rol, maar dit was of ek haar altyd misgekyk het. Totdat ek in die Leefstylbybel vir Vroue die beskrywing oor haar gelees het wat by Miga 6 geplaas is.

Miriam was ‘n profetes, maar ek het dit nooit besef nie. Skielik maak dit ook vir my sin.  Sy was die eerste vrou wat ooit daardie titel gekry het.

Die Leefstylbybel noem dat sy baie agter die skerms gewerk het en dís dalk hoekom ‘n mens haar maklik kan miskyk.

Miriam was die een wat die klein baba Moses in die mandjie op die rivier moes oppas toe hy daar weggesteek was sodat die Egiptiese soldate hom nie kon kry nie. Toe die farao se dogter hom egter ontdek, is dit sy, Miriam, wat die planmaker is (tipies profeet) en voorstel dat haar eie ma, ook Moses se ma, hom kan voed en daardeur sorg sy dat Moses wel ook ‘n Hebreëropvoeding kry, so tussen die paleisopvoeding deur.

Miriam was ‘n musikant en leier, en toe die Israeliete uit Egipte weggekom het op ‘n wonderbaarlike manier, was dit sy wat die vroue gelei het en vreugdevol met die tamboeryne in die hand, gesing en gedans het.

Tipies profeet, was Miriam geneig om gou te praat en dan dinge te sê wat sy nie moes nie. Toe sy vir Moses aanspreek, teen God se wil, het sy melaats geword. Vir sewe dae was sy uitgesluit uit die kamp en het die Israeliete nie verder vertrek voor sy nie gesond was en kon saamgaan nie. God het vir haar genade bewys nadat Moses vir haar by Hom gepleit het.  (Kyk net weer eens God se liefde raak, te midde van die straf!)

Miriam het deur hierdie nare voorval geleer dat alhoewel sy nie die leier was wat sy dalk graag sou wou wees nie, sy ook ‘n wonderlike en onmisbare rol gespeel het deur die leier te ondersteun. Sy het geleer om in die skadu te skitter. (Leefstylbybel vir vroue: bl 159)

Miriam was ‘n indiwidu wat uit eie reg ‘n bydrae gemaak het in die geskiedenis van God se volk. (Leefstylbybel vir vroue: bl 1120). 

Ek en jy kan ook ‘n verskil maak in die lewe van ander mense en in God se koninkryk, Kom ons doen dit!

Groetnis

Toortsie

19 thoughts on “Miriam

      1. Hehehe…..vele Bybelse figure pas my tot ‘n mate. As mens ‘n profetiese roeping het, maw om op te roep tot bekering en te waarsku teen verval, sal jy noodwendig op tone trap. Om te swyg as iets verkeerd gaan, is nie noodwendig natuurlik nie.

        Liked by 1 person

          1. Ek het ‘n destruktiewe joernalis vasgevat vanoggend. Ons bring positiewe verandering in die middestad sonder om treine of hospitale te brand, beweeg onder die radar. Die mense maak nuus net om gesien te word.

            Liked by 1 person

  1. Dit is so ‘n verligting om te weet dat ander mense ook sukkel met sekere goed. Dis nie net ek wat ontaktvol is nie! Ek wonder wat was Miriam se persoonlikheidstipe…. Ek dink ek en sy sou baie goeie vriendinne gewees het!

    Like

  2. Eers praat en dan dink beteken darem dat jy eerlik is, want jy dink nie lank genoeg om ‘n leuen te vertel nie. ‘n Ware rariteit en ‘n aanwins in ons land. Onthou net om te oefen om mooi om verskoning te vra wanneer nodig.

    Like

Gesels saam, asseblief!