Jou bed opmaak? Of nie?

Daar is mos so ‘n video wat soms op Facebook omgaan, van een of ander hooggeplaasde se toespraak en hy sê dat, deur jou bed op te maak, bepalend is vir baie dinge wat in jou dag gebeur. Ek stem nogals saam met baie wat hy daar sê.

Ek skryf hierdie bloginskrywing na aanleiding van ‘n vorige inskrywing van my, Veranering begin by my,  ‘n opstelonderwerp wat mense by my laat beland het. Ek noem o.a. dat jy jou eie bed moet opmaak in die oggend. Seegogga sê sy sukkel soms daarmee, en ek erken, ek ook!

My skoonma het my geleer om sommer vroegoggend jou bed op te maak, en ja, ek doen dit nie heeltemal so vroegoggend nie, maar wel.

My slaapkamer is my veilige hawe. Natuurlik is my huis my veilige hawe, maar soms kan ‘n huis erg besig, erg deurmekaar raak, veral in ‘n gesin van vyf lede, toe ons almal nog in die huis was. Elkeen van die vyf mense leef mos in die huis, en as daar in ‘n huis geleef word, bly dit nie netjies nie. (My house is clean enough to be healthy and dirty enough to be happy. )

Veral as die kinders nog klein is, kan ‘n huishouding soms oorweldigend raak.

Kom jy by jou rekenaar, moet jy eers vir jou ‘n ‘plek maak’ om te werk, omdat daar ander handjies daarby betrokke was. Ander handjies het jou sker gebruik, en dit nie teruggesit op sy plek nie. Ander handjies het daar geknip en die knipsels lê steeds daar rond. Ander handjies het jou goed rondgeskuif.

In die kombuis het jong kokke hulle kookvernuf uitgetoets.

By die TV lê daar dalk speelgoed die wêreld vol en moet jy eers help oppak voor jy kans kry om ook net ‘n oomblik lekker te sit.

Die kinders se slaapkamer is natuurlik ‘n storie van sy eie! 🙂

Daarom was my slaapkamer altyd my ‘heilige’ plek, my veilige hawe.

Vanaand, wanneer ek oormoeg kamer toe strompel, wou ek lekker gaan bad selfs al moes ek eers ‘n spul speelgoed uit die bad haal en dan wou ek net in my netjiese, skoon bed klim wat vir my wag, opgemaak en reg. As ek dan nog eers vir my ‘n lêplekkie moes skrop, sou selfbejammering beslis die oorhand kry.

Daarom het ek nie ‘n te vreeslike spelery in my kamer toegelaat nie en sou daar gespeel word, moes die speelgoed weer terug na waar dit hoort. Sou ek in die nag opstaan om ‘n kind wat my nodig het, te gaan help, wou ek nie in die donker op speelgoed trap nie.

My slaapkamer is regtig my veilige hawe waar ek my battery kan herlaai vir die volgende dag met sy eie uitdagings, die plek waar ek aan my man en huwelik kon aandag gee. My plek.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Die waarde van my bidboek.

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie

15 thoughts on “Jou bed opmaak? Of nie?

  1. Al was my bed die kinders se kuierplek was hy altyd opgemaak. Ek hou nie van ‘n onopgemaakte bed nie…. maar moet sê ek raak al minder lus vir die daaglikse taak. Dis soos skottelgoedwas…. hou nooit op nie 😕

    Liked by 1 person

  2. Dit is so interessant. Ek het gedink ek is die enigste een wie se kamer en bed ‘n hawe is.
    Alhoewel ek nooit lief was vir bed opmaak nie, het ek dit maar gedoen omdat die kamer dan netjieser lyk. Maar ons kamer en bed het ook mettertyd my hawe geword. In ‘n kleinerige huis met geen studeerkamer nie, het ek begin besef dat met die TV altyd-spelend in die sitkamer op sportkanale en die kinders wat hulle eie ding doen, is daar niks meer helend vir my siel as om kruisbeen bo-op my bed (met sy pragtige musiek-tema duvet) te gaan sit, met ‘n goeie boek of my skootrekenaar nie. Dis my persoonlike spasie en my huismense is geneig om my met vrede te laat wanneer ek daar sit. So, as ek nou in die oggend vaak-vaak uit die bed uitrol. doen ek dit met die punte van die komberse reeds in my hande om die bed eerste op te maak. En as ek dan so kyk na my pagtige netjiese musiek-bed, is my siel ook sommer rustig vir die dag. Ek is baie geseënd met ‘n man wat nog nooit omgegee het om onder skoenlappers of musieknote te slaap nie. Hy weet wat my siel nodig het om rustig te wees. Ek sal altyd dankbaar wees vir hom!

    Liked by 1 person

  3. Ek is hopeloos met hierdie bed opmaak ding. As my oogies oop gaan dan zombie ek eers na die koffie pot waar sonder ek seker is ek nie gaan kan verder loop en sodra ek wakker is, is ek so besig met ander snert dat ek heeltemal van die bed vergeet. Skande ek weet maar ek werk daaraan

    Liked by 1 person

  4. Ek sit nog in die bed, dan trek ek al die lakens en komberse so reg om my. Dis veel makliker as om rondom die bed te hardloop met die opmaakslag. As ek dan uitklim, is dit net hier en daar regtrek en kussings pof en siedaar…maklik!

    Liked by 1 person

  5. O nee, ek kan nie met onopgemaakte beddens of vuil skottelgoed saamleef nie. Wasgoed is ‘n ander saak – my strykgoed en wasgoed wegpak staan heel dikwels oor tot wanneer ek begin agterkom die klere in my laaie raak nou effens min.

    Liked by 1 person

      1. Die skottelgoedmasjien is nogal ‘n redding, maar myne het afgesterf as gevolg van die waterprobleem hier rond. Soms was ons ‘n dag (of dae) sonder water en dit word mos altyd afgesny in die middel van ‘n siklus – dan sit jy met ‘n masjien vol water en half vuil skottelgoed. Wanneer die water weer aankom, is dit modderig en onwelriekend. Toe gee die masjien die gees en ek het besluit om hom nie te vervang nie. Ons is baie versigtig met die gebruik van die outomatiese wasmasjien – meeste mense hier rond het ook ‘n “twin tub” wat jou meer beheer gee oor die watertoevoer, want die bruin water kan jou klere lelik vlek.

        Liked by 1 person

  6. Bed opmaak is een van my teer puntjies…net ek kan dit reg doen! Manlief word soms toegelaat om ons bed alleen aan te pak, maar sodra hy klaar is, gryp ek in. Perfek, so moet dit wees. En die kamer netjies. Ek wonder of dit ñ effense afwyking beteken?

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!