Om die waarheid te sê, is geen kullery in die lewe die moeite werd nie. Jy dink dalk jy wen ‘n treetjie, maar in die proses verloor jy baie meer as net daardie een treetjie wat jy gewen het.
Eintlik wil ek skryf oor kul in Banting. Toe ek begin Bant het, het my dokter vir my gesê dat ek vir myself een kulgeleentheid per week moet toelaat. Ek weet die Bantingpolisie sal nou weer stuipe kry hieroor, maar nou ja, dan is dit nou maar so.
Daardie een kulgeleentheid per week het nie beteken dat ek elke Sondag heeltemal mal geraak het en elke koolhidraat geëet het wat voorkom nie, dis mos absolute malligheid en mense wat dit doen, val op die ou end van die Bantingwa af met skoene en hoed en al. Ek het dit glad nie so gedoen nie, en doen dit nog steeds nie so nie.
Maar, daardie toelating van een kul per week het wel vir my ‘n bietjie vryheid gegee. Sou ek by vriende kom en hulle het net pasta op die tafel, het ek vinnig gekyk wanneer my vorige kulgeleentheid was, en sou dan daarvan eet sonder om skuldig te voel en die gasvrou in die gesig te vat. En hier lê die groot geheim. Vir MINSTENS ‘n week daarná sal ek dan NIE weer kul nie, selfs al is dit die enigste kos wat voor my neergesit word.
Dit was dus beslis NIE ‘n weeklikse kullery nie, maar sou ek wel in ‘n ongemaklike situasie kom, was dit vir my ‘n oplossing. Dan sou ek nie sommer van die bus afval nie.
Nou, na amper vier jaar van Banting, gebeur die kullery omtrent glad nie meer nie. En wanneer dit gebeur, besef ek elke keer: Dis net nie die moeite werd nie.
Daardie lieflike, soet stuk kaaskoek wat vir die oomblik ‘n amper walglik soet sensasie is, se nadraai is baie slegter as die sensasie van die oomblik: Die soet smaak wat in jou mond bly hang, die hoofpyn daarna, maar veral ook die luskry vir al die soetgoed wat jy sien vir die volgende vyf dae is net nie die moeite werd nie. Waarom sal jy vir jou ‘n spul probleme op die hals dra en dit oor ‘n blokkie kaaskoek? Nee man!
Maak eerder vir jou ‘n lieflike Bantingsoetigheid, dis in elk geval baie lekkerder. Ek kry eintlik die ander mense so jammer as ek ‘n lieflike Bantingkaaskoek met egte room en roomkaas eet en hulle eet die opgepofte, oorsoet, tert met nagemaakte room. Daar is net geen vergelyking nie.
Dis nie aldag maklik nie, maar beslis die moeite werd. Soos Tina Herselman baie jare gelede gesê het, as jy moet moeite doen vir iets, is dit gewoonlik die moeite werd.
Mooi loop
Toortsie
Toortsie by Finesse: Die jongman by #Imagine
Toortsie se Facebook Page
Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page
TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page
Toortsie’s English Blog Posts
Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal
Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif
Radio Tygerberg resensie
As jy eers kul is dit moeilik om op te hou ook. Ek sukkel daarmee.( kul met banting , nie met my man nie!)
LikeLiked by 3 people
Dankie tog vir die stukkie in hakies! 😂
LikeLiked by 1 person
Maak baie sin wat jy sê Toortsie, ek dink dit maak dit net moeiliker
LikeLiked by 1 person
Regtig
LikeLiked by 1 person
Jy is gelukkig jou man doen mee. Homer kerm na amper drie jaar tuis steeds oor vleislose Maandae. Ek herinner hom soms waar sy tasse gevind kan word.
LikeLiked by 1 person
Maar Banting is gelukkig nie vleisloos nie. 😁 My man eet die kos wat hy kry, maar ek ken ook sy perke. Dis mos lekker ryk en geurige kos. Hy eet steeds koolhidrate, soos beskuit, soms ‘n snytjie brood, chips en sjokolade. Dit doeter sekere syfers op, omdat hy nou die brood weerskante botter!
LikeLike