Kameel – Layla se keuse

SKRYF-SAFARI : ‘n Feëverhaal

images (1)

Layla het saam met haar pa en ma op ‘n plaas gebly. Sy was ‘n gewone dogtertjie met swart hare, blou-blou ogies met lang swart wimpers. Tog was daar iets anderste aan haar; elke jaar met haar verjaarsdag het sy mooier geword, maar geen spieël wou haar wys hoe mooi sy is nie. Die spieëls was bang as hulle haar wys gaan sy hoogmoedig raak, en nie die vriendelike en liefdevolle dogtertjie bly wat sy is nie.

Layla het groot geword en moes in die stad gaan bly. Mense het na haar gestaar en gewonder of sy ‘n bosnimf is wat hulle kom betower het met haar natuurlike skoonheid. Die meisies wat saam met haar in ‘n ou tannie se losieshuis gebly het, het gewag totdat Layla slaap dan het hulle om haar bed gaan staan en na die slapende skoonheid gekyk. Miskien het sy in die nag in ‘n feëprinses.verander en verdwyn om in die bos saam met die ander feëtjies te gaan speel, het hulle gedink.

Op ‘n dag ontmoet Layla vir Aidin. Hy is gaaf en aantreklik, en Layla verloor haar hart op hom. Hy sit ‘n diamantring aan haar vinger, en sy belowe om oor ‘n jaar met hom te trou. Nie lank daarna nie gaan Layla met vakansie en daar sien ‘n filmmaker haar. Haar skoonheid betower hom so dat hy besluit om haar die hoofrol in sy volgende film te gee – dan kan die wêreld sien hoe mooi sy is.

Terug by die losieshuis bel die filmmaker  vir Layla, en daardie middag kom haal ‘n chauffeur haar met ‘n groot blink motor. Vir Layla is dit ‘n nuwe wêreld en sy luister met groot oë na die filmmaker wat haar van sy planne vertel. Sou sy “ja” sê, gaan sy oorsee waar dele van die film geskiet gaan word. Vir Layla voel dit asof sy binne ‘n sprokie beland het en sy besluit om weer in die spieël te gaan kyk vir die geheim. Die spieël het egter doodstil gebly.

Layla se kop is deurmekaar. Sê sy “ja” vir die filmmaker kan sy nie oor ‘n jaar met Aidin trou nie. Sê sy “nee” sal sy altyd wonder wat sou in die towerwêreld gebeur het. Sy besluit om die ou tannie van die losieshuis te vra wat sy moet doen. Die tannie luister mooi na Layla en sê dat Layla by die plek waar een pad twee paaie word gekom het. Die plek se naam is “Keuse,” en net Layla kan kies watter pad sy wil loop. In die bos waar die twee paaie begin is daar ‘n Wyse Rots wat vir Layla die regte pad sal aanwys as sy Hom vra… maar die keuse bly Layla s’n.

Layla stap die bos in en gaan sit by die Rots waarvan die ou tannie gepraat het. Sy begin met die Rots gesels en vertel Hom hoe deurmekaar sy is en dat die Rots vir haar moet sê wat sy moet doen. Die Rots sê Hy kan vir haar die rigting aanwys, maar eers moet Layla stil word, en kyk waarheen elke pad lei, en of dit is wat sy graag vir haar lewe wil hê. Die pad wat vir haar Vrede aandui sal die regte pad wees… maar Layla moet self besluit of sy daardie pad wil stap of nie

Layla doen toe wat die Rots vir haar gesê het. In die een pad sien sy vir haar en Aidin hand aan hand stap. Op die dag van hulle troue verander sy in ‘n pragtige prinses. Aidin gee haar ‘n goue ring, en daarna dans hulle op vrolike musiek tussen blomme rond. Toe die klok twaalfuur slaan trek Layla haar wit prinsesrok uit, en trek weer haar gewone klere aan. Sy en Aidin bly in ‘n huis; hy moet hard werk, maar hulle is gelukkig, en toe daar later vir hulle ‘n babatjie gebore word loop hulle beker oor van geluk.

Die ander pad is met goud besprinkel. Layla se hart slaan bollemakiesie toe sy daarna kyk. Die filmmaker vat haar hand en lei haar die vreemde wêreld binne. Eers is Layla skaam en baie bang… maar hoe dieper hulle die wêreld binnegaan hoe groter en mooier word dit. Layla verwonder haar aan al die blink liggies en sy sien tot haar gesig tussen die liggies. Haar hart klop al vinniger, en sy voel sy wil dans van opgewondenheid. Om te dink dat sy ‘n plaasdogtertjie in hierdie wonderwêreld kan gaan bly. Dis ‘n regte Aspoestertjie storie.

Meteens verskyn Aidin se gesig voor haar en Layla keer terug uit haar wonderwêreld. Sy kyk weer na haar en Aidin se paadjie, en ‘n diep vrede kom lê in haar hart. Dit is die paadjie wat sy wil stap. Sy glimlag en lê terug teen die Rots. “Dankie,” fluister sy saggies. ‘n Rukkie later stap sy al singend terug losieshuis toe.

 

Dis ‘n ware verhaal wat ek in ‘n feëverhaal omskep het.

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=779975

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

 

 

35 thoughts on “Kameel – Layla se keuse

    1. Die versoeking moes baie groot gewees het. Sy was werklik so beeldskoon dat ‘n mens nie jou oë van haar kon afhou nie. Die meisies het haar werklik rustig in haar slaap gaan dophou.

      Like

        1. Haar oë sou seker oopgegaan het vir haar eie skoonheid waarvan sy onbewus was. Haar ma het eendag vir my gesê dat hulle bekommerd was dat sy ydel gaan word deurdat sy van kleinsaf deur almal wat haar gesien het bewonder was en vertel was hoe mooi sy is.

          Liked by 1 person

    1. My ma het ‘n losieshuis spesiaal vir meisies langs hulle huis laat bou. Ek het van Layla gehoor lank.voordat ek haar gesien het…. en ja, ‘n mens kon werklik nie jou oë van haar afhou nie. Het nie weer van haar na haar troue gehoor nie.

      Liked by 1 person

      1. Ek het nou die dag ‘n ware ding gehoor en dis dat vriendskap baie langer hou as ‘n verhouding / huwelik. Ek het dit nog altyd gedink, want ek was nog nooit ‘n ultra-romantiese persoon nie. Nie dat ek en my man sulke danige goeie vriende is nie, moet ek nou byvoeg, maar ons is sulke lekker vyande. Dit help ook. Dis wat ek vir my kinders sou toewens – dat hulle lewensmaats ook hulle beste vriende moet wees.

        Liked by 2 people

        1. Ek stem volkome saam met jou. Romanse verdwyn baie vinnig wanneer dinge tough raak in ‘n huwelik… terwyl vriendskapsbande hou. Eerste keer wat ek van die lekker vyande hoor 😀😀😀😀

          Liked by 1 person

    1. Dankie seegogga. Ongelukkig weet ek nie hoe dinge vir haar uitgedraai het nie. My ma het die losieshuis besit en ek het nooit weer van Layla na haar troue gehoor nie.

      Like

        1. Nee…. om die waarheid te sê ek het haar regte naam vergeet. Ek het nie baie na die losieshuis toe gegaan nie. Was reeds getroud toe Layla daar kom bly het. Baie van haar gehoor en toe kom dit so dat ons een aand by my ma hulle eet. Layla was alleen in die losieshuis daardie aand en my ma nooi haar toe om saam met ons te kom eet. Mensig het ek gesukkel om geeët te kry. Mens se oë bly net vasgenael op die pragtige mens. Geen grimering…. net natuurlik beeldskoon. Op ‘n ander keer haar ma by my ma raakgeloop en ons het lekker oor Layla gesels.

          Liked by 1 person

    1. Dankie Una. As mens net vroeg in jou lewe besef dat keuses gevolge dra…. en daardie vrede vind voor oorhaastige besluite geneem word sou baie hartseer gespaar gebly het.

      Like

  1. Baie mooi geskryf het aan die begin gewonder of Layla Kameel is… maar ek lei af nie.

    “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” Joh 14:27

    Liked by 2 people

    1. Dankie Abrie. Layla…. beeldskoon.en onbewus daarvan. Wonder partykeer wat het geword; vertrou haar huwelik was geseënd. Was dit.Kameel het dit op ‘n fiasko uitgeloop… was te in die wêreld, rebels ens. Sou seker ‘n train weck daar uitgekom het. Die Here weet definitief beter 😊

      Like

    1. Dankie Scrapy. Het ek eers vrede gekry voor ek besluite geneem het sou.baie drama my gespaar gebly het. En ek glo vir die mensdom daar buite ook.

      Like

Gesels saam, asseblief!