Waenhuiskrans

Ek was saam met die VLV op ‘n uitstappie Waenhuiskrans toe. Ons het ‘n hele ent gestap deur Waenhuiskrans en oom Ferdie Spamer wat hierdie wêreld soos die palm van sy hand ken, het ons baie interessanthede vertel.

Waenhuiskrans het mos nog ‘n naam: Arniston. Hier in ons kontrei praat die Afrikaanssprekendes van Waenhuiskrans, terwyl die Engelse van Arniston praat. Oom Ferdie wys ‘n artikel in Die Burger oor Waenhuiskrans, dat die vissers sê, as hulle duimgooi en ‘n boer stop, kry hulle slegs ‘n saamrygeleentheid as hulle Waenhuiskrans toe ry, nie Arniston toe nie! 🙂

By die hawe met sy kleurvolle, bekende Waenhuiskrans visserskuite, vertel oom Ferdie dat al hierdie skuite deur dieselfde persoon gebou is, en dat hy onlangs dood is. As gevolg van ‘n sandbank, is dit vir die skuite moeilik om in die water te kom. Hulle het ‘n groot katrol (?) in die see gebou waarvandaan hulle die skuite dan oor die sandbank sou sleep. Dit was egter ‘n totale mislukking. Die skuite word met ‘n trekker gestoot tot in die water.

Wat ‘n belewenis was dit nie om deur Kassiesbaai te stap met sy tradisionele Waenhuiskranshuisies nie. Oom Ferdie was tog te spoggerig by sy vissersvriende oor die span vroue wat hy vir homself bymekaar gemaak het. Hy vertel dat die vissers aanvanklik by Oubaai (Roman Beach) gewoon het, maar later hulle kom vestig het in Kassiesbaai. Aanvanklik was dit almal vierkantige riethuise, maar later is die huisies gebou soos dit vandag is. (Ek hoop ek het die storie nou reg oorvertel!)

In Kassiesbaai is ‘n lekker eetplek, Willenes, en daar het ons koek en tee en skons geëet. (Toortsie was baie mooi soet en het ‘n heerlike Kassiesbaai-ontbyt met gebakte eiers, tamatie en ‘n viskoekie geëet.) Daardie viskoekies is ‘n wenner en ons het almal viskoekies saamgebring huis toe ook. Ek sal graag weer daar gaan eet.

Daarná was dit vrugteslaai en roomys by tannie Marie se huis en toe die span moes huistoegaan, het ‘n klompie van ons verdwaal. Ag, te lekker!

Toe kom die skok: Ek het nie ‘n sleutel van die huis gevat nie! En my selfoon is pap, ek kan nie my man bel nie! En dis saaityd, hy sal seker laat by die huis kom! Wat gaan ek maak!!?

Maar die Here het al weer gesorg en wie se bakkie staan voor die huis toe ons daar kom? Manlief s’n! Maar dis nie al genade nie! Die meisie wat my in die huis help, het nie geweet sy moet die honde laat uitgaan toe sy loop nie, so, hulle was in die huis toe hy daar kom! Groot genade dat my sitkamerstel en matte nog nie opgekou was nie!

Wat ‘n heerlike, vervullende dag saam met oulike mense! Ek hét maar mense om my nodig, nie aldag en heeldag nie, maar op ‘n gereelde basis.

Het ek genoem dat dit die VLV Bredasdorp se deelname was aan ‘Women walk around the world’?

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Elke dogtertjie se droom.

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie

15 thoughts on “Waenhuiskrans

  1. Dit klink nou na ‘n lekker uitstappie. Waenhuiskrans klink so bekend… wonder of ek al daar was. Laat ek gou op Earth kyk hoe lyk dit daar. 😊

    Liked by 1 person

  2. Dit klink of dit ‘n lekker uitstappie was en vir ‘n goeie doel ook. Ek het by een van die oorsese bloggers wat ‘n mediese dokter is, gelees wat die voordele van stap is – dit verhoed of verlaag die kanse op borskanker (en ander soorte kanker ook – dink kolon en prostaat), diabetes, hartaanvalle, beroerte, bloedklonte en ‘n hele boel ander goed. Dis een oefening waarvoor ek nie omgee nie, maar ek wil op my eie tyd loop: groeplopies werk nie vir my nie. Daar is te veel dinge langs pad wat my aandag aftrek en wat ondersoek moet word.

    Like

Gesels saam, asseblief!