Kameel – ‘n Foto vir haar man

Na ‘n “gesprek” met Hester oor my dae as fotograaf in ‘n studio, plaas ek ‘n vorige bloginskrywing om julle ‘n kykie agter daardie toe gordyne te gee.

imagesDie vrouestem oor die telefoon is half huiwerig, “Ek wil ‘n afspraak maak om een aand in die week fotos te kom neem.”  “Dit is in die haak,” antwoord ek, “sê net wanneer en hoe laat,” en met die woorde kry ek ‘n pen en my afspraakboekie gereed.  Daar is aarseling aan die anderkant van die lyn, en dan kom die stem in ‘n fluistering, “dit is vir my man, ek wil…… ‘n….. jy weet, kalerige fotos hê.”  Net daar stop ek alles, vir ‘n sekond of twee is daar doodse stilte op die lyn, dan sê ek,  “As jy pornografiese fotos bedoel, is ek nie die regte fotograaf vir jou nie”.  “O, nee!” korrigeer sy vinnig, “nie pornografies nie, net….. wel, kalerig.”  Ons maak ‘n afspraak vir dieselfde aand, en die res van die middag maak ek vir my prentjies van die wulpse vrou.

Ek is nie bang vir die menslike liggaam voor my kamera nie.  Op daardie stadium het ek fotos vir ‘n agentskap geneem, en meisies het voor my lens die onskuld van die kind tot die slinksheid van ‘n Delila uitgebeeld.  Toe die deurklokkie lui stap ek om te gaan antwoord.  Twee jong vroue staan voor my; die een wat die fotos wil laat neem stel haarself en haar vriendin voor; ek wys hulle deur studio toe, en laat glad nie blyk hoe stomgeslaan ek is nie.  Die jong vrou hier by my is pole verwyder van die prentjie in my kop.  Sy is ‘n “plain Jane,” groot gebeend, met blou oë, en haar blonde hare is in ‘n stywe poniestert vasgemaak.  Sonder grimering lyk sy vaal en daar is nie ‘n greintjie sensualiteit aan haar nie.  Inteendeel sy is baie skaam, en ongemaklik waar sy nou voor my staan.

“Kom sit en vertel my wat jy in gedagte het,” sê ek gerusstellend.  Sy is nie lank getroud nie, en wil graag vir haar man ‘n vergroting van haar laat maak waar sy wel…. ‘n bietjie “cleavage,” wys.  Sy gee my toestemming om my eie inisiatief te gebruik.  Ek glimlag breed (van verligting… en om haar meer op haar gemak te stel,) en sê vol selfvertroue, “Geen probleem nie, ons gaan vir jou man ‘n mooie, mooie foto neem, “cleavage,” en al.”  Ek bevind my nou op bekende terrein; in my element spring ek aan die werk;  “Eers gaan ek jou grimeer, sonder grimering gaan die ligte jou heeltemal uitwas,” en hiermee trek ek die kwas en verf nader.   Op die doek hier voor my begin ek skilder, en sien hoe haar gesig ontspan, en kort-kort breek daar ‘n effense glimlag deur.  “So ja, nou vir jou hare;” ek trek die rekkie uit haar hare, “ons laat jou hare loshang, en…“ al geselsende kam ek my vingers deur die blonde massa, “maak dit effens deurmekaar, vir die regte effek.”  “Daars hy, kyk hoe pragtig lyk jy nou,” en wys na die spieël teen die een muur.  Sy bewonder haarself vir ‘n paar oomblikke, haar oë blink, en daar is ‘n breë glimlag om haar mond.  “Nou vir die klere,” sê ek, “jy kan agter daardie skerm uittrek…. net jou boklere, maar hou jou bra aan, ek sal daarmee deel wanneer ek jou drapeer.”

Daar is ‘n prentjie in my kop; alles swart en in die middel van hierdie swart ‘n halflyf foto van ‘n blonde vrou in sagte wit drapeersel.  ‘n Sagte maar tog sensuele foto vir die man van haar drome.  Sy maak haar verskyning, en ek laat haar op die mat by ‘n lae tafeltjie hurk.  Dit is toe ek die deurskynende materiaal om haar begin vou dat ek besef daar is niks waarmee ons ‘n “cleavage,” kan vorm nie…. niks.  “Ek is maar plat,” sê sy toe sy sien waar my oë rus.  Ek gaan nie met haar stry nie, dus glimlag ek vol vertroue, “Ons kyk wat ons kan doen met dit wat jy het.”  “Druk jou bo-arms styf teen jou lyf en bring hulle dan vorentoe;” gewoonlik werk die metode vir die nie so goed bedeeldes.  Nogsteeds niks, nie eers ‘n beduidenis van ‘n “cleavage,” nie.

In die skemer studio met net die sagte studioligte aan, is alle skaam weg. Vanwaar haar vriendin sit begin sy lag; eers probeer die blondekop haar lag inhou, maar dan bars sy ook uit van die lag.  Ek sien al hoe die mascara traanspore oor haar wange trek, maar hulle lag is so aansteeklik dat ek nie my “pose” kan hou nie, en begin saamlag. “Trek uit daardie bra dat ek kan sien wat daaronder aangaan,” sê ek in die lag.  Sy maak so, en ek skud my kop terwyl ek kopkrap. “Ek gaan nog een ding probeer en sowaar ek het nog nooit ensiklopedieë vir dit gebruik nie,” en met die begin ek die lywige boeke onder die swart lap op die tafeltjie voor haar pak.  Ek drapeer haar in wit; “nou goed, staan vir my op jou knieë, dan buk jy oor die tafel totdat die ensiklopedieë onder jou borste rus, sak dan bietjie af sodat dit kan opdruk wat daar is, en terselftertyd druk jy jou bo-arms teen jou lyf en dan vorentoe.”  Gehoorsaam doen sy dit; drie paar oë staar net na een plek, wagtend op die takboklammers , soos die tweeling van ‘n ribbok wat tussen die lelies wei, waaroor Salomo so in vervoering geraak het.  Niks, ons kyk verniet…. want daar is niks.

My model val agteroor en gedrapeer in wit lê sy op die mat en rol soos sy lag.  Haar vriendin krul in haar stoel, en ek sak net daar op die grond neer, lam van die lag;  Die trane rol oor ons wange; drie vroue lag oor dit wat ‘n suster-eva so graag aan haar man wil gee, maar nie het om te gee nie.  Miskien lag ons ook met trane oor ons eie tekorte wat ons minderwaardig laat voel in ons vrouwees. Toe ons uiteindelik tot bedaring kom, kyk ek na die blonde vrou wat op die vloer saam met my sit; haar gesig is sprankelend, haar oë skitter soos diamante.  As hierdie blondekop se man weet wat goed is vir hom sal hy die lag in haar wakker maak, dink ek.  Salomo het oor meer as net die takboklammers, en borste wat soos torings staan geskryf; hy het die “Sulammitiese” vrou besing en op ‘n stadium gesê “draai jou oë liewer weg van my af, hulle maak my onrustig.”

“Kom” sê ek vir haar, “met jou oë gaan jy vir jou man ‘n liefdeslied sing.”  Ek knap haar op en hang ‘n swart fluweelstola om haar skouers… die fokus moet op haar oë wees.  Sy neem haar posisie in, “Ek gaan jou deur die hele proses praat,” sê ek van agter die kamera.  Deur die lens hou ek haar dop; die vrou hier voor my is soos klei in my hande, “Frame for frame I molded her into the image I had in mind,” en terselftertyd hoop ek haar man sal haar teen hom vashou soos die seëlring op sy bors.

Advertisements

56 thoughts on “Kameel – ‘n Foto vir haar man

    1. Perdebytjie ek het myself so uitgelewe met soveel verskillende mense, en daar was soveel lag. My “aim” was dat die model die sessie netso sal geniet… en so baie het gesê hulle was so op hulle senuwees toe hulle gekom het maar was so spyt toe alles verby was. Ek het ouer vroue ook afgeneem en hul mans was heel tevrede met die resultaat 😀😀😀 cleavage of te nie.

      Liked by 2 people

    1. Ooo seegogga jy praat nou iets waaroor ek vanoggend met die Here oor gesels het. Hoe skryf ek my lewensverhaal… waar begin ek. Daar is so baie seerkry mense by betrokke… mag ek oor al hierdie seer skryf.

      Liked by 1 person

  1. Sjoe Kameel my fotos lyk nou maar heel vaal vir my; jy het ‘n oog en ‘n hand wat kan skryf.

    In Engelse weergawes van die Bybel word die term “found favour in your eyes” baie gebruik, wat in Afr. o.a. met goedgesind vertaal word. Ek is seker jou foto en sy vrou found favour in the eyes van haar man.

    Liked by 3 people

  2. Ok Kameel, as jy my kiekie neem, sal jy my moet “platslaan” met die ensiklopedieë -probleem is anderkant van hare. Dit was stunning geskryf en gelees soos ‘n storie, dankie vir die deel van dit.

    Liked by 1 person

    1. Nou laat jy my skaterlag 😀😀😀 Dankie Virgo…. ook nog nie die ensiklopedieë gebruik vir PLATSLAAN nie!!! Ons sal maar weer op die oë gefokus het 😀😀😀😀

      Like

    1. Dankie 😊 Sy was hoog in haar noppies met die foto. My fotografie en lekkerlag studiodae het op ‘n einde gekom toe Menieres sy hande op my gekry het. Hy is ‘n tawwe kêrel dié een – laat my nie veel spasie om myself uit te leef nie. Kan darem terugkyk en weet ek het dit gedoen wat my so na aan die hart gelê het.

      Liked by 1 person

        1. Ek het al baie oor dié een gedink…. dit is definitief so. Na die val het God vir Eva gesê “Na jou man sal jou begeerte wees, maar hy sal oor jou heers.” Sommer maar gewonder of hierdie vroue ding met die liefde saam nie iets met dié woorde te doen het nie. Eintlik moet ek dit gaan mavors.

          Liked by 1 person

    1. Die dag toe ek my studio toegemaak het, het ek van al my discs ontslae geraak. Die fotos is op disc gesit, dan kan kliënt kies wat hy/sy geprint wil hê. Al goed spyt gekry dat ek dit gedoen het. 😕

      Liked by 1 person

        1. Dit was ‘n groot terugslag toe ek so oornag nie meer fotografie kon doen nie. My lank gevat om vrede daarmee te maak, maar het nou vrede. Los dit nou maar vir die jongeres 😊

          Liked by 1 person

  3. Sjoekie doekie! Dis heerlik om so van jou te lees. Ek kan sien jy het voluit gegaan in jou werk. Dis sooooo lekker om te speel met idees en gedagtes en dit dan te probeer. Ek as novice het ook gevind dat jy die model regtig op haar gemak moet stel om die beste te kry. Het jy jou stories wat jy so skryf darem ge-file, sodat jy dit vir jou memoir kan gebruik. Ek kan jou baie help om rigting te kry as dit is. Ek het juis nou n 4 weke sessie gedoen met n sielkundige wat werk met “writing memoirs as a healing proses” Dit was baie insiggewend en het my gehelp om diepte te kry in my eie lewe en omstandighede. (Fluister- dalk moet ek die notas vir jou stuur. Wat natuurlik nie mag nie want ek het daarvoor betaal!)

    Liked by 1 person

    1. Wat ek skryf is alles hier op die blogpost. So baie mense wat my getuienis al gehoor het, het gesê skryf ‘n boek. Die taak lyk vir my net te groot. Wat skryf ek….alles? Kan ek myself en ander so ontbloot? Daar is soveel lelik en soveel seer in hierdie storie…. nie net uit die verlede se mense nie maar dié wat op die oomblik nog in my lewe is. Al gewens ek kan by iemand sit en my verhaal heeltemal aan die persoon vertel en vra dat hy/sy die storie skryf. Hoe eindig ek die verhaal… dit is nog on-going en alles is nog nie uitsorteer nie. So Scrapy, ek sit met ‘n dilemma. Sal graag jou “notas” lees. 😊

      Like

  4. Wel, jy het weer ‘n keer my voete onder my uitgeslaan. Dit was ‘n wonderlike beskrywing Kameel en dis so jammer dat jy nie kon voortgaan met die fotografie nie. Ek is is seker daar was ook meer stories as net hierdie een.

    Liked by 1 person

    1. Dankie Hester. Ja daar was soveel lag by betrokke. Ken vra op ‘n keer vir my wat maak julle in die studio…. ‘n mens hoor net ‘n geskaterlag van wie weet hoe vêr af. Maar dan is dit ook maar wie ek is…. doen alles voluit.

      Liked by 1 person

  5. Ek het natuurlik ook al die kommentaar eers gelees. Hierdie bloggers kan darem lekker gesels! Daai dilemma van jou lewensverhaal skryf, ken ek maar te goed. Daar is net te veel dinge waaroor ‘n mens soms nie jou mond kan oopmaak nie, want te veel mense kan seerkry. Dis hoekom ek altyd sê oor hierdie “wees eerlik” dryf op faceboek – my eerlikheid sal jou uit jou onderklere skok; los maar liewer.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s