Kwaadwees

Kwaadwees is deel van ons lewe. Dit het natuurlik verskillende vlakke. Ons kan ons sommer net liggies vererg, of vir ‘n dag of week lank vir iemand kwaad wees en dit dan vergeet, of iemand kan ons só kwaad maak dat ons selfs ‘n wrok koester teen die persoon.

By die TPM-sessies (Transformation Prayer Ministry), kom kwaadwees baie keer ter sprake. Die persoon kan kwaad wees vir homself, vir God, vir iets of iemand anders. Soms kom daardie kwaadwees al so lank aan, of dis al so diep gebêre, hy is eintlik nie eers meer bewus daarvan nie, dis eintlik al deel van sy mondering!

Elkeen van hierdie mense het baie keer die volste reg om kwaad te wees. Wat ons egter met daardie kwaad doen, is waar die probleem lê. Gaan ons dit ‘laat gaan’ of gaan ons dit vashou, koester, omdat ons glo dit ons beskerm, of die persoon straf, of wat ook al?

In my TPM sessies het ek al gesien hoe ‘n persoon net nie kán vergewe nie en dit sy hele bestaan beïnvloed. Álles raak vir hom te erg. Hy is in ‘n angstoestand, maar aan die kwaad moet hy bly klou. Dan wil ek huil. Ja, ek weet eintlik ook nie hoe maak ‘n mens om dit te laat gaan nie, maar tog kry mense dit reg. Ook ek kon dit regkry met God se hulp.

Die wonderlikste is wanneer iemand inkom met hangskouers en die lewe wat druk en hy ‘n jarelange woede wat sy hele lewe beïnvloed, in die oë kyk en besef dat hy regtig nie langer daaraan wil dra nie, dat hy dit wil laat gaan, dat hy die persoon onvoorwaardelik vergewe en aan die bid raak en sommer vir God ook vra om die persoon te vergewe. Die verandering wat voor jou oë gebeur, kan jy vir niemand beskryf nie. Daardie persoon se onmiddellike omstandighede is dalk nie skielik anders nie, maar hy het ‘n ligter tred. Hy voel bevry en dít is net genade van die Here af.

Of die persoon wat nie eers besef het dat hy al vir jare kwaad is vir iemand nie, en toe hy dit bely en laat gaan, verdwyn ‘n klomp van sy huidige onsekerhede, omdat die kwaadwees en alles wat daarmee saamgaan, uit die weg geruim is.

Dis so maklik om ons kwaadwees te regverdig, ons het rede om kwaad te wees. En sê nou ek vergewe die persoon en net môre doen hy dit weer?

Dis nie altyd maklik om dit te laat gaan nie, maar regtig, dis die moeite werd. Daag jouself uit: probeer dit. Jy gaan dalk nie glo watter verskil dit aan jouself gaan maak as jy nie meer die vrag hoef te dra nie.

Sou jy graag ‘n TPM-Fasiliteerder wou sien omdat iets swaar op jou hart lê, kyk gerus op die TPM App vir ‘n fasiliteerder in jou omgewing.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Op die spore van die meesters met Uber

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

22 thoughts on “Kwaadwees

  1. Yep, onvergewensgesindheid kan van jou ‘n baie bitter persoon maak. The root of bitterness… sê die bybel. Hartseerste is dat dit nie net die persoon se lewe opmors nie, maar die mense om hom se lewe vergal. Ai, ai…. baie gesigte kom nou voor my op.

    Like

  2. So gepas. Dit was deel van my “repentance” tydens my stiltetyd vanoggend, die kwaadword en kwadegevoelens. Psalm 37:8 “Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig.” Dis ‘n pad wat mens stap, om te leer om die “toorn” te laat staan. 🌹

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Andorize Kanselleer antwoord