Kameel – Hoe meer siele, hoe meer vreugde

Net as ek dink ek het nou alles gesien, dan gebeur daar weer iets wat my, my kop laat skud. Die groot “issues” in die lewe het so gereeld gekom dat dit my nie meer skok nie; dis die klein onverwagte dingetjies wat my nog vang. Ons huisgesin is mos mine, yours, ours and others’ – maar hulle is almal ons s’n. Boeties en sussies met vyf verskillende pa’s en vier verskillende ma’s, uit vier nasionaliteite met genoeg gene om jou kop te laat spin.

Die jare toe my twee oudste tienerseuns vir vakansies kom kuier het, het hulle sommer hulle jonger stiefboetie ook saamgebring. Die motto van ons huis was “open heart – open home,” dus is die kind met groot liefde ontvang…. al het nie sy pa (my eks) of ma met my gepraat nie.

Wel, die kinders het mekaar toe nie uitgemoor nie, en elkeen het hulle eie nes begin skrop. Party se nesse is ook maar goed deurmekaar, waarvan die stil kind s’n definitief die koek vat. Sy en haar man (sal hom maar skoonseun noem) is al ses jaar uitmekaar – maar nie geskei nie. Hy het die twee dogters gevat; hulle een vakansie kom haal en nooit weer teruggebring nie. By daardie tyd het die stil kind klaar by ‘n man vyftien jaar ouer as sy gebly. Skoonseun het ons nog nie weer met ‘n oog gesien nie, en hy is ons nie goedgesind nie.  Ons twee kleindogters sien ons so wan en dan met ‘n familiebyeenkoms. Hulle bly ongelukkig vêr van ons af. Intussen het skoonseun ook ‘n nuwe liefde gekry; ‘n vrou met drie tieners, wat ons van geen Adamskant af ken nie.

Vrydagmiddag kom ek en Ken by die huis, en daar staan ons twaalfjarige kleindogter, met ‘n blondekop vriendin aan haar sy, ons en inwag. Bly, maar heel verbaas vra ek natuurlik wat, hoe, waar, wanneer – en hoor die vriendin is nie haar vriendin nie maar haar vyftienjarige sussie (skoonseun se liefde se dogter) en dat hulle vir drie dae kom kuier het. Die nuwe liefde het hulle kom aflaai. Jy kon my met ‘n veer omtik.

Die nuwe sussie (wat ek nou wonder of sy ook as my kleinkind tel) kry natuurlik toe ‘n stywe druk en warm verwelkoming. Gelukkig is Marlé hulle se huis ook ‘n oophuis, en het die twee meisiekinders blyplek. Marlé vra later so half verdwaas of ek dit verstaan. Nee, ek verstaan dit nie maar wat, niks in ons huisgesin het nog ooit veel sin gemaak nie.

En wat maak ek al van Vrydag af? Geniet myself gate uit met die vier tieners op die erf. Speel vingerbord en lag en gesels weer soos toe my kinders in die huis was.

En dan het die IPL krieket ook begin…. hoe lekker kan die lewe nie raak nie!!!

IMG-20180408-WA0008

42 thoughts on “Kameel – Hoe meer siele, hoe meer vreugde

    1. Dankie Una. Lewe my roeping uit. Hierdie is Jesus se pad met ons. Met tye voel ek baie onkundig (sal maar nie sê dom nie) teen ander se intelligensie…. maar ma wees is waarvoor ek op die aarde gesit is. Hopenlik kry ek in die hemel kans om met grootmense te gesels 😀😀😀😀

      Liked by 4 people

    1. Dankie Perdebytjie. Lag nounet so vir my sestienjarige kleinseun. Ek sê hulle moet die vingerbord respekteer…. hy is seker al so 40 jaar oud en ‘n erfstuk. Hy kan hom erf en dan eendag vir sy kinders wys waarmee hulle oumagrootjie gespeel het. Sy gesig was iets om te aanskou….. “Wil ouma eendag ‘n oumagrootjie wees,” vra hy verbaas. 😀😀😀😀

      Liked by 3 people

  1. met ander woorde ‘n huis na my hart… wens ek kon dieselfde van myne sê – maar die lewe se dinge het my selfsugtig met my eie spasie gemaak, nou is ek bang vir ‘n “open door policy!” Ek is te bang vir die bytslag xx

    Liked by 2 people

    1. Dit vat moed om jou lewe en hart so oop te gooi…. die kanse vir seerkry is baie groot. Ek glo nie dis ek wat so braaf was nie, maar Jesus wat die pas aangegee het.

      Liked by 2 people

    1. Op die oomblik gaan dit goed tussen die klomp kleinkinders…. of hulle as grootmense nog so verdraagsaam met mekaar sal wees sal.die tyd wel leer. Ek geniet tieners baie; lekker om met hulle te gesels en al die drome en toekomsplanne te hoor. Lief die energie wat hulle het.

      Liked by 2 people

  2. Dit is wonderlik om te hoor van sulke oop-hart-huise. Eintlik word ek effens jaloers ook. Ek kom ook uit ‘n laslap gesin, maar nie een van my las-boetie of sussie praat met my nie. Die gades ook nie en nou my bloed boetie en die se gade ook nie… Ek leef anders as hul, het nog altyd en van daar die stilte.

    Liked by 2 people

    1. Ai Sonell dis so jammer. Hoekom kan almal nie maar in vrede saamleef nie. Dinge nog nie honderd persent tussen my biologiese drie kinders nie…. maar ek vertrou dat daar ook “restoration” sal kom. Maar dis ‘n wonderwerk dat so baie laslappies wel nog in vrede lewe…. en die kombers word al groter 😀😀😀

      Liked by 2 people

  3. Met respek Kameel jy is nie onintelligent nie. As jy kan kophou waar almal in die ingewikkede familie inpas is jy briljant! Ek het nou lekker geglimlag vir India 🇮🇳 se strafmaatreëls

    Like

    1. Dankie Abrie, maar as jy vir jou sestienjarige kleinseun sê jy wil nie op Mars gaan bly nie want jy hou nie van die groen Marsmannetjies nie…. en hy sê “huh” en jy sê die mannetjies wat met die UIF’s rondvlieg…. 😀😀😀😀😀 dink hy nie jy is baie intelligent nie.

      Like

    1. Dit is bietjie erg. Wanneer ek smile is wanneer die kleinkinders op so negejarige ouderdom die familie van beide ma en pa in plek probeer sit om ‘n ordentlike prentjie te kry.

      Like

    1. Dankie seegogga. Ek sien “hospitality” as my gawe van God af…. en besef dus dat die eer Hom toekom. ‘n Mens kan natuurlik jou gawe begrawe… maar ek is so diepwater ingegooi dat daar nie droë grond was om die gawe te begrawe nie 😀😀😀😀

      Like

    1. Dankie Aletta. Ons koker is voorwaar vol met blessings…. as ek net hulle name kan bly onthou. Ouderdomme en verjaarsdae is ‘n onbegonne taak. Op ernstiger noot… dis ‘n voorreg om ouma te wees vir sulke pragtige kinders.

      Liked by 1 person

  4. Dis nou regtig kosbaar. Jy moet regtig ‘n groot hart en ‘n warm huis he om dit te kan regkry. Ek weet nie mooi hoe dit gebeur het nie, maar my lewe is weer toe deure. Ek is bietjie van ‘n loner en verkies dit so, maar dis so wonderlik hoe al hierdie kinders liefde by jou kan kry.

    Liked by 1 person

    1. Dankie Woestynkind. Ons is almal uniek en het eienskappe wat ons, ons eie mens maak. Jesus het my ‘n omgeehart en gasvryheid as gawe gegee. Jy sal definitief weer gawes hê wat ek nie het nie 😊

      Liked by 1 person

  5. Sjoe Kameel..dis die oplossing vir wereld onvrede..om verdraagsaam met mekaar te wees regardless….. ek is ook ma van 8 kinders, myne, oorlede syne en huidige syne, met 7 kleinkinders, en ek is vir almal ewe lief en ek kan met n lekker hart sê hulle vir my ook…Dit was nou lekker om dit te lees.

    Liked by 1 person

    1. Dankie Woordnoot 😊 Dan verstaan jy dat ‘n mens almal lief het en op die hart dra. Ons het 17 kleinkinders… en my grootste challenge is om hulle name en ouderdomme te onthou. Lag ek nou…. Ek sit met die twee “besoekertjies” om die tafel… vat hande om dankie te sê vir die kos. Sê toe ook sommer “dankie Jesus dat…” daar haak ek vas want ek het die nuwe sussie se naam vergeet. Vra haar toe eers weer haar naam, en maak toe die gebed klaar. The joys of life 😀😀😀

      Like

Lewer kommentaar op Tannie Frannie Kanselleer antwoord