Die waarheid

Die een grootste kenmerk wat uitstaan in die persoonlikheidstipe wat God my gegee het, is die waarheid. ‘n Ding is, óf waar, óf vals. Daar is nie ‘n ding soos ‘n halwe waarheid of ‘n witleuentjie nie.

Ek sal eerder myself in die moeilikheid bring voor ek die waarheid verdraai en sou dit wel per ongeluk gebeur dat die waarheid nie 100 persent uitkom nie, sal ek myself vir dekades lank kasty. Dis net nie die moeite werd nie. Ek verkies eerder om die waarheid wat seermaak, te hoor as die leuen wat nie seermaak nie.

In my soeke na waarheid sal ek soms selfs gevaarsones betree, omdat my siel eers tot rus kom as die volle waarheid uit is.

Dit bring mee dat ek ‘n ding soms baie reguit sê, maar oor die jare het ek al geleer om my woorde beter te kies. As ek dus sê ‘n ding is blou, is dit omdat ek glo dis blou en nie omdat dit eintlik groen is, maar ek weet die persoon wil hê dit moet blou wees nie.

Dis natuurlik van die goed in die lewe wat my die moedeloosste maak, wanneer mense my woorde verdraai, of gewig daaraan sit wat nie daar was nie, en dan, selfs wanneer ek dit regstel en probeer verduidelik wat ek bedoel het, aandring daarop dat ek dít bedoel het soos wat hy dink. Ek besef natuurlik dat mense jou woorde interpreteer uit hulle eie ervaringswêreld en dat daar eintlik min is wat ek kan doen om so iemand anders te oortuig. Dat hul jou soms van onsensitiwiteit beskuldig, omdat hullesélf dalk oorsensitief is.

Ek praat ook graag in idioom en dís waar probleme soms ontstaan, omdat mense nie noodwendig deesdae meer idioom ken en gebruik nie.

As ek dus sê, ‘elke diertjie het sy plesiertjie’, bedoel ek presies dit wat ek sê, dat elke persoon dinge doen wat vir hom lekker is, op sy eie manier. Ek hou van klavierspeel en skryf, jy hou van gholf. Met ‘elke diertjie het sy plesiertjie’, bedoel ek nie dat die persoon waarvan ek praat, ‘n dier is nie. As ek dit sou bedoel, sou ek dit presies so sê, sonder enige onduidelikheid.

Die waarheid maak vry. Ons moenie bang wees daarvoor nie. Van die waarheid gepraat, dís hoekom ek so lief is vir TPM (Transformation Prayer Ministry), omdat God vir ons waarheid bring daardeur. Hy wys ons goed wat ons al vir jare lank misverstaan.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Op die spore van die meesters met Uber

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

15 thoughts on “Die waarheid

  1. Ek reken daar is omstandighede waar jy nie met die waarheid vorendag kan kom sonder om groot skade te veroorsaak nie. Soms moet ‘n mens nie gaan krap waar dit werklik nie nodig is nie. Sê dan liewer niks en los die geraamte in die kas.

    Liked by 1 person

  2. As ons almal maar die “stilbly is ook ń antwoord” kon leer. In sekere situasies is dit meer werd as woorde al is die woorde hoe waar. Soos die kinders sê ” zip your lips”

    Like

Gesels saam, asseblief!