Kameel – Ouma sê dis nonsens

Elke weeksmiddag verskyn sy in ons agterdeur. Met die son wat van agter op haar skyn lyk sy soos ‘n engel met haar witblonde hare, wit skoolbloes en breë glimlag. “Hello ouma,” groet sy en nadat ons, ons hoe gaan dit gesels het stap sy groothuis toe om haar huiswerk te gaan doen. Sy is so tuis op hierdie erf asof dit haar eie wêreld is….. en dit was ook vir ses jaar – na haar ouers se egskeiding – haar tuiste. Sy is hierdie jaar hoërskool toe en nou speel Ken Uber; gaan haal haar by die skool en bring haar hierheen. Jay kom haal haar dan wanneer sy van die werk af kom.

Wat het geword van die blouoog blondekopdogtertjie wat in die middae saam met haar nefie hier om ons kombuistafel gesit en leer lees, skryf en somme doen het? Ouma kon help… ouma het spelling gevra…. leeslesse geluister…. help sinne maak…. tafels geleer…. somme verduidelik… en gesien hoe hulle al slimmer word. Die dag het aangebreek dat ouma nie meer kon help nie… die somme het net te moeilik geword….en hulle is naskool toe.

Dié naweek het die erf leeggeloop want die groothuis se mense het saam met Jay hulle gaan kamp. Die blondekop het te veel leerwerk en take gehad en het by my en Ken kom bly. “Ouma sal help as jy vashaak.” sê Jay toe sy groet. Saterdagoggend kom klim die langbeen meisiekind dan ook met ‘n stapeltjie boeke by my in die bed. “Sal ouma asseblief vir my iets google?” Heel gewillig wag ek foon in die hand vir haar instruksies. “Wat is Suid Afrika se Nasionale Begroting vir 2018?” vra sy.
Ek sluk amper net daar my kleintongetjie in. Wat het ‘n graad 8 kind te doen met die land se Nasionale begroting? Hoekom is dit vir haar nodig om dit te weet? Watse nonsens is dit dié!!! ‘n Rebelse ouma gaan van geen nut wees nie… dus kalmeer ek myself en google wat sy gevra het. Een kyk na die skerm op my foontjie en ek roep vir Ken.

Screenshot_2018-03-18-10-20-55Net daar oorhandig ek haar aan haar oupa wat haar heel gretig oorvat toe hy die syfers sien. Die twee gaan sit in sy saamgeflanste kantoor… en tot die kleurprinter word vanaf die groothuis gebring en hier staangemaak. Koppe bymekaar sit die twee die oggend daar en werk. Ek is dankbaar vir Ken se insig in syfers. Dat die blondekop my ontgroei het is duidelik…. maar niemand gaan my oortuig dat dit vir haar nodig is om op veertienjarige ouderdom te weet wat die land se begroting is nie.

31 thoughts on “Kameel – Ouma sê dis nonsens

      1. Ongelukkig val ons alweer Donderdag in die pad en is hopelik Vrydagaand tuis. Dis ‘n hengse lang trek en nog twee dae se stilsit en knibbel in die kar, beteken niks goeds vir klere wat moet pas nie!😠😜

        Liked by 1 person

    1. Scrapy die dinge wat die kinders nou leer is mind blowing. Jay wat self onderwyseres is.trek maar net skouers op en sê die kinders moet maar net byhou. Volgens Jay moes ek maar net die foon vir die blondekop gegee het…. sy sou google wat sy wil weet. Baie baie bly ek maak nie vandag kinders groot nie.

      Like

          1. Ergste vir my is dat hulle nie kan verstaan dat mens nie so tegnologies vaardig soos hulle is nie. As hulle jou dinge wys is dit tjoef-tjaf en hul is waar hul wil wees terwyl ek ekstra tyd en demonstrasies/oefening nodig het om te weet hoe. Ek help my seun met sy besigheid en dit het rekenaarwerk(orders v ebay af lees en print) dan parte wat bestel is pak en in koeverte sit om te stuur. Die goedjies wat in koeverte kom het almal tegno name! Dan gaan ek poskantoor toe waar ek moet teken vir al die koeverte wat gestuur is. Sjoe, dan moet ek ook byhou om te weet as ek partjies kort. Hy mak elektroniese bordjies wat hy self ontwerp en oor die hele wereld verkoop.

            Liked by 1 person

            1. Liewe land Scrapy jy verbaas my elke dag meer. Waar kry jy tyd vir alles op jou bord? Een goeie ding… daar is nie tyd vir kwaaddoen nie, en teen wil en dank bly jy by met die tegnologie… al vat die breinselle langer om by te kom. Gister weer voor jou huis verby gestap…. gehoop jy nooi my vir ‘n koppie rooibostee maar alles het doodstil gelyk. Alles nou al gesettle? Toweropstal smokkel so met my kop… toe ek nou van die tee praat sien ek hoe vlieg die rooibosteesakkies deur die lug deurdat Perdebytjie die hele spulletjie daar laat opblaas het. Jou arme uil het ook sleg deurgeloop 😁😁😁 Mooi dag vir jou. Ooooo ons het harde bui reën gehad gisteraand… en toe deurnag reën. Nat en koud vanoggend.

              Like

              1. Ek is so bly vir julle reen. Ons het gister heledag goed reen gehad. Dit word nou al koeler soggens. Ek het nounet Perdebytjie se stuk gelees. Het my gate uit geniet. Sy het wraggies n goeie opsomming gegee en nog heerlike ekstra inligting bygevoeg. Ek hoop ek is volgende keer tuis as jy verbykom. My seun het juis gister en vandag hier gesit in sy garage waar sy masjiene is. Ons was bietjie ver agter met die produksie. Hopelik kom ons gou weer op spoed. Die trekkery gebruik baie tyd. Nog net die laaste klompie goed wat nog moet oorkom. Gaan eers die vakansie regtig alles uitpak en bere.Dis netso n groot storie.

                Liked by 1 person

  1. My oë is nou groot, Kameel. My ouedste kleinkind word hierdie jaar tien, en ek kan op die oomblik nog heerlik byhou met sy leerwerk. Maar o gits, dit klink my ek gaan ook oor ñ paar jaar op die rak eindig.

    Liked by 2 people

    1. Frannie, ek moet baie keer dankie tog vir Ken sê!!! Daar is my rigtingbeduiweldheid, my dronkkop, my computer ignorance (weet nie beter woord nie) en nog vele meer 😕

      Liked by 2 people

  2. Ek het nie kinders of klein kinders nie, maar ek weet een ding, ‘n 14 jarige kind wat nog saam ouma op die bed klim en by haar sit en goete vra , gaan defnitief nie vir jou ontgroei nie. Dat hulle ander dinge leer vandag is waar, ek het al verlore geraak met wiskunde op skool want ek sien steeds nie hoe jy letters en nommers aan mekaar gelyk wil bewys nie en klaar. Maar ek dink dit was so mooi om dit te lees. Dit is iets wat mens so min sien hier vêr en om te weet mense is nog so betrokke met mekaar is wonderlik . Wat kinders meer nodig het as enige iets anders is net juis daai van by iemand wees wat regtig luister vir hulle, nie soos ma en pa nie, soos net oumas en oupas kan… en oor die syfers- moet my nie bel nie, ek bel jou eerder:):)

    Liked by 2 people

    1. Dankie vir die mooi woorde Virgo… dit is die wonderlikste voorreg wanneer ‘n tienerkleinkind nog kom lê en gesels. Ons sestienjarige kleinseun (hy is ellelank… ek kyk op na hom) kom nou een Saterdagoggend hier ingeloop nog in sy nagbroek… kom lê langs my op die bed en vir meer as ‘n uur gesels ons te heerlik. Ek het hom van babatyd af gevry en opgepas… en ons het ‘n nou pad saamgeloop. Hy sê vir my ouma ken my so goed, ek moet my “beroepskeuses” met ouma kom bespreek. Wat ‘n blessing!!! Jy moet my ook asseblief nie met wiskunde bel nie… dit het ‘n oudersomsbeperking op…. asook ‘n vervaldatum.

      Like

    1. Ouch…. ja Abrie, ek moet erkenning gee waar erkenning toekom. 😊
      Ek gaan sommer hier vir jou vertel van ‘n paar woorde wat jy geskryf het wat my op die onmoontlikste tye aan die lag het. Dit het my sin vir humor kolskoot getref. Iemand het geskryf oor die roman en die naam van die boek wat ons gaan.skryf. Jou reaksie was net Ooh ooh eh eh. Daardie paar woorde het alles gesê 😁😁😁😁😁😁 Kan net sê dankie vir dit…. dit verskaf my groot plesier.

      Like

    1. Ek is nie seker nie want ek het nie mooi gelees nie… maar ek is amper seker ek het.soveel triljoen gelees. Dis erg!!! Lekker om weer van jou te hoor… ons mis jou daar by die opstal.

      Liked by 1 person

  3. Regtig! Ek stem 100 persent saam!
    Ek het B Comm studeer en die dag ná die begroting het een dosent gevra wie van ons die begroting geluister het.
    Begroting? Watse ding is dit?
    Nee man!
    Of wou hul eintlik maar net hê dat die kinders moet weet daar is so iets en dat dit ons almal raak, veral net die BTW (by the way) wat opgaan?

    Liked by 1 person

    1. Sy en haar oupa was so lank besig en daar is velle vol geprint. Weet nie wat alles daar aangegaan het nie. Gesien tot die minister van finansies se gesig was uitgeprint. 😕

      Like

Gesels saam, asseblief!