Pa’s en dogters

Elke verhouding in die gesin het sy eie plek en belangrikheid, en iemand het een keer gesê dat God heel eerste vir Adam en Eva geskep het, ‘n gesin, en nié ‘n Raad van Direkteure nie.

Omdat die verhouding tussen die pa en sy dogter nou ter sprake was by die Google soekenjin, is dít waaroor ek wil skryf.

Pa’s julle is nie net die voorsieners wat moet sorg dat daar geld in die huis is nie, julle het ‘n baie prominente doel in die huis. Julle is die hoof van die huis, die vaders in die huis, en as julle daardie rol met liefde vervul en julle vaderskap in liefde uitoefen, sonder om iemand soos ‘n vloerlap te laat voel, baat elke persoon in die huis daarby. Jy inkluis.

Pa, jy is die een wat jou dogter leer hoe ‘n man eendag teenoor haar sal moet optree. Jy leer haar wat liefde en respek is en as jy liefdevol en respekvol teenoor die vrouens in jou huis optree, leer sy weer hoe om in liefde te reageer. Daardeur leer sy om vir jou te eer en respekteer en lief te hê soos ‘n dogter haar pa moet liefhê, maar ook later ‘n vrou haar man moet respekteer.

As jy jou rol as pa uitoefen, soos wat God dit wil hê, as daar ‘n goeie en gesonde verhouding tussen julle is, baan jy die weg dat sy dalk eendag haar man ook sal respekteer en liefhê en dien.

Maar pa, as jy jou dogter op een of ander manier misbruik, verloor sy haar respek vir alle mans. As jy as pa nie gesonde verhoudings handhaaf nie, veroorsaak jy dat sy ook in haar volwasse lewe mans nie kan vertrou nie.

As jy ‘n afwesige pa is, veroorsaak jy dalk so ‘n honger na ‘n vaderfiguur, dat sy op ‘n té vroeë ouderdom uitreik na ander mans op ‘n verkeerde manier.

En pa, weet ook dat jou dogter een dag ‘n geliefde huis toe gaan bring. Ja, dis moeilik, jy wil jou kind beskerm. Ook dít is die normale verloop van die lewe en as jy dit gaan toelaat en haar goeie keuse van man gaan goedkeur, as jy haar laat gaan, help dit haar in haar eie huwelik. Moenie dat sy skuldig voel omdat sy jou verlaat het nie. Moenie dat sy voel sy moet kies tussen jou en hom nie. Sy is mos regtig lief vir jou!

Beskerm jou dogter, maar waak teen oorbeskerming. Gee haar soms ook die geleentheid om haar vlerkies te sprei.

Pa’s, die grootste geskenk wat jy jou dogter kan gee, is, om haar mamma baie lief te hê.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Op die spore van die meesters met Uber

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Transformation Prayer Ministry: Bredasdorp en Riversdal

16 thoughts on “Pa’s en dogters

  1. So waar Toortsie. Ek gaan dit deel op my blog ook, want ek is een van hulle met pa-dogter issues en ek wens ek kan vir sulke pa’s sê wat dit aan ‘n dogter doen.

    Like

  2. Reblogged this on die lewe na 40 and commented:
    Geen dogter behoort haar pa te smeek om deel van haar lewe te wees nie. Vaderlike liefde is nie veronderstel om perke te hê nie want vir ‘n dogter is en bly haar pa altyd haar eerste liefde.

    Like

  3. Spyt kom altyd te laat…ek dink menige pa is te laat spyt dat hy nie besef het watter geskenk God aan hom gee in die vorm van sy kinders nie. Soveel in ñ meisie se lewe word deur haar verhouding met haar pa bepaal.

    Like

Gesels saam, asseblief!