Vandag is dit basaar

As klein kind was ek mal oor die basaar. Ek het dit geniet, al die lekkers, die popklere, die opwinding. My ma het tafelsvol koeke gebak, ek vermoed daar was ‘n onderlinge kompetisie tussen die tannies oor wie die meeste koeke bak.

Toe raak ek groot en trou en as brandarm, jong getroude, moes ek iets maak vir die basaar en my oulike idees wat ek in my kop gehad het, was nie so oulik in my hand nie. Ek dink ek was skaam omdat my goed geflop het en die mense sou skinder en ek was ongemaklik met wat ek koop en net daar het ek besluit, ek hou nie van basaar nie.

Vir jare lank het ek gevoel die opwinding rondom die basaar is laf, en as ek diep dink, was dit my eie onsekerheid wat dit veroorsaak het.

Rondom die finansies van ‘n basaar het ek ook my eie gedagtes gehad.

Tog steek ons jaar vir jaar sosaties in vir die basaar en geniet ons die saamwees en saamwerk daaraan. En God werk aan my hart:

Basaar hét ‘n doel. Vir baie mense is dít die manier wat húlle kan werk en bydra tot God se Koninkryk. En basaar gaan, behalwe vir die fondsinsameling, oor die saamwees, die saamkuier, die gemeenskap van gelowiges tot eer van God.

Deesdae is ek mos soms ‘n dorpenaar en een van my voornemens toe ek dorp toe getrek het, was om deel te neem aan dit wat die dorp bied, wanneer ek kan.

Dus, vandag gaan ek en my manlief basaar toe. Ons gaan daar kuier en gesels met die mense. Ons gaan lekker middagete daar koop en lag en gesels en met ‘n heerlike hart huis toe kom vanmiddag. Vir die oumas sal ek basaarkoek neem.

Raai, ek is nogals opgewonde daaroor!

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Het jy ‘n stilwordplekkie?

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Transformation Prayer Ministry: Bredasdorp en Riversdal

13 thoughts on “Vandag is dit basaar

  1. Hierdie klink vir my na ñ heerlike dag wat voorlê! Tot vandag toe trek die popklere stalletjie my altyd eerste. Dis waar ek die wonderlikste skeppings vir die kleindogters se poppe raakloop.

    Liked by 1 person

  2. Die basaar se kleurvolle poedings was een groot fees. Met kinderoë hou jy dop hoe die tannies jou bakkie volskep en dan vla oorgooi. Later is dit pannekoek…. geen pannekoek is so lekker soos basaarpannekoek nie. Geniet jou dag!!

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!