Name & Shame is nie die antwoord nie

Zeebees het ‘n rukkie gelede ‘n video opgesit van Monica Lewinsky waar sy haar saak stel teen ‘name & shame‘.

Ja, ek het ook destyds lelik gedink van Monica, genade, vir wat gaan foeter sy met ‘n getroude man? Daar is mos genoeg manne wat beskikbaar is en ongetroud is? Maar dis nie waaroor my skrywe hier gaan nie. Dit gaan oor Name & Shame wat deesdae ‘n vreeslike mode geword het, veral op Facebook.

Ons voel dis ons reg om enige persoon wat nie optree soos ons wil nie, te noem sodat die hele wêreld weet daarvan. Ons druk die share knoppie asof dit uit die mode gaan. Soms, as ek die opmerkings lees, wys dit dat dit ‘n stokou foto is, of dat die volle waarheid nie vertel word nie, of dat dit iets heeltemal anders is as wat dit op die oog af lyk, maar share sal ons share, want sulke lelike mense wat sulke verkeerdhede aanvang, moet in die openbaar verneder word.

Die vraag kom al hoe meer in my kop op: Sê nou dit was ek? Sê nou dit was ek wat per ongeluk skeef parkeer het en iemand met ‘n slegte gevoel op die maag kom verby en neem ‘n foto van ons kar, plak dit op Facebook met ‘n vieslike storie en stuur dit die wêreld in en dit word oor en oor gedeel, vir almal om te sien watter vieslike persoon ek dan nou is? Hoe sou ek voel?

Sê nou net ek het gedoen wat ek op ‘n sekere oomblik gedink het, in daardie omstandighede regtig die beste besluit is vir my en my diere of kinders of wie ook al, maar iemand kom verby, luister nie na die regte storie nie, besluit sommer net daar en dan dat ek anders moes optree, en stuur dit die wêreld in sonder om vir my te vra wat die ware toedrag van sake is?

Hoe sal ek dan voel? Hoe sal ek voel as ek deur die hele wêreld verneder en sleggesê word, sonder om ‘n geleentheid te kry om my kant van die saak te stel, en sou ek dit probeer, dalk selfs nog verder sleggesê word, want die slegsêers op sosiale media is nogals fanaties en bytend?

Voor ons weer ‘name & shame’, laat ons dit mooi oordink. Is daar regtig enige waarde in? Is dit nie dalk eerder beter om die ware storie uit te vind by die persoon self nie en dit met hom deur te praat nie?

Want ek en jy is net so blootgestel daaraan dat iemand anders ons oor een of ander simpel dingetjie wil slegmaak.

Mooi dink volgende keer voor ons daardie ‘share’ knoppie druk.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Het jy ‘n stilwordplekkie?

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Transformation Prayer Ministry: Bredasdorp en Riversdal

31 thoughts on “Name & Shame is nie die antwoord nie

  1. Mense moet versigtig wees wees wat hulle verkondig ja, maar hierdie is ietwat van ‘n “two-sided coin”. Dit is waar dat sosiale media gebruikers alles oopvlek tot op die been en geen respek het vir privaatheid nie. Aan die ander kant, daardie persone wat vieslike wandade gepleeg het met onskuldige kinders en weerlose vroue, of wat politiese misdade pleeg, ens., word deesdae net so vinnig aan die kaak gestel. Laasgenoemde kan dalk net die eeuelange wegsteek en onder die mat vee van sulke oortredings, uit die weg ruim. Elke stappie “vooruitgang” het ook sy eie nadele.

    Liked by 1 person

    1. Ja, dis hoekom ek sê, mens moet net dink voor jy kliek. Dis beslis ookso dat virslike wandade beslis bekend gemaak moet word. Dis maar eintlik net ‘n ander vorm van skinder. Ek sê altyd FB is soos enige sitkamer waar ‘n klomp mense sit en gesels. Ons kan egter kies wat kns sê en wat nie.

      Liked by 1 person

      1. Nie almal is geoefend in die kuns van onderskeiding en weerhouding nie en met soveel meer mense wat aan die geselskap deelneem, kan jy maar ‘n sulke negatiwiteit verwag. Ongelukkig is dit nie net by diere wat die pack instinct oorvat waar daar ‘n groot byeenkoms is nie. Dis ons nuwe wêreld – naar maar waar.

        Liked by 1 person

  2. Dit laat my dink aan die middeleeue, waar mense op die markplein vasgemaak en met vrot tamaties gegooi is…geen verskil nie. Hester is egter reg, dat dit ook waarde het om regte slegte gedrag uit te lig. Ek persoonlik weier om deel te wees van sulke veroordeling op sosiale media.

    Liked by 2 people

    1. Ek is lief vir FB. Dis my kontak met die buitewêreld en as dit nie vir FB was nie, sou my boeke nie so goed gedoen het nie. Maar gelukkig kan ons mos kies wat ons wil lees, soos jy daar sê.

      Like

  3. Behalwe vir my eie stel wat ek afgetrap het op die Jesus.. amper sê ek blog, het ek nog nie afgekom op slegsê praatjies nie. Ek verstaan nie waar lees die mense dit raak nie. Hoor net altyd van ‘n moddergooiery. In elk geval ek wil rêgtig nie deel wees van ‘n slegsêery nie, en ek verstaan waaragtig nie watse behae mense daarin vind nie. Klink vir my maar soos die skares wat geskreeu het “kruisig hom.” Dis nou my beskeie mening.

    Liked by 1 person

      1. Daardie keer toe ‘n vrou van oorsee van my profile foto ‘n pornografiese foto gemaak en dit oor en oor geshare het. Privaat het ek mos ‘n e-mail vol dreigemente van haar ontvang. Tot Lekkervurig noem Fb vuisboek…. en ek verstaan dit nie want ek sien werklik nie mense daar baklei nie.

        Like

Gesels saam, asseblief!