Kameel – Depressie die monster

images (1)As jy nog nooit ‘n pad gestap het nie wees versigtig met jou woorde. Raad gee…. en tot verwyte is maklik, totdat jy self daardie skoene moet aantrek.

Soos ‘n dief in die nag het dit my bekruip; stadig maar seker die lewe uit my uitgesuig….. en my al dieper in die donker gat van depressie ingetrek. Ek het daarteen baklei…. na die lig toe bly beur… maar sy houvas op my was te sterk. Ek het die pille wat my uit die gat sou lig gehoorsaam gesluk, maar elke dag gevoel hoe ek dieper wegsink. My oë toegeknyp en ore toegedruk vir die vingers wat na my wys, en monde wat sê “Ruk jouself reg.” O, ek het nie net gaan lê nie…. nee ek het die depressie monster vir jare baklei maar gevoel hoe ek stadig doodgaan. Emosieloos het ek voor die dokter gesit toe hy met sy vuis op die lessenaar slaan en uitroep, “My God, help hierdie vrou ek kan niks meer vir haar doen nie!!” Op ‘n dag het ek net gaan lê… krag om op my voete te bly was daar nie meer nie. Vriendinne het ‘n kring om my bed kom staan. Met begeleiding van ‘n kitaar vir my gesing. Dit was liefde, dit was omgee… maar dit het my nie uit my graf gelig nie. Die wit pille in my hand sou ‘n einde bring aan hierdie lewende dooie. Ek sit op die vloer in ‘n hoekie van ‘n hospitaalbadkamer. Trane stroom oor my wange. Wanneer laas het ek gehuil? ‘n Suster buk voor my, “Ons het jou amper nie deurgehaal nie.” “Hoekom het julle my na dié hel toe teruggebring?”  ‘n Hand op my skouer, “Ek bel iemand om met jou te kom praat.” Ek het haar nie hoor kom nie. ‘n Sagte “hello.” Ek draai my kop haar kant toe. Sy deins terug… verwondering in haar oë. “Tannie is beeldskoon.!!” Wat makeer die meisiekind” “Dis ‘n Lig sê sy wat uit my oë uitstraal en haar ‘n kykie in my binneste gee. (Later jare sou ek by my pa se sterfbed dieselfde ondervinding hê, en ook na my asem snak.) Terug by die huis… terug in die tonnel. Daar was lig oppad maar ek het dit nie toe geweet nie. Vyf jaar van depressie was amper op sy einde

25 thoughts on “Kameel – Depressie die monster

  1. Kameel, dit is so belangrik dat ons sag met mekaar se menswees deel. Nie trap nie, maar ook nie net verby hou nie. My eie Moeks het jare daarmee geworstel en vandag, vandag verstaan ek eers. Dankie ons Here, vir die Lig.

    Liked by 2 people

    1. Amen vir die Lig Una. Dis moeilik om te verstaan totdat jy self daardeur is. Baie al gewonder hoekom maak Jesus nie net sy kinders se lewe makliker nie… maar hoe gaan ons medelye hê as ons nie verstaan nie. Praise be to the Father of all comfort, who comfort us in all our troubles so that we can comfort those in any trouble with the comfort we ouselves received from God.

      Liked by 2 people

  2. Daar maak jy my huil, ek kon dit nooit ‘n naam gee, tot ek hier begin skryf het nie. Daai gevoel wat jou borskas te klein laat voel.
    Volgende keer as julle vir Una gaan kuier, vra sy moet my bel, ek wil jou baie graag ontmoet

    Liked by 3 people

        1. Ek het eenkeer vir my sus gesê as ek ‘n been gebreek het sou almal beter verstaan het…. omdat hulle niks verkeerd kan sien nie verstaan hulle nie, en daarom veroordeel hulle. Dis ‘n baie eensame pad.

          Liked by 1 person

    1. Daar is geen lag in daardie donkerte nie…. net hopeloosheid Danie. Gewonder of die Transformational Prayer Ministry (TPM) ‘n kursus wat Toortsie gedoen het vir depressielyers sal help.

      Like

    1. As mens depressie net beter verstaan het jy klaar ‘n vêr pad gekom. Ons soek nie simpatie, prekery, of veroordeling nie… net ‘n hand van liefde wat sê jy is nie alleen nie. Dis ‘n baie eensame pad.

      Like

Gesels saam, asseblief!