Wat is Toortsie se toekomsplanne ten opsigte van Bantingboeke?

Toortsie hou van ‘n uitdaging. As iets vir haar ‘n uitdaging is, behou dit haar belangstelling, maar wanneer dit nie meer ‘n uitdaging is nie, kan die problematies raak.

Toortsie se uitdagings ten opsigte van boeke was as volg:

  1. Skryf ‘n geestelike boek – nog nie eers begin nie!
  2. Gee ‘n e-boek uit. Wel, hierdie uitdaging het gelei tot uitdaging 3
  3. Gee ‘n boek uit. – Uitdaging voltooi, met die skryf en publikasie van Toortsie se Bantingboerekos.
  4. Verkoop die boeke. Dit op sigself is ‘n massiewe uitdaging. Om die boek te skryf en te laat druk, is een ding, maar om hulle verkoop te kry, ‘n heel ander storie. Toortsie se Bantingboerekos is vier keer gedruk. Daar kan dus seker gesê word dat hierdie uitdaging ook suksesvol hanteer is, alhoewel daar nog boeke oor is.
  5. Vertaal die boek in Engels en verkoop dit. Uitdaging suksesvol gedoen, en daar is nog ‘n klompie Engelse boeke oor. Dis nogals moeilik om die Engelse boeke te bemark, omdat ek nie heeltemal weet hoe om die Engelse se aandag te trek nie.
  6. Skryf nóg ‘n suksesvolle Bantingboek. Suksesvol afgehandel in November 2017, met Hier’s die Toortsie weer!

So, wat nou? Wat nou volgende?

Hier sal beslis nie vanjaar nog ‘n Toortsie Bantingboek verskyn nie, omdat dit omtrent twee jaar neem om so ‘n boek te ontwikkel en alles wat daarmee gepaard gaan. Onthou, dis net ek en ek alleen wat die resepte uitdink of verwerk, ek het nie ‘n span mense wat dit doen nie. Ek het wel vriende wat vir my oulike raad gee.

Op hierdie stadium kry ek ‘n effense benoudheidjie in my hart as ek dink hier moet nou nóg ‘n boek lê wat bemark moet word. Dit voel vir my of ek die boekskryfuitdaging mos reggekry het. Maar, maak ek ‘n nuwe resep, wat net beter is as al die voriges, soos die Tiramisu wat ek gister gemaak het, dan kan ek nie anders as om te dink: ‘Hierdie moet in ‘n boek kom’ nie.

Ek het ‘n rowwe 2 jaar agter die rug wat baie van my geverg het: Liggaamlik en emosioneel. Ek dink nogals ek het, veral verlede jaar, die kers aan albei kante gebrand en sou hy nóg kante hê, sou ek dít ook gebrand het.

Daarom dink ek dat tans my grootste uitdaging is om die boeke wat ek nog het, so gou as moontlik te moet verkoop. Ek gaan nie herdruk nie. Intussen sal ek, soos die Gees my lei, en soos die lus my beetpak, natuurlik steeds nog resepte ontwikkel, en wie weet, dalk kry ek weer eendag lus om die boekperdjie te ry. Ek het selfs gedink om sommer net ‘n eenvoudige boekie te maak waarin net resepte is, sonder foto’s, vir regtige Banters wat resepte soek, maar dit sal ‘n stappie in die verkeerde rigting wees, dink ek.

Kom ons kyk wat gebeur in die toekoms, maar nóú is my fokus om die boeke te bemark en klaar te kry. Dus, onthou, ek gaan nie herdruk nie. Kry jou kopié solank jy nog die geleentheid het!

Mooi loop

Toortsie

Toortsie by Finesse: Toe kom die reën

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Transformation Prayer Ministry: Bredasdorp en Riversdal

15 thoughts on “Wat is Toortsie se toekomsplanne ten opsigte van Bantingboeke?

    1. Hierdie boekeding is mos regtig ‘n pad wat die Here vir my uitgelê het en ek net moet volg. Al wat ek tans weet is, wees ‘n bietjie rustig. As jou boeke uitverkoop is, is dit vir eers klaar. Maak nou eers dit klaar waarmee jy besig is.

      Liked by 1 person

    1. Abrie, ernstig nou, hierdie sal jy verstaan. Ek dink my fokus is aan die skuif na ‘n nuwe uitdaging, om my TransformationPrayer Ministry roeping op sterk bene te kry. Die bemarking van my boeke begin minder prioriteit raak. Dis hoekom ek nie wil herdruk nie. Dit is mos ‘n stokperdjie en dit moet lekker bly.

      Like

Gesels saam, asseblief!