Die mense van Downton Abbey

Die somtotaal van televisie wat ek tans kyk, is Elders, wat handel oor ‘n man se ervaring van die bekende pelgrimstog in Spanje, nl die Camino de Santiago.

Iemand het vir my Downton Abbey gegee en wanneer ek soms die geleentheid kry, kyk ek dit graag.

Soms gee ek vir die karakters mense wat ek ken, se name. Ek herken ook myself in van die karakters, soms mooi karaktereienskappe, maar ook die lelike eienskappe wat daar is.

Ek verkyk my aan die twee totaal verskilende leefstyle van die gesin aan die een kant, en die werkers aan die ander kant en ook die wissekwerking tussen die twee groepe. En dié van hulle wat die geleentheid aangryp om hulleself te verbeter, verdien my bewondering.

Tussendeur, as jy mooi luister, word lewenswaarhede uitgespreek, veral onder die twee ou dames, wat mekaar eintlik nie kan verdra nie, maar aangewese is op mekaar. Yster slyp yster, en sonder dat hul dit besef, kom daar ‘n omgee en sagtheid vir mekaar. Hul besef dat tweede kanse iets is wat al hoe minder raak, hoe ouer ons word.

Lady Rose is ‘n karakter op haar eie. Eers was sy die warm enetjie wat enige geleentheid om ‘n man te vry, aangegryp het. Sy het ‘n liefdevolle geaardheid en kyk heeltemal verby alle grense van ras, klas, geloof en wat nog alles.

Haar neef beskryf haar aan haar suur ou skoonpa met hierdie woorde, en dís wat my bybly, dat as hy haar sou toelaat, sy hom vir ewig lief sal hê. Is dit nie verskriklik mooi nie?

‘n Vriend het een keer op sy verjaarsdag gesê dat hy graag vriende sal wees met almal wat met hóm vriende wil wees.

Ek huil oor mense wat so maklik hul rug op mense draai die eerste keer wat daar ‘n ongemaklikheidjie in die pad kom, wat elke hand van liefde wat jy na hulle uitsteek, wegklap. Oor tyd vereensaam sulke mense totaal en oor ‘n leeftyd raak die liefdevolle hande wat na hulle uitgesteek word, minder en minder, totdat daar later niemand meer oor is nie.

Ek wil ook graag soos Lady Rose wees, iemand wat mense met haar liefdevolheid oorweldig, selfs al verdien hulle dit nie. Dis nogals iets om na te streef.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: My geselskap

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

7 thoughts on “Die mense van Downton Abbey

  1. Jy stel dit mooi, Toortsie. Ek wil ook so wees, iemand wat liefde gee sonder om veel terug te verwag. Dit is nie altyd maklik nie, ons loop maar almal met vooropgestelde idees oor mense rond. Tog, ek glo dit is moontlik; om mense te oorweldig met jou liefdevolheid.

    Liked by 1 person

  2. Nee, nee, nee. Ek karring lank aan dié wat my die rugkant draai. Ek maak asof ek heel dikvellig niks agterkom nie en gaan tel die drade van vriendskap weer op asof niks gebeur het nie. Ek kyk ook Downtown Abby wanneer ek kan. Die lewe het merwaardig verander, het dit nie? As jy daarlang in ‘n sekere klas ingebore was – was dit maar jou lot.

    Liked by 1 person

    1. Ag hoe bly is ek dat jy by my ‘n idee kry. Ek is nou klaar met die 5e reeks. Nou nog reels 6. Ek weet nie of dit nóg verder gaan nie? Daar gaan weke om wat ek nie kyk nie, en dan kyk ek 1 aand sommer 4 episodes.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!