Die Kaap en die water en sommer die hele land daarmee saam

Dat Suid-Afrika se water ‘n krisis is, is mos eintlik ou nuus. En nie net die Kaap se water nie, sommer die hele land s’n.

Dit gebeur om verskeie redes, naamlik uitmergelende droogtes (Afrika is mos darem deur die eeue al bekend vir sy droogtes), politieke redes, swak bestuur, swak onderhoud, en nog baie ander.

Ek hoor nou die dag op RSG dat die luisteraars vra dat die waterbesparingsgesprekke eerder streeksgebonde uitgesaai moet word, dit is mos net die Wes-Kaap se probleem. Iemand loop sowaar met oogklappe aan!

Die probleme rondom krane wat leegloop, is ‘n gegewe en ons gaan niks daarby baat om vingers te wys nie. Die dag as ons krane leeg loop, is hulle leeg en kan ons maar toitoi en raas en blaas soos ons wil, dan is ons krane leeg.

Maar elkeen van ons kan iets doen. Vandag nog. Iets wat ons dalk baie kan help, selfs al het ons nie tans waterskaarste nie.

Sit maar daardie emmer in die stort neer. Ja, dit is ‘n beslommernis. Ja, dit staan in mens se pad as jy stort. Hergebruik daardie grys water waar jy die beste dink. Ons spoel ons toilet daarmee.

En van toilet gepraat: Moenie hom elke keer spoel as jy piepie nie! Dis nie nodig nie. Regtig nie. Mens raak ook gou hieraan gewoond. Ja, dit lyk nie altyd lekker nie, kry daarom vir jou Albex No Flash.

Dit werk soos’n bom! Dit neutraliseer die uriene in die water, dit verwyder die reuk en maak die water blou.

As jy die stortwater gebruik in jou toilet, gooi sommer soms ‘n bietjie Domestos in die emmer, of bo-in die toilet se waterbak. Dit verwilder ‘n klomp kieme en sommer die mensreuk ook.

Hergebruik so veel water as jy kan. Verbind pype aan jou badkamer se uitloopwater en laat dit sommer vanself in jou tuin inloop. Die stortwater wat jy nie opvang in die emmer nie, beland dan sommer direk onder jou bome of groentetuin. Dieselfde met jou wasmasjien se uitloopwater.

Vang reënwater op. Jy kan tenks koppel aan jou dakwater en dit in jou huis gebruik. Of jy kan dit met geute ook herlei na jou tuin toe.

Moenie jou beddegoed en handdoeke so baie was nie. Wag daarmee tot dit vuil is. (Baie mense ruil hul lakens weekliks en dis nie altyd nodig nie. )

Plant droogtebestande plante in jou tuin en verwyder al hierdie mooi, uitheemse goed wat water suip.

Gebruik ‘n kleiner handdoek.

Maak die kraan toe terwyl jy tande borsel.

‘n Volgepakte skottelgoedmasjien gebruik minder water as om al daai goed met die hand te was.

Moenie jou potte laat aanbrand nie!

Baie mense tap bietjies water onder in koppies en bakke om dit te laat week. Dis ‘n vermorsing van water. Sit net daardie goed in die wasbak neer. Deur die dag is jy gereeld by die kraan en dan drup hul sommer vanself vol met die water wat by jou hande verbyloop.

Ek weet daar is mense wat nog baie meer bespaar. Ek weet daar is baie mense wat in ‘n kommetjie was. Ek is dankbaar dat ons dorp nog water het en ek nog op ‘n gemaklike manier water kan gebruik, maar die verantwoordelikheid om water te spaar, lê by elkeen van ons. Soos op Johannesburg se lughawe se mure staan: Kom ons spaar water terwyl daar nog water is om te spaar. Landwyd.

Toortsie

Toortsie by Finesse: My geselskap

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

14 thoughts on “Die Kaap en die water en sommer die hele land daarmee saam

  1. Ons was eenkeer in die einste ou Johannesburg meer as n week sonder water. Hulle het het tenklorries rivierwater aangery en dan moes ons met emmers gaan tap en eers water kook voor gebruik. Voorwaar geen grap nie.

    Liked by 1 person

      1. Mens het sulke ervarings nodig om te besef hoe kosbaar water is. Sonder om rassisties te wees..dis geweldig interessant om te sien hoe huishulpe wat altyd moes sukkel om water aan te dra, ontsettend kan mors met kraanwater.

        Like

  2. Uitatekende wenke Toortsie! Met ons gereelde ekskursies die wildernis in, het ons agtergekom ‘n mens kan met minder as vyf liter water per dag klaarkom, drinkwater uitgesluit. Die oumense was nie so dom met hul lampetbeker en waskom nie. Stortkoppe is ook heeltemal te groot en ek het al gevind dat ek minder water gebruik as ek bad.

    Liked by 1 person

  3. Ek dink ook ons bad te veel en was te veel wasgoed. Ek het in Namakwaland geleer om in drie duim water te bad en dan nog my onderklere vir die volgende dag ook in dieselfde water te was. Ons koop al ons drinkwater hier oor die besoedeling in ons riviere en waterstelsels en is gewoond daaraan dat ons soms vir dae lank nie water uit die krane sien kom nie – dit terwyl duisende liters water elke dag uit ons riviere stroom die see in.

    Like

Gesels saam, asseblief!