Wenke vir die skryf van ‘n opstel.

Skryf ‘n opstel oor jou storie.

Die heel belangrikste om te onthou, is, die juffrou wil jóú storie hoor en nie die Toortsie s’n nie, want elkeen van ons se stories is uniek. Maar dalk kan ek jou tog help.

Wat is jou storie? Gaan jy dit in die algemeen skryf, van, ek het op ‘n plaas grootgeword en bla bla bla, of is daar dalk ‘n spesifieke iets wat met jou gebeur het, wat jy graag wil vertel. Dalk het jy uit ‘n boom geval, dalk het jy groot geskrik vir ‘n spinnekop? Wat het met jou gebeur wat met niemand anders gebeur het nie?

Ek was nie ‘n goeie opstelskrywer nie en wou te graag skryf wat ek dink die juffrou wou hoor, maar met my skrywery aan blogs het ek ‘n paar dingetjies geleer wat ek nou vir jou wil leer en wie weet, dalk help dit vir jou.

1) Dink watter storie jy wil skryf en dink watter interessanthede jy sal wil vertel.

2) Vir watter van jou vriende sal jy die storie met genot kan vertel as dit ‘n lekker storie is, of wie, dink jy, sal jou pynverhaal verstaan?

3) Vertel jou storie in jou kop vir daardie persoon, of, vertel dit sommer vir hom, as jy kan. Dink ‘n bietjie wat jy graag wil vertel.

4) Begin dit dan skryf op ‘n rofwerkblad asof jy dit vir daardie persoon vertel. Skryf soos wat die woorde in jou kop kom, selfs al kom dit skeef uit. Moenie foute regmaak of teruggaan nie. Skryf eers jou storie klaar. Nie hoogdawerende woorde nie, skryf soos jy praat.

5) Nou tel jy jou woorde en kyk of jy nog woorde nodig het en of jy heeltemal te veel het.

6) Lees nou jou opstel deur en trek dood wat nie daar hoort nie en sit by as jy aan iets dink. Maak nou ook jou foute reg.

7) Dink by jouself: Het dit lekker gelees? Het jy dit geniet? Hoe kan jy dit verander dat dit lekkerder lees? Maak veranderinge, indien nodig.

8) Skryf dit oor in jou opstelboek.

9) Maak dit jou eie storie in jou eie skryfstyl, nie iemand op die internet s’n nie, en beslis nie jou ma se storie nie. Sy het haar beurt gehad toe sy op skool was, nou is dit jou beurt om te ontwikkel. Gryp daardie kans!

10) Kom plak jou storie hier by die kommentare sodat ek dit ook kan kees.

Lekker skryf!

Toortsie

Toortsie by Finesse: My geselskap

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

20 thoughts on “Wenke vir die skryf van ‘n opstel.

    1. Nee, nee. Van taal en paragrawe weet ek niks en of dit enigsins volgens die skole se riglyne is, betwyfel ek. Ek sien maar net hoe soek die mense by my opstelle om dalk af te skryf, ek weet nie. Daarom probeer ek raad gee dat die kinders hulle eie ding doen. Ek het regtig ‘n probleem met ouers wat hulle kinders se take doen. Ag, ek dink ek baklei teen die oormag. Dalk soek hhl regtig raad. Wie sal weet?

      Like

      1. Ha ha, ek is nie so vaardig soos jy nie. My brein moet werk om my vingers te laat tik en dan moet hy weer my oë aansê om te lees en te verander ook.(Het nie afrikaanse spel op my rekenaar nie so daar kom maar dinge voor wat ek eers moet opsoek, wat ek deur google doen) Ha ha, is nie rerig so erg nie. Dink my reaksies is net n bietjie stadiger as gemiddelde skrywer?!

        Like

          1. Ek ia veronderstel om met al my vingers te kan tik. Het nooit tik op skool gehad en toe 5 jaar na ek al skool gehou het aandklasse geloop. Onderskeiding in my std 8 eksamen gekry. Toe is ek nie lus om Matriek te doen nie want dit is net oefen en oefen om vinniger te tik. Nou tik ek lekker en vinnig met twee vingers. Ek doen minimum op foon. Dit vat te veel tyd.

            Like

              1. Hoe groot is jou foon se sleutelbord? My vinger is gedurig op verkeerde letter as ek nie mooi kyk nie. Ek gaan nou my wifi op my foon kry wat altyd my inligting gaan gee(het net n beperkte gebruik omdat ek pay as you go en wil ook nie baie uitgee op foon nie) My seun gaan betaal so dit gaan nie saak maak nie.

                Liked by 1 person

                1. Ek het ‘n klein foontjie. Moet maar baie konsentreer as ek op hom tik, maar dit raak al hoe makliker, ek werk so baie op hom. Ek moet maar altyd deurlees as ek klaar is en foutjies regmaak.

                  Like

  1. Daar is sekere van my blog”opstelle” wat oor en oor gelees word. Ek wonder of die kinders aangeraai word om Afrikaanse blogs te lees en ‘n idee te vorm van hoe verskillende mense skryf. Dis wat my Afrikaanse onderwyser ons aangeraai het, maar ons moes natuurlik maar koerante en tydskrifte lees – deesdae is daar blogland. Ek het gevrek oor opstelle skryf.

    Liked by 1 person

    1. Ek was altyd selfbewus oor my opstelle. My ma was ‘n taalkundige en elke week wou sy weet wat was die opstelonderwerp. Dan sê sy: ‘O, jy moes dit of dat geskryf het’ voordat sy nog my opstel gelees het. Nouja, dan het ek mos iets anders geskryf en het ‘n mislukking gevoel. Ek het altyd verkeerde goed geskryf! Dit het my laat glo dat ek nie opstel kan skryf nie. Tog het ek nie swak punte gekry nie, maar ek was defnitief nie onder die top opstelskrywers in die klas nie. Nou ja, ek weet nie wat die ander kinders gekry het nie, dalk ook maar net soveel soos ek!

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!