Waarom hoegenaamd bid?

Waarom sal ons bid as God in elk geval net maak soos wat Hy goed dink en Hom nie laat voorskryf nie? Waarom enigsins bid as God Hom nie laat manipuleer nie, en, is gebed nie maar net manipulasie nie en wie is ék nou om my wil deur gebed te laat afdwing?

Dít is vrae wat ek raaklees.

My God is ‘n wonderlike God, die enigste God wat bestaan. Hy weet die beste en nee, wanneer ek bid, sal Hy Hom nie laat manipuleer nie. Hy is nie ‘n pion wat ek sommer net kan rondskuif soos ek wil nie.

Maar my God, die God van hemel en aarde, die Drie-enige God, is ‘n liefdevolle Vader, wat betrokke is by die geringste dingetjies in my en jou lewe. Hy is ‘n God wat die beste vir ons wil hê, maar ook ‘n God wat geëer wil word. Omdat Hy die beste vir ons weet, gaan Hy nie noodwendig alles vir ons gee wat ons wil hê nie. Soms gaan Hy dit glad nie vir ons gee nie, soms gaan Hy eers wag omdat Hy verandering in ons lewe en hart wil bewerkstellig.

God wil hê dat ons met Hom moet praat in gebed. Hy wil hê dat ons Hom moet dank, moet eer, moet aanbid. Hy wil ook hê dat ons ons diepste behoeftes aan Hom moet openbaar, selfs al weet Hy in elk geval wat dit is. Deur dit met Hom te kommunikeer, erken ons Sy soeweriniteit, Sy almag, maar die meeste van alles, ons erken ons afhanklikheid van Hom. Ons erken dat ons niks kan doen sonder Sy hulp en toestemming nie. Ons gaan nie net arrogant aan asof ons die Alfa en die Omega is en al die kennis en wysheid in pag het nie. Nee, deur ons gebed wys ons ons onderdanigheid en afhanklikheid aan Hom.

En ja, baie keer weet Hy presies wat ons wil hê, maar gee Hy dit nie omdat Hy wil hê ons moet dit eers vir Hom vra, net soos ons ook baie keer weet wat ons kinders graag wil hê, maar wag dat hul dit vir ons vra, omdat ons dalk wil hê dat hulle iets moet leer.

Ek kan getuig van male sonder tal wat ek gesien het hoe God gebede beantwoord. Toeval werk net tot op ‘n punt, dan raak dinge net té toevallig. God het Homself al soveel keer in my lewe bewys en gewys, ek wéét Hy leef. Ek weet Sy Woord is waar. Ek weet dat Hy gebede beantwoord en ek voel skuldig oor soveel maal in my lewe wat ek nié gebid het vir iemand nie en dit dalk ‘n verskil sou maak as ek wel gebid het.

Jesus het baie tyd in gebed spandeer en omdat ek Hom volg, sal ek dit doen. As ek vir jou sê ek bid vir jou, weet dat ek dit doen. Ek bid ook vir baie mense wat nie weet ek doen dit nie en dalk sou hulle ook nie wou hê ek moet vir hulle bid nie, maar in opdrag van my Leermeester, sal ek aanhou bid.

Daar ís krag in gebed, en die groot krag daarin is die groot Krag na wie toe ek bid, omdat Hy almagtig is en tot alles in staat is. Ek sal my hoop op Hom bly vestig, omdat daar niks en niemand anders is op wie ek dit kan vestig nie.

En sou jy dalk voel dat gebed ‘n vermorsing van tyd is, is dit reg met my, maar ek sal aanhou bid.

Toortsie

12 thoughts on “Waarom hoegenaamd bid?

  1. Ek was nou so bly toe ek nou iets positief oor gebed raaklees. Ek skryf my gebede in ‘n boek en dan kan ek ook sommer sien wanneer Hy my geantwoord het ook. Jy het gebed uitstekend gestel hier. Well done!

    Like

    1. Baie dankie. Dit was Gees-geïnspireerd. Ek skryf ook so 3 of 4 maal per week in ‘n boek. As die boek vol is, verbrand ek dit, omdat dit so verskriklik persoonlik is. Ek het altyd die ou boeke gehou en soms gelees, en dit het baie beteken.

      Liked by 1 person

  2. Jy het my ‘n idee gegee met die boeke. Ek skryf ook in my joernaal as ek met God praat of in Sy woord lees. Soms is dit baie privaat en ek wil ook nie dat dit die wereld vol le nie. Om te bid en dit voel of God nie antwoord nie, is maar net omdat ons nie soos God kan dink nie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!