Kameel – Dit is tyd om te bedank

Ek wonder waar handig ‘n mens jou bedankingsbrief in as ma. Van daardie dag – toe Timothy as ‘n klein seuntjie op die agtertrappies gesit en vir my gevra het of Jesus die son gemaak het – en op my “ja” gesê het, “jô, maar Hy het hom hoog op-ge-jack,” het ek nog nooit ophou vrae beantwoord nie. My brein as ma is leeggetap, en dis tyd om te bedank.

My kinders glo ek is ‘n verklarende  woordeboek, ‘n ensiklopedie, ‘n skrywer wat gedigte, opstelle, praatjies, versies, toneelopvoerings ens uit ‘n hoed uit kan haal….  en om alles te kroon dat ek die bybel vanaf Genesis 1:1 tot Openbaring 22:21 uit my kop uit ken, en weet wat elke vers beteken…. en daarom alle wysheid in pag het.

In die huis was tot vir hulle maats gesê hulle kan na my toe kom as hulle vrae oor die lewe, of persoonlike probleme het waarop hulle antwoorde soek. Dit was in die huis – die nes het intussen leeggeloop – maar die vrae het bly kom… en kom nogsteeds.

Wanneer een van die tienerjarige kleinseuns op hierdie erf hier instap, homself tuismaak en sê hy het iets om te vra – kan ek maar weet Marlé het gesê “gaan vra vir ouma.” Vrae oor God word na ouma toe verwys.

Net in hierdie week wou Jay weet wat beteken Genesis 3:6. ‘n Dag later bel Chanté in ‘n groot penarie. Sy en haar man het uit Eksodus 4 vir hulle twee dogtertjies voorgelees (waar Sippora haar seun besny, en met die voorhuid Moses se voete aangeraak het.) Sewejarige Vilani wil nou weet wat is ‘n voorhuid, en hoe moet sy dit nou aan die kind verduidelik. En dan wil haar man sommer ook weet waarom wou God Moses doodmaak.

In die week moes ek ook ‘n paar keer vertalingswerk doen. Gister s’n het my goed laat kop krap; Wat de swernoot is “Nutrition Facts” in Afrikaans? Dit is toe dat ek besef het – dit is tyd om te bedank.

IMG-20180205-WA0003-1

 

48 thoughts on “Kameel – Dit is tyd om te bedank

    1. Frannie ek moes hier erken dat ek net mens is en nie weet nie. Ek hou van voedingswaarde…. maar dit is nie korrek nie. Voedingsfeite? Voedingsinformasie? Who knows? Ja, eenmaal ma… altyd ma…. en ouma 😊

      Liked by 1 person

    1. Ek probeer maar tot die tande raak stomp 😊 Hoop jy het jou naam by Hester gaan ingee vir deelneem aan ons crime storie. Jy kan dit nie verby laat gaan nie… alhoewel ek vir Toorts gesê het jy mag ‘n gevaar inhou. As jy musiek hoor gaan jy dans…. en wat maak sy dan met jou!!!

      Liked by 1 person

    1. Ek wonder hoekom was daar nie ‘n boek wat my presies voorberei het op wat van my as ma verwag gaan word nie. Al inligting wat ek by my ma gekry het was; “Ek troos myself daaraan dat jy ook eendag ‘n ma gaan wees,” en “Terwyl jy jou kinders onder een kombers kan toemaak gaan dit nog goed…. maar die dag as hulle daar uitklim begin die moeilikheid.” En hier fade ons nou onder dit alles weg 😯

      Liked by 1 person

      1. Ek het my kinders altyd belowe dat, eendag wanneer hulle groot is groot is, gaan ek my honde en katte vat en by hulle gaan kuier. Ek gaan nie die diere se poef en hare optel nie, ons gaan almal op hulle sitkamerbanke rondlê en daarop spring as ons so voel, ons gaan hulle kombuiskaste leeg eet en elke glas of koffiebeker in die huis elke dag gebruik en net so vuil los. Ek het nie hierdie belofte nagekom nie. Nog nie.

        Liked by 2 people

                1. Soos dit vir my klink is dit die lyfwag en die geld!!! Ek het ‘n idee jy vat die lyfwag…. en ek die geld. Haai nee siestog…. wat van al die ander bloggers. Alweer my sin vir regverdigheid wat hier praat. Abrie het gesê ek kan ‘n ander karakter aanneem… maar dis nogal moeilik.

                  Liked by 1 person

    1. Ons kan ‘n klub stig vir ma’s wat nie kan bedank nie. Net miskien praat ons mekaar moed in vir die lewenslange taak. Lewies sê nie verniet ma’s kannie bedank nie… they fade away 😊

      Like

    1. Sal so maak!!! Dink egter dit is ‘n onbegonne taak… net vanmiddag bel ons jongste dogter my om haar dogtertjie se praatjie vir my te lees. Ek moet dan met voorstelle kom hoe om dit te verbeter. Laat ons maar skouer aan die wiel sit, en voortbeur 😊

      Liked by 1 person

      1. Vreemd hoe die lewe is. Die een ma/ouma voel om ‘n langnaweek te neem, terwyl die ander ma/ouma na haar kinders smag en hoop n bid en wens dat haar kind haar weer sal vertrou soos wat hy vir 28 jaar van sy lewe gedoen het. ❤️

        Liked by 1 person

        1. Die lewe het nog nooit veel sin gemaak nie nê Toorts. 💜 Hy loop sy pad en as kind van God vertrou jy dat God Sy belofte sal waarmaak, en alles ten goede sal laat meewerk…. maar die seer van die pad is ‘n werklikheid.

          Like

  1. Ha ha wat n grap. Daar is nie neersgeskryfde reëls omdat daar dan nie terug verwys kan word na wat jy mag weet of nie. Ja jong, eenmaal n ma altyd n ma – veral as daar vrae is om te vra. (Ek gaan binnekort trek uit my plek na kinders se “ou” huis . Hul het ander plek gekoop!)

    Like

        1. Ek is bly ek kon op jou knoppie druk…. en jy is beskikbaar. Ons het net drie dae vir hierdie taak… dus by Saterdag moet jou blog op wees. Onthou net om te sê dis ‘n vervolg van taak 2. Dan kyk jy by Hester wat taak 3 is en nomineer iemand wat jy dink die taak sal kan verrig. Nou kan ek lekker slaap. En jy, sterkte met altwee huise se skoonmaak.

          Like

  2. Ek sit en wonder hoe ek hierop wil reageer, want wat ek vir jou sê, geld dan vir myself ook… Nee wat, Kameel, ons kan nog nie bedank nie. Hoe sal ons dit ooit regkry om stil te bly as die klompie begin rondskarrel! Ek vermoed ek gaan selfs vanuit die hemel my eier wil lê, waar dit my nageslag aanbetref. Dalk ń walkie-talkie saam opsmokkel… O ja, net so tussen jou en my. Indien ek eerste huis toe gaan, my oudste weet hoe om met jou in aanraking te kom as sy raad nodig het!😉 Wie sê mens kan nie uit die hemel bly regeer nie?😂

    Liked by 2 people

    1. ‘n Walkie-talkie nê???? Soos Marlé so paar jaar terug in trane uitgeroep het “Mamma kannie nou wil doodgaan nie, wie gaan dan vir ons bid!!” Nee Una, die dag as ek die hemel instap het ek klaar gepraat 😊 Sê gister vir die Here ek gesels nou al 40 jaar met Hom omtrent net oor ons familie. Daar by Hom gaan ek oor ander dinge gesels…. weet nog nie wat nie…. maar ander dinge. Miskien gesels ek net met Hom…. oor Hom en sy Majesteit!!! So tussen ons…. ek het toe nie alle kennis in pag nie, maar jou dogter is meer dan welkom 😄😄😄

      Liked by 1 person

    1. Dis so waar perdebytjie. ‘n Persoon in ons kerk wat op sy dae ‘n baie prominênte posisie beklee het, het eendag dit so mooi vir my gestel. Ons is soos die son…. ons lig begin al helderder skyn totdat dit sy “peak” bereik… en dan begin dit weer stelselmatig verdof.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Kameel Kanselleer antwoord