Om linkshandiges regs te probeer leer

Daar is mense wat dink hul doen linkshandiges ‘n guns om hul sekere take regsom te laat doen. Of dalk doen hul dit vir die snaaksigheid, of hul dink hul weet beter.

My skoonma is onder dwang geleer om regs te skryf, regs te brei, wat nog alles. Sy vertel dit steeds hoe sy maar later oorgegee het en die juffrou haar sin te gee hierin.

My oom het vir die snaaksigheid vir my laat regs eet. Kom ons kyk of jy dit kan regkry. Ek is só spyt daaroor, ek sukkel steeds om sekere kos te sny omdat my regterhand net nie soveel krag in het nie.

Ek het self besluit om eerder regsom kitaar te leer speel omdat ek dan enige kitaar sou kon optel en speel. Wat ‘n dom besluit, ek het myself só gekortwiek, omdat my regterhand net nie ritmiesgewys kan doen wat my linkerhand doen nie.

‘n Tannie vertel my hoe sy kinders leer brei het, en linkshandiges se koppe het sy gou geswaai, sê sy. Ek wou ontplof toe ek dit hoor.

Wie dink ons is ons om enige persoon teen sy eie natuur in verkeerdom te gaan dwing? Kom ons dwing gou al die regshandiges om vir die snaaksigheid linksom te eet, te brei, te skryf, te alles. Dis mos bloot onregverdig en onregdenkend om so iets te doen. Hoekom dink mense dan hul kan dit met linkshandiges doen? Wié dink hulle, is hulle?

Linkshandiges word gebore in ‘n regsom wêreld, maar ek glo dat linkshandiges gebore word met die vermoë om te kan regkom in ‘n regshandige wêreld. Dis ánder mense se persepsies wat veroorsaak dat linkshandiges swaarder kry was wat hulle moet.

Dis vir ‘n linkshandige maklik om iets by ‘n regshandige te leer en uit nature die ding linksom te doen. Ek het leer hekel, leer brei, leer alles by regshandiges en dit was nie vir my vreemd om dit reg te doen nie, net linksom.

Netso het ek vir my regshandige kinders hoeveel vaardighede met my linkerhand geleer, en hulle doen dit regsom.

Onder geen omstandighede moet ons probeer om iemand met sy swakker hand dinge te laat leer nie, behalwe natuurlik as sy sterk hand seergekry het.

Behalwe dat ons die persoon eintlik verswak deur hom verkeerdom te leer, dink ek dat ‘n mens sy aanpasbaarheid ook aantas.

Nou ja, lekker dag! En terloops, hierdie hele stuk is met my linkervoorvinger op my selfoon getik.

Groetnis

Toortsie

26 thoughts on “Om linkshandiges regs te probeer leer

  1. Toortsie, ek is ook links, en gelukkig het my ma-hulle nooit daaraan ge-karring nie. In hierdie moslem wêreld van Indonesië is dit egter ń probleem…jou linkerhand word uitsluitlik vir jou ablusie-maniere gebruik… Dis nie ń ‘goeie’ hand nie.🙈🙈🙈

    Liked by 2 people

  2. Ons linksom seun het toe hy klein was agter sy swartbord gaan staan en van bo-af geteken. Sy boeke is ook onderstbo gedraai. Dit was vir my heel fassinerend. Daar is vir ons ‘n raaisel in ons huis. Die drie jongste dogters (aldrie regs) eet met hulle vurke in hulle regterhand…. dus verkeerdom. Ons het dit eers opgelet toe hulle klaar groot was. Al wat ek kan dink is dat in die besige huishouding hulle dit by mekaar aangeleer het. Die drie kleintjies (soos hulle genoem was) het by ‘n aparte klein tafel en stoeltjies gesit en eet voordat hulle groottafel toe verskuif is.
    Solank jy nou nie altyd links van die regering wil wees nie… geniet jou linksom lewe 😊

    Like

  3. Jou linkervoorvinger kan goed skryf en spel – ek is beïndruk. Ek het al baie gewonder hoe linkshandiges oor die weg kom met gereedskap en implemente wat duidelik vir regshandiges bedoel is, maar dit klink vir my die brein en die hand pas aan.

    Like

          1. Lag ek nou, want ek weet net wat jy meen oor daai selfoon besigheid. My groot probleem is ‘n “regs-handige” skêr. En kan nie reguit sny nie, kom wat wil. Maar moet sê, kan my vreeslik irriteer as ek sukkel met my hot-klou en mense vat goed uit my hande uit want wat ek doen maak nie vir hulle sin nie, probeer jy nou ‘n stuk biltong met ‘n knipmes sny en kyk hoe spring almal oor jy na jou toe sny. Dink ek begin dit nou laat gaan, maak vir baie mense nie sin hoe jy goed in jou kop moet “omdraai” om sin te maak nie, seker maar soos hier, dink in die een taal en skryf in die ander, voel net of mens die hele tyd moet engines aan die gang hou.

            Like

            1. ‘n Sker werk solank hy nie ‘n skewe duimgaatjie het nie. ‘n Sker met ‘n ‘regs’ duimgat is onmoontlik om te gebruik. En dan lê ‘n sker se lemme mos verkeerdom, ek moet heeltemal bo-oor buk om te kan sien waar ek knip! Dís dalk die oorsaak vir my swak rug! 😂

              Liked by 1 person

  4. Ek dink die regses (waarvan ek een is), is te dom om die linkses te kan leer. My arme linkse dogter moes maar net regs sny want ek kon net nie die sker met my linkerklou bemeester het nie.
    Hulle sê mense wat links is, is meer kreatief en kyk dan nou hoeveel van die b(l)oggers is links

    Like

Gesels saam, asseblief!