Die vingerafdruk in die verhaal

Ons word mos kleintyd geleer dat elke persoon se vingerafdruk uniek is, maar ons word nie geleer dat vingerafdrukke kan verdwyn of beskadig nie.

Toortsie se vingerafdrukke beteken ‘n ronde nul en na aanleiding van ‘n gesprek op Faceboek, wil ek dink dat dit onder ons blogmaats meer voorkom as wat ek sou dink. Dalk het ons ons hande deurgewerk, of stukkend kitaar gespeel, of opgeblog! Wie weet? Dis tog interessant dat my man, wat baie harde fisiese werk met sy hande gedoen het, se vingerafdrukke steeds perfek is. Dis nou te sê, as hulle sy vingerafdrukke geneem kan kry. Sy hande is effens kromgetrek deur Artritis.

So, elke keer wat hierdie ewige toeris oorsee wil gaan, kom hier so ‘n onrustigheidjie oor my. Ook as ek by ‘n bank moet instap, want dan kom die groot woord ter sprake: Vingerafdrukke. En Toortsie hét nie so iets nie. Of eerder, hulle voel Toortsie se vingerafdrukke is nie op standaard nie.

(Ek ontmoet so ‘n rukkie ‘n belangrike, statige, dame. Haar man het by die vingerafdrukafdeling in die staatsdiens gewerk. Volgens haar is dit totaal onmoontlik dat iemand nie ‘n vingerafdruk kan hê nie. Toortsie droom duidelik al weer!)

Toe wil ons Amerika toe en almal waarsku ons: Húlle is erg!

Ek en pappa gaan vir ons visumafspraak, met arms vol dokumente soos op die lysie deurgegee. Wat is die eerste versoek? Vingerafdrukke, natuurlik, hoe dan anders.

Eers Toortsie, maar sy het niks om te wys nie. Toe Toortsie se man, maar hy kry nie sy hand platgedruk om die handafdruk te neem nie. Hulle sê, ons kan maar deurgaan, ons visa sal oor 2 dae gereed wees en vra vir ons nie eers een van die lang lys dokumente nie!

Hul het seker besef hierdie ou boertjie en sy vrou is onskadelik!

Groetnis

Toortsie

Dit was lank gelede.

Toortsie by Finesse: Ek wou so graag groot dinge vir die Here doen.

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

86 thoughts on “Die vingerafdruk in die verhaal

  1. Dan kan jy nou ‘n lekker “crime” beplan siende dat hulle nie jou vingeragdrukke kan neem nie. Die plek… daardie ou murasie op Abrie se blog. Dis idiaal want as daar getuienisse is gaan hulle oë hulle verblind en hulle gaan teen mekaar praat. Bly weg van die skoorsteen, jy wil nie al gillende die bultjie afhardloop met ‘n klomp perdebye agter jou aan nie. Moenie vir Una by jou komplot betrek nie, sy gaan Bali toe en sal nie beskikbaar wees nie. Bly ook weg van Tina af… sy gaan jou ‘n pil injaag om jou tot besinning te bring. Woestynkind ook nie ‘n goeie keuse nie… as dinge tense begin rask haal sy wyn uit… en julle gaan nie tyd hê vir ‘n wyndrinkery nie. Ekmyself… mmmm…miskien, maar dan moet jy seker maak jou selfoon is af. Net miskien bel iemand en die oomblik as sy musiek hoor begin sy dans. Scrapy sou uitstekend gewerk het… maar helaas sy bly te vêr. Wegkruipertjie se hart sal nie in die saak wees nie… haar hart is op ‘n ander plek. Perdebytjie sal nie sonder haar kamera wil gaan nie… en jy wil nie fotos op die crime scene geneem hê nie. (Sy sal daardie ou skoorsteen vol perdebye wil afneem). Dan bly daar net Hester oor!!! Ja Hester sal idiaal wees as jou crime partner solank jy net nie stoepitgeit aanvang nie!!! Hou my op hoogte hoe julle vorder 😊

    Liked by 2 people

    1. Lekker plan gee jy my nou! Seegogga sal my ook help en, terloops, wie sê vir jou Una is regtig Bali toe, mmm?
      En wat laat jou dink ‘n bietjie rooi wyn en musiek en dans kan nie die situasie bevorder nie? 😁
      Die probleem is egter dat almal my sal verdink oor my gebrek aan vingerafdrukke!

      Liked by 2 people

  2. Hier sit ek in die lughawe sitkamer en lag vir julle! Ek hou van hierdie idee…maar Toortsie, die beplanning is belangrik jong! Onthou, my geheue is nie altyd goed nie, so as ek nou undercover moet terug sluip S.A. toe, moet een van julle my iewers kom haal vir die geleentheid. Geleentheid menende ons crime. Kameel is super slim. Niemand, maar niemand gaan ons verdink nie!!!

    Liked by 1 person

                    1. Arme onskuldige ek, ek mag miskien dieselfde haarstyl as nommer 1 he maar ek ontken summier dat ek bevriend is met die Guptas.

                      Ek moes na myself geluister het en my hand nie aan fiksie gewaag het nie kyk hoe in die sop is ek nou. Kan mens ‘n vyl in sop sit? Maak dit ‘n dik donker sop.

                      Liked by 2 people

                  1. Ek voel ook so. Ek weet hy het hier gelees, maar ek het nou ‘n klag gaan lê daar by hom oor die chaos wat hy hier op ons blog kom veroorsaak het, en wie moet nou skoonmaak agter hom?
                    Wat ek wel sien, is die herlewing van blogspeletjies, en dít maak my opgewonde.

                    Liked by 2 people

  3. Ek het ‘n voorstel! Abrie weet presies wat by die murasie aangaan – laat hy beskryf watter soort crime daar gepleeg kan word om ons almal ryk te maak. Dan kan hy vir Perdebytjie tag om met die beplanning te begin. Bytjie tag vir Toortsie sodat sy kan besluit watter blogger welke taak moet uitvoer. Toortsie tag vir die eerste persoon wat ‘n taak moet afhandel (Kameel!). Elkeen wat wil deelneem moet ‘n taak kry en binne drie dae die blog plaas om te sê wat gedoen is. Sodra jou taak afgehandel is, tag jy die volgende persoon. Elke blogger skryf sy deel van die vervolverhaal op sy eie blog (±500 woorde). Sodra Abrie die woord gee, sal ek ‘n “event” oopmaak op InLinkz en elke blogger las sy skakel by soos wat sy taak voltooi word. Dan het ons die vervolgverhaal in mooi chronologiese volgorde bymekaar, maar elke blogger se blog kry blootstelling, want almal moet by mekaar lees, aanmoedig en raad gee (of uitskel). Almal wat wil deelneem moet sy duim kom wys hier. Ek stel voor dat Storieklong deurlopend ‘n oog hou en kommentaar lewer op die suksesse en mislukkings, sodat ons aanpassings kan maak in die plan waar nodig.

    Liked by 2 people

    1. Geeftag neeftag of is dit nou nigtag. Mense sonder vingerafdrukke – dit klink ernstig verdag.
      Ek daarenteen het vigerafdukke wat selfs duidellik is in water en boonop ‘n volronde hoofafdruk en los orals DNA soos ek my nie-beskermende hoof op plekke stukkend kap. Klink vir my of die bewyse teem my gaan draai. Ten minste het ek nie ‘n polisierekord nie, soos die mense wat hulle vingerafdrukke uitgewis het…

      Liked by 2 people

    1. So jou ma kan ook aan ons crime storie deelneem. As jy nie verstaan nie…. dis alles in die kommentare saamgevat. Kry julle nie vreeslik warm daar doer bo in Afrika nie?

      Liked by 2 people

      1. Hie hie ek het die deel oor iets krimineel aanvang gelees 🙂 Dis plak warm hierso, 07:30am is dit reeds 28 grade en dis soos somer weer in Durban. Plakwarm. Vergeet van sybloesies dra en hou by katoen onderklere. Vandag net onder veertig grade in die mouter gedraai. Selfs al reën dit, is die reënwater warm.

        Liked by 2 people

  4. Verstaan ek nou heeltemal! Die een en enigste maal wat die uwe oorsee is, was die besoek aan die Italiaanse ambassade nogal ‘n toets. Eers het my ore nie gewys op die foto nie, en moes ek terug na die fotohokkie. En toe die liewe vingerafdrukke. Dit was ‘n gespook van ‘n ander wêreld om uiteindelik die vereiste aantal duidelike afdrukke te kry. So hittete of ek het daardie toetsie nie geslaag nie!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!