Liefdadigheid

Oee, hier moet die Toortsie mooi trap vandag. Die nood in ons land is regtig groot en ek glo dat daar baie mense is met oop hande en harte wat graag wil help.

Tog is daar goedjies wat mense met oop hande se handjies laat toeknyp. Twee daarvan is ondankbaarheid en gulsigheid. Ek glo daar is baie meer maniere.

Wanneer ‘n fondswerwer of sommer net ‘n persoon agterkom dat iemand ‘n oop hart het, mag hul in die strik trap om keer op keer vir daardie persoon te nader vir skenkings. Eers gee die persoon met graagte, maar wanneer hy begin voel of daar darem nou net té gereeld op sy nommer gedruk word, begin hy benoud voel.

Die ding is, baie van hierdie goedhartige persone gee vir meer as een organisasie en as een spesifieke organisasie herhaaldelik begin vra, moet hy ‘n ander een, wat hy net so graag wil help, afskeep.

Wat ook ‘n skenker gou die hasepad laat vat, as hy agterkom hy word gemanipuleer om meer en meer te gee. Jy help ‘n persoon uit die goedheid van jou hart, en dan begin die persoon kyk hoeveel hy nog uit jou kan druk. Bietjie vir bietjie, al meer en meer. En die skenker raak stadig maar seker meer ongemaklik totdat die tamatie wat so gedruk word, oopbars.

Ondankbaarheid is ‘n gevaarlike een, as jy nou al so gemanipuleer is om te gee en te gee, dat dit wat gegee word nou ook nie meer na die ontvanger se sin is nie. Natuurlik kan goed wat onbruikbaar is, nie met opregte dank ontvang word nie, maar waar blatante ondankbaarheid ter sprake kom, vlug die gewer met die goeie hart. Die ding is, hier is net so baie nood in die land, daar is genoeg ander wat dit met vreugde sal ontvang.

Ja, elke persoon wil anders hanteer word en wat vir die een werk, werk nie vir die ander een nie. Maar laat ons altyd bedag wees op ons motiewe en maniere.

Groetnis

Toortsie

13 thoughts on “Liefdadigheid

  1. ‘n Mens gaan altyd die opreg dankbares kry, en dié bloedsuiers wat jou sal leegsuig as hulle kan. ‘n Mens het werklik onderskeidings vermoë nodig wanneer dit by gee kom.

    Liked by 1 person

  2. Dis waar. ‘n Mens help graag waneer daar nood is, maar wanneer die organisasie waarvoor jy werk al hoe meer verantwoordelikheid op jou skouers begin aflaai, is dit tyd om ‘n bietjie terug te tree. Liefdadigheid teenoor jou eie gesin (jou tyd, liefde, ondersteuning en ‘n bord kos op sy tyd) is ook belangrik.

    Liked by 1 person

    1. Ja en my storie gaan oor iemand vir wie ek 2 winkelsakke vol groente uit ons tuin gegee het en sy sê toe ek het nie vir haar kos gegee nie, dis dan rou! 😱 Genade! Net soos, ek is moeg vir brood. Onthou om volgende keer steak en chips te gee. 😂

      Liked by 1 person

  3. Ek skenk jare al vir drie groot organisasies, maar gaan nou my bande verbreek met al drie. Hulle dagboeke word al hoe deftiger en dis muurplakkate en lessenaaralmanakke. My gesonde verstand sê die goed kos baie geld en daar is baie mense wat daar werk om die admin te doen. Hoeveel geld kom regtig by die eindpunt uit? Dis nou nie heeltemal waaroor jy geskryf het nie, maar dit kom ook daarop neer dat mens met ‘n suikerpilletjie om die bos gelei word.

    Like

    1. Daar is deesdae firmas wat baie geld betaal word om vir organisasies te “bedel”. Jou donasie betaal hulle salaris. ( dis nes die tolhekke se geld wat vir die tollenaars gaan ipv die herstel van die paaie)

      Liked by 2 people

        1. Jajaaa. Wat my de vieste in maak, is elke jaar lê daar in executive dagboek voor my verswakte, bejaarde ma se bed. Ek het hul al gebel en gesê hul moet dit stop, maar helaas. Hul bel haar op haar telefoon, sy verstaan nie waaroor dit gaan nie en sê ja en dan moet die rekening betaal word, alles in die naam van liefdadigheid. 😟

          Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!