Lê jou eier oor politieke korrektheid

Hierdie week het Hester nou sowaar ‘n taaie toffie uit die hoed geruk: Politieke korrektheid.

Sjoe! Mens moet behoorlik op jou tone loop om nie iewers op iemand se tone te trap nie en die tone lê die wêreld vol om getrap te wil wees, want as hulle getrap word, kan daar mos ‘n bohaai van gemaak word. Die probleem en frustrasie vir baie van ons is dat die reëls nie weerskante toe dieselfde werk nie. Dis egter ons keuse hoe ons dit hanteer as die dominoe verkeerd in ons rigting val.

Wat my opval, is dat diegene wat die hardste op hulle regte aandring, nie ander se regte in ag neem nie. Diegene wat die hardste daarop aandring dat ‘almal nie dinge dieselfde doen nie’, vergeet dat die ander persoon óók dinge anders doen. Die persoon wat die hardste aandring daarop om sy hart uit te praat en te noem wat hom pla en waar hy te ná gekom is, kan dit nie hanteer as die ander persoon dan daardie selfde voorreg wil toepas en ook sê wat hom pla nie.

Ek ervaar ‘n klomp onvergewensgesindheid, selfsug, onvolwassenheid, tekort aan insig, liefdeloosheid as ek na die wêreld om my kyk. Mense verstaan mekaar verkeerd omdat hulleself dalk met ‘issues’ rondloop. Niksbedoelde goedhartigheid word, om watter rede ook al, omgedraai na iets groots en leliks.

Daarom is my uitgangspunt deurgaans, met wie ek ook al te doen het: Hanteer die persoon met die respek wat ek hanteer wil wees en in liefde. Wanneer ‘n persoon voel ek het hom te ná gekom en dit vir my noem, sal ek probeer verduidelik wat my intensies was. Sou die persoon nie wil luister nie, is dit nie my probleem nie, maar syne wat hy maar in sy hart moet loop regstel. Ek probeer om nie woorde en tale te gebruik wat ek weet ander mense sal seermaak nie.

Tog het ek steeds my baie sterk mening oor sekere dinge en sal ek dit vir jou sê as jy my daarom vra. Sekere goed is vir my ononderhandelbaar en baie keer sal ek nie kan stilbly waar iets bespreek of gedoen word wat totaal teen my grein is nie.

Ek dink, mens kan so hard probeer as jy wil om politiek korrek op te tree, op tone sal jy trap, of jy wil of nie. Maar respek, respek, respek maak baie dinge reg. Ook nie altyd nie.

Wel, Toortsie is maar lief daarvoor om in die sop te wees.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Ek wou so graag groot dinge vir die Here doen.

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=762615

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

22 thoughts on “Lê jou eier oor politieke korrektheid

  1. Weet jy mense verskil baie. Ek ondersteun jou siening en manier van polities korrek. Dis nogal n belewenis om in n geheel ander land met ander sienings en menings te doen te kry. Een vriendin het onder andere vir my gesê Suid Afrikaners kan baie “blunt” wees. Soek toe gou woord op en ghmpf! wat dink die spul hier van hulself? Hul is maar dieselfde as dit by hul eie kultuur en maniere kom. Lag so lekker in my binneste vir die dubbele standaarde wat hier uitgeleef word. Dan wil hul nogal vir jou vertel wat fout is met ons(dis nou my eie SA) sienswyses.

    Liked by 3 people

  2. Goed gestel Toorts. Die lewe was net nooit so gekompliseerd nie…. wat het met die mensdom gebeur?
    Moet net sê ek lees “Dis egter ons keuse hoe ons dit hanteer as die dominIE verkeerd in ons rigting val.” 😀😀😀😀

    Like

      1. Hier is vir jou ‘n klassieke voorbeeld van misverstand. Ek het dit gesnap toe ek dit die tweede keer oorgelees het. Ek deel.dit met jou want die prentjie van die vallende dominee wat ek eers gelees het is vir my snaaks. Jy neem aan ek verstaan dit nogsteeds as dominee…. en verduidelik vir my jy praat van dominoes wat omval. Dis so maklik soos misverstande tussen mense ontstaan. Was ek nou fyngevoelig kon ek my nou gewip het en hierdie ding uit preporsie geruk het. Enige situasie is ontvlambaar… sug…. 😯

        Like

    1. Hoe snaaks is ons? Stel jou voor: ‘n Lang ry dominees, almal on swart manelpakke wat in ‘n reguit ry staan, handjies langs die sye. Skielik val die agterste een om, en so insy val, tip hy die een voor hom om, en die volgende een, en die volgende een. Maar regtig, persoonlik dink ek dit sal beter werk met dominoes.

      Like

Gesels saam, asseblief!