Een lewe, leef!

Ons jaartema by die kerk is vanjaar: Een lewe, leef. Wat ‘n wonderlike tema, een waarin ek regtig glo en waaroor ek ook al baie geskryf het en nog baie gaan skryf in die toekoms ook, glo ek.

Soos ek reeds verlede week geskryf het, het ons die keuse of ons die lewe wat ons gegee word, gaan leef, en of ons gaan sit en mor en por en die lewe, en dit wat ons aangebied word, by ons gaan laat verbygaan. Leef jou lewe voluit deur bo jou omstandighede uit te styg. Lewe, ten spyte van omstandighede wat dalk nie so gemaklik is nie.

En ek dink by myself: ‘Hoe doen ‘n mens dit?’

Deur daardie eerste ‘anderse’ tree te gee. Deur daardie eerste besluit om te waag en net een treetjie effens anders neer te sit as jou normale sleur van die lewe. Deur die besluit in jou kop te maak dat jy tot beter in staat is en dinge dalk anders te begin doen.

Dit verander gewoonlik nie oornag nie. Dis nie sommer enige mens wat oornag ‘n totale ommeswaai maak nie. Maar deur iets kleins anders te begin doen en dan die volgende een en nog een … begin jy ‘n pad van oorwinning te stap en voor jy jou kom kry, het jy ‘n daadwerklike verskil in jou lewe en dalk ook in dié rondom jou, gemaak.

Om die dominee aan te haal, ‘Leef voluit deur ander te seën.’ Waag dit buite jou gemaksone. Sê of doen vir jou huweliksmaat iets goeds. Seën jou kind. Gee vir iemand iets om hom of haar te seën. Help iemand om sy/haar lewe makliker te maak.

Leef! Ons het net een lewe, laat ons leef!

Waag dit!

Toortsie

12 thoughts on “Een lewe, leef!

    1. Dis regtig ‘n goeie boek en as dit soms voel of hy te vinnig vorder, ek het so gevoel, gee ‘n blaaskansie dat jy net ‘n bietjie kan verwerk wat reeds behandel is. Vir my was daar ‘n hele klomp nuwe gedagtes. 😁 Ek hoop regtig jy geniet hom.

      Like

Gesels saam, asseblief!